FOTO: Yuri / Getty Images

Gesondheidstories

Nuwe plan met slaap-apnee

Dit versteur nie net jou nagrus nie – slaap-apnee is gevaarlik en kan jou lewensgehalte en gesondheid bedreig. ’n Nuwe  toestel, wat deur ’n kenner as ‘revolusionêr’ beskryf word, is nou beskikbaar.

In Amerika gaan vetsugtige vlieëniers en lugverkeerbeamptes binnekort vir slaapapnee ondersoek moet  word. Omdat dit jou bedags slaperig kan laat voel, kan dit passasiers se veiligheid in gevaar stel.

Ons is nie almal vlieëniers nie, maar dit kan ook jou gesondheid erg benadeel. Dis boonop ’n toestand wat, veral onder Suid-Afrikaners, ’n ‘‘epidemie’’ kan word, volgens dr. Irshaad Ebrahim, ’n neuro-psigiater by die Constantia-slaapsentrum, Kaapstad, en Pretoria-slaapsentrum.

Daar is nie plaaslike statistieke beskikbaar nie. Maar sowat 4% van Europese en Amerikaanse mans en 2% van vroue ly aan obstruktiewe slaap-apnee, die algemeenste vorm van die toestand. Dr. Ebrahim, wat ook in Brittanje ’n praktyk het, sê hy sien baie meer Suid-Afrikaanse mans en vroue daarmee as in Brittanje.

Want dis meer algemeen as jy oorgewig of vetsugtig is, en vetsug is besig om ’n groot probleem onder Suid-Afrikaners te word. Tog kan apnee enigeen aantas – dit kom byvoorbeeld dikwels voor by kinders met vergrote mangels.

Obstruktiewe apnee is wanneer jou keelspiere en tong te veel verslap en ’n obstruksie in die lugweg veroorsaak. Terwyl jy slaap, hou jy dan op asemhaal of haal baie vlak asem. Dit kan van ’n paar sekondes tot minute lank wees en sowat dertig keer of meer in ’n uur gebeur. As jy weer begin asemhaal, is dit dikwels met ’n luide snork of ’n geluid asof jy verstik.

Dit versteur jou slaap, want sodra jou asemhaling ophou of vlakker word, beweeg jy uit ’n diep na ’n ligter vlak van slaap. En dit word dikwels nie gediagnoseer nie omdat jy dit nie eens weet nie.

Oorsake

Vetsug. Ekstra vetweefsel om jou nek kan die lugweg vernou en dit moeiliker maak om dit oop te hou. Dit neem ook toe met ouderdom, weens redes wat nie mooi verstaan word nie.

Simptome

Die algemeenste simptome is harde snorkgeluide en oormatige slaperigheid deur die dag, wat jou lewensgehalte beïnvloed.

Probleme

Dit kan lewensgevaarlik wees en onder meer hoë bloeddruk en ander kardiovaskulêre probleme veroorsaak. Jou risiko vir hartaanvalle, beroerte, vetsug, diabetes en bestuur- en werksverwante ongelukke vergroot.

Behandeling

Heel bo-aan die lysie is gewigsverlies en leefstylveranderinge soos om minder alkohol te drink en meer te oefen. Dis egter nie genoeg om die onderliggende probleem uit die weg te ruim nie. Ander opsies is:

  • Chirurgie alleen is in sowat 20 – 50% van gevalle ’n oplossing. Dit is nie ’n ingewikkelde prosedure nie, maar dis pynlik.
  • ’n Elektriese apparaatjie word met ’n pypie gekoppel aan ’n masker, wat oor jou mond of neus pas. Lug word dan deurlopend in jou lugweg geblaas sodat dit nie kan verslap nie.
  • ’n Nuwe terapie wat dr. Ebrahim ‘‘revolusionêr’’ noem, vereis geen masker of elektriese apparaat nie. Dis ook gerieflik as jy reis. Dis soos ’n kleppie wat oor jou neusvleuels pas en met ’n pleister in posisie gehou word.Soos jy asemhaal, maak die kleppie oop en toe. As jy uitasem, word die lug deur klein gaatjies herlei om weerstand te skep. Dit vermeerder die druk in jou lugweg en help om dit oop te hou. Jy het ’n voorskrif daarvoornodig. (Besoek ventmed.co.za vir ’n lys van dokters wat dit kan voorskryf.)

Jy slaap nie genoeg nie as jy…

  • ’n Wekker nodig het om op die regte tyd wakker te word.
  • Sukkel om soggens uit die bed te kom.
  • Moeg, geïrriteerd en gespanne voel in die week.
  • Sukkel om te konsentreer of jou geheue swak is.
  • Nie “skerp” is as jy ’n probleem moet oplos of kreatief moet wees nie.
  • Dikwels voor die TV aan die slaap raak.
  • Sit en indommel, dikwels in warm vertrekke en op vervelige vergaderings.
  • Dikwels ná ’n stewige maaltyd, of as jy ’n bietjie alkohol gedrink het, slaap.
  • Dikwels ná aandete indut terwyl jy ontspan.
  • Dikwels binne vyf minute nadat jy in die bed geklim het aan die slaap raak.
  • Dikwels slaperig voel terwyl jy bestuur.
  • Dikwels in die middag dut.
  • Dikwels naweke laat slaap.
  • Donker kringe onder jou oë het.

Slapeloosheid en depressie

Wat kom eerste, insomnia of depressie? Sowat 41% van depressielyers se eerste probleem was slapeloosheid, is bevind in ’n groot Amerikaanse studie wat oor tien jaar gestrek het. Depressie kan jou ook sleg laat slaap, ja, sê dr. Ebrahim. Maar dan is jy geneig om vroeg wakker te skrik. As jy daarenteen nie aan die slaap kan raak nie, kan dit depressie veroorsaak. Mense wat vir depressie   behandel word, het ’n tien keer groter kans om terug te val as hulle ondanks die behandeling steeds sleg slaap.

Vir meer