sr1308mystorieBronwyn01
Gesondheidstories

Ons beste besluit nog

’n Identiese tweeling het albei sowat vyf jaar gelede, in hul middel-twintigs en ’n jaar uit mekaar, ’n dubbele mastektomie gehad. Albei was draers van ’n gevreesde ‘kanker-geen’. Sedertdien kyk hulle net vorentoe . . .

Hulle was nie bereid om te dobbel met hul lewe nie. . . Die identiese tweeling, Bronwyn en Geraldine (30), dink deesdae dankbaar terug aan ’n dubbele mastektomie, onderskeidelik in 2007 en 2008, wat ’n reuse omwenteling in hul lewens gebring het. Bronwyn Exner, ’n arbeidsterapeut van Wellington in die Wes-Kaap, en haar suster, Geraldine du Randt, ’n metallurgiese ingenieur van Lephalale (eens Ellisras) in Limpopo, kyk vandag nét vorentoe, ver verby die horison. Hulle het groot spirituele lesse op dié “reis’’ geleer.

Albei is draers van die gevreesde “kanker-geen’’ BRCA2, wat deur hul pa, Rowan Krebs, ’n verkoopsman van Durban, se bloedlyn aan hulle oorgedra is. Dít het hul kanse om kanker te kry met sowat 85% verhoog. Dis ’n verhaal van hoop, vasbyt en moed. Jy kan nie anders nie as om geïnspireer te word deur dié vroue, die toonbeeld van gesondheid met hul glansende bruin hare, laggende oë en vroulike kurwes. “Ek is uitgelate, die práter en bottel niks op nie,” sê Bronwyn. Geraldine is meer ingetoë. Ingrypende chirurgie, glo hulle, het hulle ’n kans op ’n langer lewe gegee. En as hulle weer moes besluit, sou hulle dieselfde kies.

Bronwyn vertel haar verhaal

Die tyd toe ek kanker gehad het, voel soos dié diepste laagtepunt van ’n kurwe. Maar gelukkig is daar vir elke laagtepunt in die lewe weer ’n opwaartse kurwe. Klein Sam (2), die afkorting vir Samuel, ons wonderwerk-baba, voel soos die kruin van dié kurwe . . . Ek identifiseer met Hanna (1 Samuel 1:19), wat ook nie kon kinders kry nie, en toe wraggies die lewe geskenk het aan ’n seun, Samuel. Dié naam beteken ‘God hoor my’. As ek na ons ‘wonderwerkie’ kyk, besef ek hoe ver die pad is wat ek gestap het.

Vroeg in 2007 het ek ’n knop in my bors gevoel, maar ek was glad nie bekommerd nie. Dit het nie gepyn nie en ek het dit net geïgnoreer. Ek en Franz, ’n eiendomsbestuurder van Kaapstad, was pas getroud. Kanker was nie deel van ons woordeskat nie. Naweke het ons sorgeloos branders gery en met vriende gekuier. Toe die knop ná ’n paar maande nie verdwyn nie, het my skoonma, Sandra, ’n afgetrede verpleegster, my aangepor om dokter toe te gaan. En tóé, die uitslag! Ultraklank-fotografie en ’n biopsie het gewys ek het kanker.

My eerste reaksie op slegte nuus? Kalmte. Ek verwerk slegte nuus in slow motion. Ewe skielik was my lewe surrealisties. My suster, Geraldine, en haar man, Jéan, ook ’n metallurgiese ingenieur, het by ons gekuier toe ek die nuus hoor. Sy was stom. Die moeilikste telefoonoproep – my éérste – was na my ouers, Karen en Rowan. Geskok en stil het hulle geluister. My ma het net gedemp ‘O néé!’ laat val. My man, ’n stil reus, was net ontsteld dat hy niks kon ‘regmaak’ nie. Mans hou mos van planne maak.

’n Week en ’n half ná die oproep het ek met chemoterapie begin. Ek was naar, my oë was bloedbelope. My hare het in groot klosse uitgeval tot ek kaalkop was. Ek het 10 kg aangesit as gevolg van kortisoon-behandelings om naarheid te probeer beheer. Chemo-sessies het sowat vier uur op ’n slag geduur terwyl die ‘gif ’ in my are gedrup het. Teoreties moes ek dit elke drie weke kry. Maar as jou witbloedsel-telling te laag is [dit beteken jou immuniteit is te swak], moet jy eers wag tot jy sterker word vir behandeling. Jy is uitgelewer aan jou liggaam se reaksies en kan nooit iets beplan nie. Hóé frustrerend! Ná sowat sewe maande het die knop aansienlik gekrimp. Maar dokters het aanbeveel dat ek ’n dubbele mastektomie ondergaan omdat ek steeds ’n 85%-kans op kanker gehad het. Om nié die mastektomie te ondergaan nie sou ’n dobbelspel met die dood wees. Ek sou dit nie eens oorweeg het sónder rekonstruktiewe chirurgie nie. Ná baie navorsing en tweede en derde opinies van kenners landwyd, het ek en Franz besluit op silikooninplantings.

Die groot dag was 14 Junie 2008. Ek wou dit net verbykry sodat ek met my lewe kon aangaan. Ná ’n vyf uur lange operasie is die dubbele mastektomie en rekonstruksie gedoen. Ek was só verlig. Toe ek wakker word, was Franz langs die bed. My ‘nuwe borste’ was pragtig. Al nadeel is dat hulle geen sensasie het nie. Dit het ’n effense uitwerking op my intieme lewe, maar dit is só ’n klein prys om te betaal. Die ander gevolg is dat ek nie kan borsvoed nie. Twee dae ná die chirurgie was ek tuis. Die operasie was nie pynlik nie. Wat my wél rasend gemaak het, was dat ek kort voor die operasie met hormoonvervangingsterapie begin het. Daaglikse tablette en maandelikse inspuitings. Mý soort borskanker floreer op die hormone estrogeen en progesteroon, veral tydens my maandelikse menstruele siklus, wanneer dit afgeskei word. Ek was dus skielik, op 24, mídde-in my menopouse. Ai, die warm gloede en buierigheid. Ek wou oral die lugversorging aanskakel. Dit het gevoel of ek kook. My arme man, ek het hom so jammer gekry. Nou moes hy dít ook nog hanteer. Boonop was my kanse om kinders te kry slegs 40% ná die ingrypende kankerbehandeling. Dit was ontstellend.

Kort ná die mastektomie moes ek ook nog ses weke lank weekdae vir ’n kwartier bestraling ontvang. My lyf was só gedaan. Ná twee jaar se hormoonvervangingsterapie het ek besluit genoeg is genoeg. Ek wou weer my lyf terughê. My onkoloog het ingestem. Ons wou probeer swanger word. Dit was een van die wonderlikste dae toe klein Sam gebore is. My ouderdom het beslis in my guns getel, anders sou ek waarskynlik gesukkel het om swanger te word ná al die inmenging met my lyf. Die kanker-‘reis’ was beslis nie maklik nie. My borssnydokter, dr. Justus Apffelstaedt van die Panoramaborskliniek, en sy span het my gelukkig met soveel deernis en respek behandel. Maar jy voel vreemd met jou kaalkop. Almal staar. Ek wou nie my kop wegsteek nie, want ek het immers openlik oor my kanker gepraat. Soms het ek na myself in die spieël gekyk – ’n vreemdeling. Dis moeilik om te hanteer. Veral as jy nog met jou daaglikse dinge moet aangaan.

Franz sou na my kyk en sê: ‘Bron, jy is pragtig. Jy bly dieselfde mens, maak nie saak hoe jy lyk nie.’ Die lekkerste is dat hy my nie soos ’n pasiënt behandel het nie, geen issue van die hele kankerding gemaak het nie. Dié uitdagende ervaring in ons vroeë huwelikslewe het so ’n sterk grondslag gelê vir die pad vorentoe. Ons het opnuut oneindige respek en deernis vir mekaar gekry. Ek raak selde melancholies, maar wanneer ek ‘af ’ was, het ek harder gewerk. Dikwels het ek, my man en vriende lang filosofiese gesprekke oor die lewe gehad. Vriende het gehelp met praktiese dinge, soos om my na chemoterapiesessies te vervoer. My suster sou my oor die foon moed inpraat. En almal het vir my gebid. My grootste ontdekking was dat God ’n paar remme op my en Franz se lewenspaadjie gesit het. Ons was gereed vir allerlei loopbaanplanne, maar Hy wou ons leer dat ons spirituele lewe belangriker is. Toe ek dít snap, was gesond word nie eens vir my so belangrik nie. Almal gaan mos een of ander tyd dood. Boonop hét ons nou die bonus dat ek gesond is en droom van nog ’n baba.”

Carina K Photography & Graphic Design

FOTO: Bronwyn en Sam

Geraldine vertel haar verhaal

Om te besluit of ek ’n dubbele mastektomie moes hê was die grootste kruispad in my lewe. Hoe besluit jy om ontslae te raak van twee gesonde borste as daar ’n 15%-kans is dat jy nié kanker kan kry nie? My borste het my vroulik laat voel. Hulle was mooi – nie te groot óf te klein nie. Ek was mal oor mooi onderklere koop. Kort nadat my suster positief getoets het vir die ‘kankergeen’, het ek myself ook laat toets. Dokters het wel vooraf gesê identiese tweelingvroue erf nie noodwendig albei die geen deur die pa se bloedlyn nie. Maar toe die uitslae die ergste bevestig, was ek koud en bewerig. Nie naastenby gereed om ’n besluit te neem nie. My antwoord het ’n halwe jaar later, in November 2008, in die vliegtuig gekom. Ek was onderweg op ’n werksbesoek na Washington DC. Ek het die scenario oor my moontlike mastektomie aan twee dokters langs my geskets en wou hul opinie hoor. Skielik het ek net die antwoord gewéét. Iets het net gekliek. Hoe verduidelik jy dit? Later in dieselfde week het ek opnuut bevestiging gekry in Spreuke 22:3: ‘’n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit; onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor.’ ’n Onbeskryflike vrede het oor my gekom.

My man, Jéan, met wie ek in September 2006 getroud is, was heeltemal gekant daarteen. Hy het gedink ek is te jonk vir iets so traumaties. Maar hy het beloof om by my te staan, wat ek ook al besluit. Om Bronwyn so te sien ly tydens chemoterapie was hartverskeurend. Ek wou gereeld haar hand vashou, maar ek was so ver weg. Ons het maar saam gehuil oor die telefoon. Ek het vir haar gehuil as ek wasgoed opgehang en as ek gestort het, in die kerk. Sy was altyd die ‘leier’ van die tweeling en ek kon dit net nie hanteer om haar weerloos te sien nie. Om eerlik te wees, ek het nie kans gesien om óók so te ly nie.

Op 19 Junie 2009 is mý groot operasie gedoen. My kop was ‘reg’, maar ek was tog senuweeagtig. Sê nou my borste lyk nie ná die tyd mooi nie? Dalk is dit pynlik . . .

My vrese was verniet. My silikoon-inplantings het pragtig gelyk. Ek het my eie tepels behou vir ’n meer natuurlike voorkoms. Dít verhoog wel my kans op kanker, maar ek was bereid om die kans te waag. My ‘kunsborste’ is harder as vroeër en dit het net effense gevoel op die oppervlak van die vel, nie op die tepels nie. Al die pynsenuwees in die bors word weggesny wanneer die weefsel tydens die mastektomie verwyder word. Behalwe die steke op die oppervlak van die vel ná die rekonstruksie, is daar weinig gevoel. Twee maande ná die operasie kon ek al weer begin draf. En ’n jaar later het ek die Comrades-marathon voltooi. Dit pla my glad nie dat ek nie ons seuntjie, Daniel (14 maande), wat drie jaar ná die operasie gebore is, kan borsvoed nie. Hy is in ieder geval laktose-onverdraagsaam. En Jéan kan nou help met die bottelvoedings.

Ek is nie een oomblik spyt oor dié besluit nie. Jéan en ek het mekaar ná die ondervinding régtig goed leer ken. Hy het baie respek vir my moedigheid, en ek het besef hy is ’n ware rots. Ek het opnuut geleer liefde is soveel dieper as die uiterlike. Dit gaan oor omgee-woorde, vriende wat ’n tuisgemaakte aandete bring, tydmaak vir dinge wat régtig saakmaak. Bronwyn het my geleer jy kan steeds voluit leef met kanker. Maar dit verg wel hope moed. En natuurlik selfvertroue. Ek sal altyd onthou hoe sy gekleurde serpe om haar kaalkop gedraai het. As mense gekyk het, het sy net dapper teruggeglimlag. Toe sy siek was, het sy en Franz Tafelberg uitgeklim as sy beter gevoel het. Hulle het naweke gaan branderry as sy nie te naar was nie. En elke Vrydagaand was hulle twee betrokke by ’n liefdadigheidsklub vir agtergeblewe kinders. Ek besef elke dag ’n mens is so oneindig weerloos. Jy kan enige tyd jou gesondheid verloor. Dit is so belangrik om die nóú te geniet, elke oomblik voluit te leef en God te vertrou.

Geraldine04

FOTO: Geraldine en Daniël