FOTO: Yuri / Getty Images

FOTO: Yuri / Getty Images

Gesondheidstories

Ons slaap té min!

Volgens ’n studie wat deur SleepCycle, ’n app wat slaaptye monitor, gedoen is slaap Suid-Afrikaners gemiddeld drie ure minder as enige ander land ter wêreld, berig Netwerk24

Geen wonder só baie van ons voel chronies moeg nie! Hier is ’n paar wenke om jou slaappatroon te verbeter.

RAAD VAN ’N SLAAPKENNER

  • As jy sukkel om ’n goeie nagrus te kry. Volg ’n vaste patroon van slaap en wakker wees, selfs oor naweke.
  • Kry vir jou ’n gereelde, ontspanne slaaptyd-roetine ’n uur of wat voor slaaptyd. (Neem ’n warm bad, luister na rustige musiek.)
  • Maak jou slaapkamer so donker moontlik, en hou dit ook stil, gemaklik en koel.
  • Belê in ’n gemaklike matras en kussings.
  • Moenie ’n TV, telefone, tablette en rekenaars in die slaapkamer toelaat nie.
  • Eet jou laaste maaltyd sowat 2 – 3 uur voor slaaptyd.
  • Oefen gereeld.
  • Moenie voor slaaptyd kafeïen of alkohol drink nie.
  • Hou op rook.

AS STRES KLAAS VAKIE WEGHOU

Slaaploos snags? Jy is nie alleen nie. Insomnia is ’n groot probleem in ons land en die hoë vlakke van stres dra sekerlik daartoe by, sê dr. Hilda Landman van Stellenbosch, slaapkenner en mediese dokter wat in holistiese geneeskunde spesialiseer.

Stres (weens werk, geldelike of persoonlike probleme) en die gevolglike afskeiding van streshormone kan met jou wakker-slaap-siklus inmeng. Jy kan dus snags wakker word en bedags sukkel om wakker te bly. Gebeur dit ’n paar keer, kan jy aan insomnia begin ly, volgens SASSM (The South African Society of Sleep Medicine).

As jy dikwels sukkel om te slaap, probeer self-hipnose met die hulp van ’n slaap-CD. Rustige agtergrondmusiek en ’n gerusstellende stem lei jou as’t ware om te ontspan, terwyl geluide wat jou dalk mag hinder, geblokkeer word.

Probeer die volgende as jy dikwels snags wakker word: Staan op, gaan toilet toe, drink ’n glas water, maak seker jy kry nie te warm of te koud nie. Sit oorfone aan sonder om die lig aan te skakel, wat jou nie net verder gaan wakker maak nie maar ook jou maat gaan steur. Probeer ontspan, dink na oor jou drome en laat ’n CD met ’n selfhipnose-program jou teruglei droomland toe. En sê vir jouself jy ervaar waarskynlik ’n natuurlike slaapritme wat ons eenvoudig vergeet het!

Slaaphipnose-CD’s is plaaslik beskikbaar by Takealot.com. ’n Goeie opsie is Deep Sleep with Medical Self-Hypnosis deur dr. Steven Gurgevich (Amazon.com-klante gee hierdie CD 4,4 uit 5 sterre).

As jou slaapprobleem met jou lewe inmeng en ontspanning, selfhipnose en leefstyl-stappe nie werk nie: Probeer medikasie, melatonien-aanvullings en/of kognitiewe gedragsterapie. Moenie sommer dadelik na die slaappille gryp nie, want dit kan gevaarlik en gewoontevormend wees. Praat met jou dokter, psigiater en/of sielkundige, of besoek ’n slaapsentrum.