okt06gesondartikel1a
Gesondheidstories

Nuwe hoop teen die groot vergeet

“Elke keer as ek my sleutels verlê of iets belangriks vergeet, is daar ’n waarskuwende stemmetjie in my agterkop. My grootste vrees is dat ek dieselfde pad as my ma gaan loop.” Vir dié vrou wie se ma onlangs ná ’n lang stryd teen Alzheimer-siekte (AS) gesterf het, is daar nuwe hoop: Daar is skynbaar ’n genetiese verband tussen hartsiektes en AS.

En deur jou risiko van hartsiektes te verlaag, verlaag jy ook jou kans om AS te kry. ’n Vinnige en kostedoeltreffende manier is boonop deesdae beskikbaar om gene te identifiseer wat kan lol – lank voor jy enige simptome van AS toon.

Dr. Maritha Kotze, hoof van Genecare, ’n molekulêre genetiese laboratorium by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad, verduidelik dit só: Jou DNS is 99,9% identies aan ander mense s’n. Daar is dus net ’n verskil van 0,1%. Dit kan gebeur dat daar ’n verandering (of mutasie) in die struktuur van jou DNS kode is. Dis soos om ’n koek te bak en een bestanddeel verskil van die resep s’n. Die koek gaan dan dalk nie heeltemal so lekker smaak nie. Daar is ’n ingewikkelde wisselwerking tussen sommige van dié geenveranderinge, jou dieet en leefstyl. Jy kan byvoorbeeld geen-variasies hê wat jou meer vatbaar vir sekere siektes maak.

Maar jy kan ook jou dieet aanpas om te vergoed vir die genetiese profiel wat jy geërf het. Voedingstowwe kan dus die manier beïnvloed hoe gene hulself “gedra” of uitdruk. Enersyds is daar genetiese veranderinge wat op hul eie gewoonlik voldoende is om siektes te veroorsaak (sogenaamde hoëpenetrasie-gene). Dit sluit in familiële borskanker, porfirie, sistiese fibrose en familiële hipercholesterolemie. En ook die familiële soorte van AS, waar die toestand in jou veertigs en vroeë vyftigs begin. (Dis egter nie altyd geneties as jy AS vroeg ontwikkel nie.) Sowat 1% van alle Alzheimer-gevalle val hieronder.

Jy kan min of niks doen wat hierdie siektes keer nie. Jy, jou spesialis en genetiese raadgewer kan saam besluit hoe jy die beste daarmee gaan saamleef – deur byvoorbeeld sekere medikasie te gebruik. Jy kry egter ook genetiese veranderinge wat nié op hul eie siektes veroorsaak nie (sogenaamde laepenetrasie-gene).

En hieraan kan jy wel iets doen. Want saam met die verkeerde dieet en ander leefstyl- en omgewingsfaktore kan jou risiko van sekere toestande drasties toeneem. Al klink die statistieke dalk nie so ernstig nie, is Alzheimer-siekte besig om toe te neem- daar word selfs van ’n “ontploffing“ gepraat. Tussen 8% en 10% van alle mense ouer as 65 het dit. Volgens Sheila Cooper, uitvoerende bestuurder van Alzheimer Suid-Afrika, word iemand elke sewe sekondes wêreldwyd met seniele demensie gediagnoseer. Dis ’n oorkoepelende term vir AS en ander minder bekende vorme van demensie: ’n Progressiewe agteruitgang van die brein wat gekenmerk word deur geheue-afwykings, persoonlikheidsveranderinge, agteruitgang van persoonlike versorging, belemmerde redeneervermoë en disoriëntasie.

Omgewingsfaktore

AS is kompleks: Daar is nie net een oorsaak nie en dit word vermoedelik deur ’n wisselwerking tussen genetiese en omgewingsfaktore veroorsaak. Dit kan insluit:

  • inflammasie
  • ‘n gebrek aan anti-oksidant-voedingstowwe
  • ‘n gebrek aan omega-3-vetsure
  • verhoogde homosisteïenvlakke
  • ‘n tekort aan B-vitamiene
  • ‘n tekort aan neuro-oordragstowwe wat helderheid en konsentrasie beïnvloed
 

AS ontsien niemand nie. Oudpresident Ronald Reagan van Amerika het byvoorbeeld daaraan gely. En seker een van die bekendste en mees tragiese gevalle was Iris Murdoch, Britse skrywer en filosoof. Daar is net een vryheid – dié van die kop, het sy op ’n keer gesê. Maar dié vrou, met haar eens formidabele verstand, het in die donker verwarring van AS weggesink.

Dit het haar tot ’n swak, ou vrou gereduseer wat na Teletubbies op TV kyk. En oor en oor prewel: “Dis net die posman.” Haar man, John Bayley, beskryf dit met deernis en hartseer in die boek Eulogy for Iris: A Memoir (Saint Martin’s Press, 1998).

Die Oscarbekroonde-fliek Iris (2001) het daaruit gespruit. In die rolprent is ’n aangrypende toneel waar Iris uit haar Oxford-huis strompel. Om haar woeker die stad. Maar sy is in ’n wêreld van haar eie: Deurmekaar, gedisoriënteer, met leë oë en uitdrukkinglose gesig. Bayley soek vervaard straat op en af na haar. Uiteindelik vind ’n ou vriend haar en bring haar huis toe. Bayley koester haar saggies in sy arms en vra:

“Wou jy my verlaat?” In haar kop het sy reeds. ’n Dokter wat haar ondersoek, verwys na die siekte as “onverbiddelik”. “Maar dit sal nie wen nie,” reageer John, hoopvol. “Dit sál wen,” antwoord die dokter. Alzheimer-siekte is ongeneeslik.

 

Hoekom neem AS toe?

Om die eenvoudige rede: Ons leef langer en hoe ouer jy is, hoe groter is jou risiko om AS te kry. Dieselfde risikofaktore wat lei tot die ontwikkeling van kardiovaskulêre hartsiektes in die middeljare, kan ook die risiko van Alzheimer op jou oudag verhoog.

En kardiovaskulêre siektes neem toe. (Een uit drie Suid-Afrikaanse mans en een uit vier vroue het kardiovaskulêre probleme voor hulle 60 is.) Amerikaanse navorsing toon sowat ’n derde van alle mense met AS het ook in ’n mate vaskulêre probleme. En dat die behandeling van sekere risikofaktore van kardiovaskulêre hartsiektes die risiko van demensie met meer as 50% kan verminder. Die bevinding van een studie, wat sowat 10 000 proefpersone ingesluit en sowat 27 jaar geduur het, is verlede jaar bekend gemaak. Dit het getoon as jy rook en hoë cholesterol, diabetes en hoë bloeddruk in jou middeljare het, vergroot jou risiko van demensie met sowat 20% tot 40%. As jy oorgewig is, vergroot dit met sowat 35% en as jy vetsugtig is, met sowat 70%.

Waar lê my en jou hoop dan?
Oor Genecare se genetiese hartsiekte-toets is reeds baie geskryf. ’n Nuutjie is dat dieselfde toets nou ook jou risiko van demensie kan uitwys – en wat gedoen kan word om jou risiko te verlaag. Die genetiese hartsiektetoets sluit 12 genetiese variasies in, waarvan minstens twee gene ook by AS betrokke is: Die een is ’n spesifieke geen wat nodig is om jou homosisteïenvlakke laag te hou. ’n Variasie van dié geen kom by meer as die helfte van die plaaslike wit bevolking voor. Dit verander die manier hoe die liggaam B-vitamiene opneem, wat verhoogde homosisteïenvlakke tot gevolg het. Homosisteïen is ’n aminosuur wat net in klein hoeveelhede in die liggaam teenwoordig moet wees. As jou vlakke hoog is, kan dit die slagare beskadig. Dit lei tot slegte bloedsirkulasie na die hart en brein. En verhoog jou risiko van meer as 50 siektetoestande, onder meer hartaanvalle, beroerte, depressie, osteoporose en sekere kankersoorte. Ook Alzheimer-siekte. ’n Ontleding van alle nuwe navorsing toon hoë homosisteïenvlakke verdubbel jou risiko om AS te ontwikkel. Dit jaag ook klaarblyklik dié siekte aan.

Die goeie nuus: As jou vlakke van foliensuur (’n B-vitamien), en vitamiene B6 en B12 hoog is, kan dit dié risiko verminder. Studies wêreldwyd toon egter dat die inname van foliensuur laer as die aanbevole 400 mikrogram p/d is. En in mindere mate ook die inname van vitamiene B6 (50 mg), B12 (50 mikrogram). (Dit help met die opname van foliensuur.) As jy die genoemde geen-variasie het, het jy boonop dubbel die gewone hoeveelheid foliensuur nodig. Dit kom voor in onder meer volgraanbrood, spinasie, ertjies en lemoensap. Dis egter moeilik om soveel foliensuur deur jou dieet alleen in te neem en dus word aanvullings aanbeveel, veral as jy ’n genetiese verandering in die bepaalde geen het. Neem ’n goeie vitamien B-kompleksaanvulling. Eet ook minder vetterige vleis, meer vis en groente-proteïen, soos soja.

Een teorie is dat kardiovaskulêre probleme die slagare kan blokkeer. Sleutelvoedingstowwe kan dan nie in genoegsame hoeveelhede by die brein uitkom nie. Sonder ’n goeie voorraad antioksidante, soos vitamiene A,C en E, is breinselle meer blootgestel aan skade deur vry radikale. ’n Ander moontlikheid is dat kardiovaskulêre hartsiektes en Alzheimer deur dieselfde siekteproses veroorsaak word – en dat inflammasie ’n rol speel. By kardiovaskulêre siektes ontsteek die slagare en raak dit beskadig. By AS is daar ’n soortgelyke proses in die brein aan die gang. In Amerikaanse navorsing is bevind die risiko van bejaardes wat op lang termyn klein dosisse anti-inflammatoriese medikasie neem, is 45% kleiner om AS te kry. Vir positiewe resultate moet jy dit begin neem voor jy enige simptome van Alzheimer het en dit langer as twee jaar, vier keer per week neem. Volgens Maritha beteken ’n genetiese afwyking nie dat jy die toestand gáán ontwikkel nie. Jy kan jou leefstyl só aanpas dat dit jou risiko verminder. Die genetiese toets maak die behandeling van toepassing op jóú – pleks van riglyne vir die breë bevolking.

 

 

’n Tweede geen wat betrokke is, verskaf instruksies vir die vervoer van cholesterol en bou van gesonde membrane vir jou breinneurone. Volgens Maritha is ouderdom die algemeenste oorsaak van AS. Die tweede algemeenste een is ’n verandering in dié betrokke geen. Sowat 30% tot 40% van die Suid-Afrikaanse bevolking het dié geenvariasie. Die belangrikste snelleraksies daarvoor is as jy rook en te veel alkohol gebruik. En ook hoë cholesterolvlakke as jou dieet baie versadigde vette en transvetsure bevat. Dié geen word verbind met ’n groter risiko van kardiovaskulêre hartsiektes. En dra by tot die ontwikkeling van AS by sowat 50% van die mense wat dit ná 65 ontwikkel.

’n Diagnose van Alzheimer

’n Kort toets (MMSE) word gebruik om te bepaal of jou geheue nog binne die “normale” grense is. Jou vlak van opvoeding en ouderdom word in ag geneem by die interpretasie daarvan.

Vrae sluit onder meer in: Watter dag, maand en jaar is dit? In watter provinsie en stad is jy? Watter seisoen is dit? Spel die woord “herfs” agteruit. Begin by honderd en trek telkens 7 af. Toetse om ’n diagnose van Alzheimer te maak, sluit in: Bloedtoetse, ’n breinskandering, elektrokardiogram (’n opname van die hart se elektriese aktiwiteit) en elektro-ensefalograaf (die registrasie van elektriese aktiwiteit in verskillende dele van die brein). Bron: www.health24.com

 

Hoe werk die toets?
Genecare doen ’n genetiese harttoets wat ook op ’n vatbaarheid vir seniele demensie kan wys. Daar word gesoek na sekere genetiese veranderinge wat nie net die hart beïnvloed nie, maar ook die brein. Jy gebruik iets wat lyk soos ’n groot oorstokkie, met watte aan die een kant.

Daarmee vee jy sowat 30 sekondes aan die binnekant van die een wang. En doen dan met ’n tweede stokkie dieselfde aan die ander kant. Maak klein sirkelbewegings met die stokkie en versamel só die selle. (Dit kan ook met ’n bloedtoets gedoen word, maar mense hou minder daarvan.) Jy voltooi ook ’n vraelys oor jou dieet, leefstyl, familie- en mediese geskiedenis, wat geëvalueer word. Dit word na Genecare gestuur. ’n

Omvattende verslag word daarna aan jou dokter gestuur. Dit bevat onder meer riglyne vir leefstyl- en dieetveranderinge en dalk ook vir medikasie. Die toets is eenmalig: Die genetiese materiaal word geberg en is beskikbaar as jy jou later vir ’n ander toestand wil laat toets. Dit kos sowat R2 500 en die meeste mediese fondse betaal daarvoor. Daar is ook ’n toetsmotivering vir jou mediese fonds beskikbaar.

Gesondheid!

•    ’n Franse studie toon dat 250 ml tot 500 ml rooiwyn per dag AS kan help voorkom. (Jy moet 10 keer meer rooi druiwesap drink om dieselfde resultate te kry.) As jy dan wel AS kry, is dit minder aggressief. (As jy egter ’n sekere geen verandering het, moet jy alkohol vermy. Dit verhoog jou risiko van hartsiektes en demensie.)

•    Volgens ’n Amerikaanse studie kan die inname van vitamien C (600 mg p/d) en vitamien E (600 IE p/d) jou risiko van AS help verminder.

•    Die gereelde inname van omega-3-vetsure (wat ook anti-inflammatoriese eienskappe het), is tans sterk in die kollig as ’n voorkomende middel vir AS. Eet kouewater- vis (haring, makriel, salm) 2 tot 3 keer per week. Eet ook sade en neute soos vlassaad, pampoen-, sonneblom- en sesamsaad. Verminder jou inname van gebraaide en geprosesseerde kosse en versadigde vette van vleis en diere-produkte.

10 Waarskuwingstekens van demensie

Ons is almal soms verstrooid. Volgens dr. Felix Potocnik, Kaapstadse psigiater, moet jy egter bekommerd raak as die volgende simptome inmeng met jou daaglikse doen en late:
1. Onlangse geheueverlies wat maak dat jy nie jou werk behoorlik kan doen nie
2. Probleme om bekende take te verrig
3. Jy vergeet woorde in alledaagse gesprekke
4. Disoriëntasie oor tyd en plek
5. Jy maak al meer slegte oordeels- en besluitnemingsfoute
6. Probleme om berekeninge te maak en syfers te herken
7. Verlê dinge gereeld
8. Onvermoë om daaglikse werksaamhede te beplan
9. Persoonlikheidsverandering
10. ’n Gebrek aan inisiatief