andy_newson
Gesondheidstories

‘n Maerder jy – 10 voordele

1. Paai pynlike gewrigte
Vir elke sowat 5 kg wat jy afskud, verklein jou kanse op knie-osteoartritis met meer as 50%, is in een studie bevind. Osteoartritis (OA) veroorsaak dat jou gewrigsbene en -kraakbeen afslyt. Oorgewig vroue se kans op knie-osteoartritis is vier keer en oorgewig mans s’n vyf keer groter as mense by optimale liggaamsgewig s’n. As jy
net sowat 4,5 kg oorgewig is, is die drukking op jou knie sowat 13 kg tot 27 kg méér met elke tree wat jy gee. Só berig die Johns Hopkins artritissentrum in Amerika.
Bron: www.hopkins-arthritis.org

Ons kenner sê
Dr. Claudia Ickinger, ‘n rumatoloog van Johannesburg, beklemtoon hoe belangrik dit is om gewig te verloor. “As jy oorgewig is, dra dit by tot die ontwikkeling en verloop van OA, veral in gewigdraende gewrigte soos jou knieë. Jou risiko vergroot verder as jy boonop diabetes, hoë bloeddruk of hoë bloedcholesterol het.” Volgens haar is OA ook pynliker as jy swaarder is en daar dus meer drukking op jou gewrigte is. Jy moet net sowat 10% van jou liggaamsgewig verloor om die aangetaste gewrig se werking met tot 28% te verbeter. (As jy 80 kg weeg, is dit 8 kg.) So moeilik soos wat dit is om gewig af te skud, so eenvoudig is die beginsels daaragter, sê sy:

  • Eet kleiner porsies
  • Eet minder vet en suiker
  • Eet meer vrugte en groente
  • Kry meer oefening

Besoek die Suid-Afrikaanse Artritisstigting se webblad: www.arthritis.org.za

Is jy oorgewig?

Bepaal jou liggaamsmassaindeks (LMI): die verhouding tussen jou gewig en jou lengte. Deel joumassa (in kg) deur die kwadraat van jou lengte (in meter). Voorbeeld: As jy 1,66 m lank is en
52 kg weeg, is jou LMI 18,9. Tussen 20 en 25 is gesond, tussen 25 en 30 is oorgewig en hoër as 30 word as erg vetsugtig beskou.

 

2. Slaap sagter
Verloor net sowat 10% van jou gewig. As jy oorgewig is, kan jy slaap-apnee só troef en rustiger slaap. Slaap-apnee is ‘n siekte-toestand waar jy kort rukkies snags ophou asemhaal. Bedags sukkel jy dan om te konsentreer, jy is slaperig en kan selfs hartsiektes ontwikkel. En jy weet waarskynlik nie eens jy ly daaraan nie. Jou risiko vir slaap-apnee is groter as jy oorgewig is. Daar word dan meer vet rondom jou nek geberg. Dit verklein die lugweë en jy kan moeiliker of luid asemhaal (snork) – of selfs vir rukkies heeltemal ophou! Dis egter vir party mense makliker om gewig te verloor as hul slaap-apnee eers behandel is, want as jy onrustig slaap, kan dit jou brein se seine deurmekaarkrap. Jou brein kan dan sukkel om te besluit of jy honger of versadig is. Jy is dus geneig om te veel te eet en nog meer gewig aan te sit.

3. Voeg jare en gehalte by jou lewe
As jy so min as 5% van jou liggaamsgewig verloor, kan dit jou kans op verskeie leefwyse-siektes verklein. Dis onder meer hartsiektes en tipe diabetes, sê dr. Riekie Smit, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Estetiese en Teenverouderingmedisyne (AAMSSA). (Weeg jy dus 90 kg, moet jy sowat 4,5 kg verloor.) Dit verminder ook rugpyn en verlaag bloeddruk, vergroot jou long-volume en verbeter spierbeheer en -sterkte jou energievlakke. En natuurlik jou selfbeeld, sê sy. Daardie rolletjies kan jou boonop voor jou tyd oud maak. Dit kan chromosoom-veranderings veroorsaak wat die verouderingsproses versnel, volgens ‘n studie deur die Amerikaanse National Institute of Environmental Health Sciences. As jou gewig egter jou lewe lank gesond was (sien “Is jy oorgewig?” hierby), is die kanse daarvoor kleiner. Bron: www.news-medical.net

4. Kikker jou sekslewe op

Studies wys tot 30% van oorgewig mense het seksuele probleme (www.webmd.com). Ja, deels omdat jy glo vet is nie sexy nie en selfbewus oor jou lyf voel, maar dis nie die hele storie nie. Nuwe navorsing wys siekte-toestande wat met vetsug gepaardgaan, kan jou seksdrang beïnvloed. Hoë cholesterolvlakke en insulienweerstandigheid (‘n vroeë waarskuwing van tipe 2-diabetes) kan ‘n uitwerking op jou seksuele vermoëns hê. Dit veroorsaak dat klein aartjies in die man se penis afsluit. Die gevolg is dikwels probleme met ‘n ereksie, selfs impotensie. Navorsing wys dit kan ook vroue se seksdrang laat kwyn, want die bloedvate na jou klitoris word soortgelyk geraak. As jy gewig aansit, styg die vlakke van ‘n chemiese stof wat met testosteroon bind. Hoe meer testosteroon só gebind word, hoe minder is daar om jou begeerte aan te blaas. Dit geld vir mans én vroue. Maar as jy so min as 5 kg verloor, stimuleer dit testosteroon – jou sekslewe kry nuwe woema. En nóg beter nuus: Meer laevetkosse en baie groente en vrugte om cholesterol en bloedsuiker onder beheer te kry kan jou sekslewe nuwe oemf gee selfs al verloor jy nié gewig nie.
Ons kenner sê
Wéét wat is jou bloeddruk, cholesterol- en bloedsuikervlakke en of jou skildklier reg werk, sê dr. Eve, seksterapeut van Kaapstad. Jy pak dalk die skuld vir jou gewigprobleem op jou gebrek aan wilskrag, maar besef nie dit kan dui op ‘n chroniese siekte nie (diabetes, byvoorbeeld). As jy bó 45 is en simptome van die menopouse toon, moet jy jou sekshormone laat toets. Lae vlakke van dié hormone kan ook jou gewig laat toeneem.

 

5. Kry minder hoofpyn
Verloor gewig en jy raak ook ontslae van jou chroniese hoofpyn. Só sê navorsers aan die Albert Einstein College of Medicine in New York. In ‘n studie onder 31 000 volwassenes het 5,2% van vetsugtige deelnemers meer as 15 hoofpyne per maand gekry teenoor 4,1% van die mense wie se gewig gesond is. Die meeste hoofpyne word verbind met bloedvate wat saamtrek. Dit kan veroorsaak word deur hoë bloedvlakke van inflammatoriese stowwe – ‘n bekende newe-effek van vetsug, sê die navorsers. Bron: www.prevention.com

Ons kenner sê
Spierspanning is nog ‘n hoofoorsaak van hoofpyne en migraine, sê dr. Elliot Shevel, bestuurder van The Headache Clinic en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Hoofpyn. ‘n Swak liggaamshouding of postuur kan dít vererger. As jou gewig toeneem, moet die spiere wat vir jou liggaamshouding verantwoordelik is, veel harder werk. Hulle is dan meer geneig om in ‘n pynlike spasma te gaan.

6. Om beter te kan sien
Ooreet en jy gaan nie na jouself in die spieël wíl kyk nie. Trouens, jy gaan dalk nie meer so goed kán kyk nie! Volgens ‘n Israeliese studie vergroot vetsug jou risiko om blind te word. Die navorsers het twintig studies ontleed wat dwarsoor die wêreld gedoen is. Daar was ‘n sterk verband tussen vetsug en die ontwikkeling van al vier hoofoogsiektes wat blindheid veroorsaak:
Katarakte Jou kans daarvoor is die helfte kleiner as jou gewig gesond is.
Gloukoom, ‘n groep siektes wat die optiese senuwee kan beskadig.
Ouderdomsverwante makulêre degenerasie Dit verdof skerp, sentrale visie.
Diabetiese retinopatie, ‘n komplikasie van diabetes Dit beskadig klein bloedvate in jou retina, en vetsug vergroot jou kans op tipe 2-diabetes.
Bron: www.worldhealth.net

Sorg goed vir jou oë. Volg ‘n dieet met min versadigde vet en baie groen blaargroente (soos spinasie en broccoli). Lemoene, neute, sade en olierige vis kan ook sekere oogsiektes help voorkom of vertraag, sê die Royal National Institute for the Blind (www.rnib.org.uk).

7. Speel klaar met sooibrand
Gedurige sooibrand? Jy hoef so min as 3 tot 5 kg te verloor om van die brandgevoel in jou keel ontslae te raak. Oortollige rolletjies en sooibrand loop hand aan hand, sê www.webmd.com.
Ons kenner sê
Vet wat op jou maag saampak, stoot suur maaginhoud deur jou diafragma in jou slukderm op en veroorsaak sooibrand, sê dr. Dawie van Velden, dokter en gesondheidskrywer van Stellenbosch. Maagvet skei boonop gifstowwe af wat bloedvate kan beskadig en hartsiektes kan veroorsaak. Jy moet hemel en aarde versit om oortollige gewig om jou middellyf te verloor: Dis een van die tekens van metaboliese sindroom – vetsug, hoë bloeddruk, hoë cholesterol en insulienweerstandigheid sáám – wat jou kanse op ‘n hartaanval kan verhoog.

8 Bittere galstene

Is jy oorgewig kry jy makliker galstene. Maar ook as jy te vinnig gewig verloor (meer as 1,5 kg per week). Skud daarom die vetjies stadig af (½ tot 1 kg per week). Galstene is ‘n harde massa wat in jou galblaas vorm. Dit bestaan uit cholesterol en kan jou ‘n skerp pyn op jou maag gee, veral as jy vetterige kosse eet.
Bron: http://win.niddk.nih.gov

Ons kenner sê

Dit ís bewys dat dit sleg is om gewig wat jy oor jare aangesit het té vinnig te verloor, beaam dr. Dawie van Velden. Nie net sit die meeste mense die gewig dan weer aan nie, maar daar is mediese redes, soos galstene weens die hoër konsentrasie afvalprodukte wat in jou gal uitgeskei word wanneer jy gewig verloor.

 

9 Die swaar depressie
As jy vetsugtig is, is jy meer geneig tot depressie. Moontlike redes: Vetsugtige mense ervaar hulself as ongesond en is ontevrede met hoe hulle lyk. Dis dalk waarom hulle makliker depressief raak. Daar is fisiologiese veranderinge in jou hormoon- en immuunstelsel wat met depressie saamgaan. Dit kan jou gewig laat aansit. As jy depressief is, sukkel jy boonop om mooi na jouself te kyk: Jy kan jou ooreet en jy voel negatief. Bron: www.sciencenews.org
Ons kenner sê
Volgens dr. Franco Colin, ‘n psigiater van Pretoria, veroorsaak depressie gewoonlik dat jy jou eetlus verloor. Daar is egter ‘n variant van depressie wat jou eetlus laat toeneem – jy sal dus gewig aansit. As jy depressief is, oefen jy ook minder. Sekere antidepressante kan jou boonop laat gewig aansit (maar ander kan jou gewig laat verloor).

10 Beskerm jou brein
Om in jou middeljare vetsugtig te wees, kan jou risiko vir demensie met tot 74% vergroot. Só wys ‘n studie in die British Medical Journal (www.bmj.com). Die navorsers waarsku dat die vetsug-epidemie in die toekoms tot ‘n ontploffing van demensie kan lei. Hulle glo vetsug kan jou kans op demensie verhoog: Óf weens ‘n direkte uitwerking op die brein, óf omdat dit verbind word met mediese toestande wat beslis jou risiko vir demensie verhoog, soos hartsiektes en diabetes. Verder wys ‘n Sweedse studie hoe hoër jou liggaamsmassa-indeks (LMI, BMI in Engels) is (sien “Is jy oorgewig?” hierbo), hoe groter is jou kans om breinweefsel te verloor, en dís een van die eerste tekens dat jy moontlik demensie gaan ontwikkel. Bron: www.bbc.co.uk

Kontak

Elliot Shevel 0861 678 911, www.headacheclinic.co.za
AAMSSA: Mareli van Rensburg,
012 548 6374, mareli@ackmain.com
Dr. Eve: dreve@worldonline.co.za, www.dreve.co.za

 

  • nicolien strydom nel

    ek sikkel ook om gewig te virloor… wil graag bertha se dieet prog he asb wil ook mooi lyk maar sikkel vreeslik a.g.v sikkel ek om kiders te kry

  • San-Mari Oosthuizen

    Ek is n 24 jarige dame wat sukkel om gewig te verloor en tans sieklik is met galstenne…. Sal baie graag Bertha se dieet wil he en volg…. Ek voel nie mooi genoeg vir my ou nie en wil baie graag ook die lyf he waarna hy en sy vriende kyk…..

  • Charlene

    Hi ek sal graag wil weet waar kan ek di Dr. Claudia Ickinger, ‘n rumatoloog van Johannesburg