Gesondheidstories

Nuwe asem vir ‘n nuwe lewe

Dit kan boonop angs, depressie, prikkelbaarheid, spierspanning en moegheid verminder. Ook jou bloeddruk verlaag, jou hartklop laat bedaar, jou minder laat sweet en in koue weer selfs jou hande en voete warm maak.

Jou asem, ja! Want daar is ’n verband tussen hoe jy asemhaal en jou emosies. As jy skrik, snak jy na jou asem. As jy opgewonde is, haal jy vinnig en vlak asem.

Dit werk ook andersom:
Haal jy reg asem, raak jy van spanning en stres in jou liggaam ontslae. Volgens Nymph Kellerman van Johannesburg kan dit ook pyn verminder. Toe sy ’n paar jaar gelede haar ruggraat in ’n motorongeluk beseer het, moes sy hoor sy gaan die res van haar lewe pyn hê.

Sy het toe ’n paar keer per dag asemhalingstegnieke begin doen. Vandag lei sy ’n normale lewe – sonder pyn. Nymph bied nou werksessies aan waar sy ander mense leer om reg asem te haal. Die regte manier. Kyk na ’n baba wat slaap, sê sy. Met elke asemteug trek sy diafragma suurstof in die laer dele van sy longe – en sy buik swel.

Maar ons vergeet hoe om dit te doen as ons ouer word. As die diafragma saamtrek, vergroot die spasie in jou borskas en lug stroom jou longe binne. As dit ontspan, verklein die spasie weer en lug vloei na buite.

Dit gebeur outomaties. Jy hoef nie daaraan te dink nie en glo waarskynlik jy doen dit heeltemal reg. Maar die meeste van ons gebruik minder as ’n derde van ons longe se kapasiteit. Dit kan jou emosionele én liggaamlike gesondheid beïnvloed.

Wat doen ons dan verkeerd? Ons asem meestal in en uit deur hoofsaaklik ons tussenribspiere te gebruik, en dan is die asemteue oppervlakkig en kort. Jy trek lug net in die boonste dele van jou longe – en dit bereik nooit die laer dele nie.

Daar is dan minder suurstof in jou bloed, wat spierbeweging beperk en jou lyf oraloor gespanne laat voel.

Haal jy reg asem? Plaas jou een hand bo jou borste en die ander een net bo jou middellyn. Haal normaalweg asem. Kyk watter hand beweeg meer as jy asemhaal. As dit die boonste een is, haal jy te vlak asem. As dit die onderste een is: Geluk! Jy gebruik waarskynlik jou diafragma – die “regte” manier.

Konsentreer op jou asem terwyl jy die volgende oefeninge doen. Fokus op hoe jy in- en uitasem, asook die outomatiese pouse tussen-in. Jy moet dalk baie oefen voor jy dit regkry, maar só leer jy om negatiewe en stresvolle gedagtes te beheer. Doen dit elke dag sowat 20 minute lank (of net so lank jy kan). Volgens Nymph sal jou energievlakke ná ’n paar maande hoër wees. Jy kan die oefeninge ook met musiek kombineer.

’n Ou Chinese filosoof het gesê: “Hou jou hart in jou voetsole (haal dus diep asem), en jy sal ’n honderd en een siektes genees.”

Maak jouself van binne skoon

Asem deur jou neus in, maar verbeel jou die lug kom deur jou voetsole. Trek die lug op deur jou voete, bene, heupe en bolyf en blaas dit stadig by jou oop mond uit. Doen dit verskeie kere. Verbeel jou soos wat die lug deur jou liggaam beweeg, vee dit al die ou, negatiewe energie weg wat jy nie langer nodig het nie. Blaas dié ou lug by jou mond uit en weg. Verbeel jou ook die lug wat jy deur jou voete “inasem”, is vars en skoon en dit neem die plek van die ou negatiewe energie in.

Weg met padwoede
Doen dit terwyl jy by ’n verkeerslig staan, of in ’n verkeersknoop vassit. Plaas jou handpalms teen jou agterkop en strengel jou vingers inmekaar. Laat die gewig van jou hande jou kop vorentoe stoot totdat jy voel hoe jou nek en hele ruggraat rek. Moenie jou kop vorentoe druk nie; laat eenvoudig jou arms ontspan en jou hande se gewig sal die werk doen. Hou dié posisie vir minstens 20 sekondes, langer as jy kan. Asem met ’n diep sug uit: ”a . . . a . . . a . . .” Herhaal dit verskeie kere (indien moontlik).

Uit: Gesond binne vyf minute deur Jane Alexander (Tafelberg-Uitgewers).

Slaap lekker

Lê op jou bed met jou bene gemaklik uit mekaar en jou voete na buite. Hou jou arms effens weg van jou lyf en jou handpalms na bo, vingers effens gekrul. Maak jou oë toe en konsentreer op jou asemhaling. Verbeel jou jou lyf word swaar en jy sink in die bed weg.

Asem diep deur jou neus in: Voel hoe jou bors swel en jou maag saamtrek. Asem stadig en gelykmatig uit. Gebruik jou maagspiere om jou asem uit te stoot, maar moenie jouself ooreis nie.

Doen dit ses tot agt keer, tot die ritme beheers en egalig is. Fokus nou op jou kroontjie en laat dit
ontspan. Asem diep in en uit. Doen dieselfde met onderskeidelik jou voorkop, oë en mond. Laat jou kakebeen ontspan (maak jou mond effens oop, indien nodig). Neem jou tyd. Konsentreer op jou asemhaling en moenie jaag nie.

Konsentreer op jou nek, skouers en bo-rug, waar baie spanning deur die dag nesskop (veral as jy baie met ’n rekenaar werk). Asem diep in. Asem uit en voel hoe die spiere in jou nek en skouers verslap.

Doen nou dieselfde met die res van jou lyf: arms, maag, bobene, kuite en uiteindelik jou voete. As ’n spesifieke deel baie gespanne is, konsentreer daarop, asem diep in en voel hoe die spanning wegvloei as jy uitasem.

[box:full:grey:both]

Kortpad-asemhaling

1 As jy nie rustig kan sit of lê nie, kan jy kortpad vat: Asem
normaalweg in, en dan so stadig en lank moontlik uit. Doen dit drie
tot vyf keer. Dit kalmeer die vagussenuwee wat by jou rugmurg aan
die onderkant van jou brein begin en deur jou nek loop, van waar dit
na jou longe, hart en ingewande vertak.
2 ’n Ander manier is om kort teue deur jou mond te blaas – oe-oe-oeoe
– soos vroue geleer word om tydens ’n bevalling te doen. Doen
dit tot jou longe heeltemal leeg is en neem dan weer ’n asemteug.
Dis doeltreffender as die eerste voorbeeld, maar nie ideaal as jy dit
ongemerk wil doen nie. Uit: Visualisering: gedagtes wat heelmaak
deur dr. Piet Muller (Protea Boekhuis).

[/box]

  • bpkcbliepj

    h6KKsQ foiuwnorwfdn, [url=http://grkflzkkkypv.com/]grkflzkkkypv[/url], [link=http://biomzsnfhpro.com/]biomzsnfhpro[/link], http://vhsrhmutpuqw.com/