Gesondheidstories

Nuwe plastiese chirurgie installeer bra onder die vel

’n Nuwe vorm van plastiese chirurgie beloof fermer borste wat jonk lyk en hul vorm behou. Die prosedure is reeds in Europa goedgekeur, berig die Independent. Lees die volledige berig hier

Hierdie nuwe uitkyk op borsinplantings is nog nie in Amerika en die res van die wêreld goedgekeur nie, maar dokters glo dat dit ’n vinnige en permanente manier is om borste hul vorm te laat behou. Die prosedure duur net 45 minute.

Hoe dit werk

Dokters plant ’n silikoon-verband in wat dien as ondersteuning vir die borsweefsel. Die inplantings word met titaanskroewe aan die bene van die ribbekas vasgeheg.

Die maatskappy wat die tegnologie ontwikkel het, Orbix Medical, meen dat dit ’n alternatief bied tot borsverkleiningsoperasies, wat gewoonlik littekens agterlaat, en dat dit meer volhoubare resultate lewer as tradisionele operasies wat jou borste oplig (breast lifts).

Die eerste toetse is in 2009 in België gedoen en meer as 50 prosedures is reeds reg oor Europa uitgevoer. Dié “interne bra” is toe goedgekeur om in Europa verkoop te word.

Tog meen dokters dat die operasie nog nie lank genoeg uitgevoer word om moontlike newe-effekte te kan vasstel nie. Dit is duidelik dat daar nog baie toetse gedoen moet word, en dat operasies opgevolg moet word om te kan bepaal of die prosedure op die lang duur veilig is.

Kenners meen dit is nog te vroeg om vas te stel of hierdie “interne bra’s” die effek van hangborste sal teenwerk.

Wat dink jy van hierdie “interne bra’s”? Sal jy die operasie kry indien dit in Suid-Afrika uitgevoer word? Lewer kommentaar op ons Facebook– of Twitter-blad.