FOTO ter illustrasie FOTO: Instagram

Gesondheidstories

Ons kinders is minder fiks (en vetter) as 30 jaar gelede

’n Onlangse studie het bevind kinders is vandag swaarder én onfikser as kinders 30 jaar gelede.

Die Burger berig dat Jannie van der Merwe, ’n onderwyser aan die Hoërskool Randburg, bevind het dat 14-jarige meisies vandag gemiddeld 12 kg meer weeg as hul eweknieë in 1984.

Wanneer dit by die seuns kom, is die verskil nie so groot nie. Hulle is vandag sowat 2 kg swaarder. Maar Jannie is bekommerd dat seuns deesdae baie swakker is en dat hulle sukkel om hul eie gewig op te tel tydens optrekke.

Jannie se verklaring vir die afname in fiksheid is eenvoudig: Kinders speel nie meer genoeg nie. Hulle sit te veel pleks daarvan om boom te klim en buite rond te hardloop. Deelname in skoolsport het ook gedaal.

Die studie ondersoek ook vaardighede soos plofkrag, veerkrag en soepelheid. Lees die volledige artikel in Die Burger hier.

Volgens ’n ander artikel in Die Burger vroeër vanjaar word daar in Suid-Afrika se skoolkurrikulum net ’n uur per week aan liggaamlike opvoeding afgestaan. Daar is ook bevind Suid-Afrika se jeug is naas dié van Brittanje, Kanada, Amerika en Mexiko die vetste ter wêreld.

Maar hoe gemaak met jou oorgewig kind? Klik HIER vir raad

Raad vir jou oorgewig kind

  • Dis nooit te vroeg om jou gesin te leer om gesond te eet nie.
  • Leef en eet soos jy graag wil hê jou kind moet – stel dus ’n voorbeeld.
  • Doen dadelik iets as jy agterkom jou kind se gewig of liggaamsbeeld is vir haar ’n probleem. ’n Kind sal dit openlik sê of bv. noem dat maats haar spot. Luister na haar, bespreek saam ’n oplossing en kry hulp indien nodig.
  • Soms is die tekens meer subtiel: Jy kom dalk agter sy is skaam vir haar liggaam en vermy ’n swembroek.
  • Probeer die oorsaak vasstel. Dis nie altyd net verkeerde eetgewoontes nie, daar kan ook mediese of emosionele redes wees.

Nóg gesondheidstories