In dié posisie strek SARIE-skoonheidsredakteur, Charis Labuschagne, haar kniesenings en oefen sy haar maagspiere
FOTO Phyllis Green, geneem in die James and Ethel Gray Park, Johannesburg

In dié posisie strek SARIE-skoonheidsredakteur, Charis Labuschagne, haar kniesenings en oefen sy haar maagspiere FOTO Phyllis Green, geneem in die James and Ethel Gray Park, Johannesburg

Gesondheidstories

Ontspan met joga

Joga hou jou jonk, soepel en gesond. En byna almal kan dit doen

Waar’s die tromme, was my versugting met my eerste joga-klas. Ek het mos my tande geslyp op die doef-doef-musiek van aërobiese oefeninge en met Jane Fonda se aanmoediging “feel the burn!”. Terwyl jou gesig al was wat dalk gebrand het en sweet jou aftap.

Terloops: Jane, baanbreker van aërobiese oefeninge in die jare tagtig, het intussen ’n joga-‘‘bekeerling’’ geword. Op 76 het sy geen einde nie, knie- en heupvervanging ten spyt. Sy het haar joga-roetine aangepas om vir pynlike osteoartritis voorsiening te maak, en het verlede jaar ’n DVD, AM/PM Yoga for Beginners, uitgereik.

In ons haastige, haastige wêreld, met stres wat soos ’n plaag onder ons maai, is joga ’n doeltreffende manier om tot stilstand te kom. Sodat jou siel jou liggaam kan inhaal, om ’n ou Indiaanse gesegde te leen.

Verbeel jou jou sintuie is skielik ná ’n slegte verkoue wawyd oop. Dis hoe ek ná elke joga-sessie gevoel het. Die lug was skielik blouer, die aarde het soeter geruik, mense was gawer. En ek? Swewend op ’n wolkie. Nee, ek het niks gerook nie! Joga se ou hippiebeeld ten spyt.

Ek het Kaap toe getrek en die see het joga vervang. Maar iewers in my agterkop weet ek: Ek gáán weer joga doen.

Oud soos die sfinks

Joga is ’n reeks oefeninge so oud soos die Egiptiese sfinks – en dít is sowat 5 000 jaar. Die tydskrif Time het al  geskryf joga kan die mediese wonderwork van die toekoms wees. Of pure wensdenkery. Die navorsing wat gereeld in mediese joernale verskyn oor die gesondheidsvoordele daarvan, wys dis waarskynlik méér as net in jou kop. Carley Louw van Yoga Connection in Brooklyn, Pretoria, het erge angsaanvalle gekry. Sy het 25 jaar gelede ’n boek met eenvoudige joga-oefeninge in die hande gekry en begin oefen. Drie maande later was die angs minder en mettertyd heeltemal weg. In 1999 het sy die Yoga Connection begin. Vandag is daar ook in Centurion ’n tak. Met haar rustige aura voel jy dadelik aangetrokke tot haar. En haar klein lyfie kan jy net begeer.

Joga is ’n kombinasie van liggaamsposisies (asanas) en asemhalingsbeheer. Elkeen van die talle posisies werk in op en balanseer verskillende dele van jou liggaam. Jy oefen elke spier en ligament.

Hatha, aan te beveel vir beginners, is stadig en fokus op strek en om die posisie te behou; Ashtanga is vinnig en daag jou fisiek uit; Kundalini, ’n meer spirituele ervaring, verwag meditasie en dreunsang; en Vinyasa gaan oor die sinchronisasie van beweging en asemhaling. Met Bikram word die vertrek kunsmatig verhit (sowat 40 °C), en jy sweet soos nog nooit vantevore nie. Die nuutste gier is joga-in-die-lug (anti-gravity), ’n reeks oefeninge in ’n apparaat wat aan ’n hangmat herinner.

Masseer jou binneste

Joga laat ook jou ingewande oefen. Sekere posisies verbeter die bloedvloei na spesifieke organe en voorsien dit van vars voedingstowwe en suurstof. Met die skouerstand verhoog die bloedvloei na die nek en skildklier. Die kopstand doen dieselfde met die brein. Ander weer, soos die voorwaartse buk en buig van die bene op die maag, masseer jou spysverteringstelsel saggies en bevorder goeie spysvertering.

Asemhaling, soos joga dit jou leer doen, verbeter jou liggaam se vermoë om stres te verwerk. Chroniese stres put verskeie organe uit en kan tot talle hedendaagse siektes lei. Dit kan onder meer jou spysvertering belemmer, spierspasmas, depressive en slaaploosheid veroorsaak en jou immuunstelsel aftakel. Jou lyf én kop ontspan terwyl jy op jou asemhaling konsentreer, jou hart klop stadiger en jou bloeddruk daal.

Studies wys joga kan angs en stres verminder. Ook depressie, pyn en slaaploosheid. Die effek daarvan op  hartsiektes is veral goed nagevors. Dit verlaag bloeddruk en verstadig jou hartklop. Dit word ook verbind met verlaagde cholesterolvlakke. Dit kan die simptome van asma, rugpyn en artritis verminder. Sommige studies suggereer selfs dit kan ’n positiewe effek op leer en geheue hê.

Jy hoef nie jou lyf soos ’n koeksister te knoop om die voordele uit joga te put nie. Jy kry dit steeds, al kan jy aanvanklik net die eenvoudigste posisies baasraak. Soek ’n goed opgeleide instrukteur. (As jy ’n kwaal het, is dit veral belangrik.) Trek gemaklike, lospassende klere aan. Skop jou skoene uit. Haal diep asem … En strék …

Namaste (die joga-groet).

Charis Labuschagne, SARIE se skoonheidsredakteur, doen al ses jaar joga. Sy het afgeskop met Hatha en doen deesdae Ashtanga (’n kragtige vorm met ’n vasgestelde reeks bewegings waar jy van die een posisie na die ander vloei).

Die krygsmanposisie help om jou arms en bene sterker te maak. FOTO: Phyllis Green, geneem in die James and Ethel Gray Park, Johannesburg

Die krygsmanposisie help om jou arms en bene sterker te maak. FOTO: Phyllis Green, geneem in die James and Ethel Gray Park, Johannesburg

“Daar is niks soos joga om jou spanningsvlakke onmiddellik te laat daal nie. Omdat jy diep moet  asemhaal én daarop moet konsentreer, dwing dit jou om in die oomblik te wees en kalm te raak. Wanneer ek gereeld joga doen, is ek in die algemeen rustiger en meer gefokus.

“My figuur was van jongs af nogal vorentoe geboë. En nou is ek kiertsregop. Ek kan dit self eintlik nie glo nie. En hoewel ek nie gewig verloor het nie, is ek fermer en my spiere beter gedefinieer. Ek het nog nooit so goed in my lyf gevoel nie. Ek voel sterker en baie meer soepel as in my tienerjare en vroeë twintigs.’’

Haar wenke

• Spring weg met ’n beginnerklas waar die instrukteur jou presies wys wat om te doen. Joga is tegnies en dis belangrik om uit die staanspoor te leer waar jou voete, hande en arms moet wees. En hoe om asem te haal terwyl jy die verskillende oefeninge doen.

• Beproef verskillende vorms van joga totdat jy ’n soort kry waarvan jy hou en waarmee jy sal kan volhou.

• Daar is wonderlike video’s op die internet waarop instrukteurs presies verduidelik hoe om sekere oefeninge te doen. Sien dit as ekstra hulp. “Sedert ek dit doen, het my joga drasties verbeter,” sê sy.

Kontak

• Pretoria (Brooklyn en Centurion): yogaconnection.co.za

• Johannesburg: Monsoon Yoga/Facebook

• Kaapstad (Bikram): yogazone.co.za

• Landwyd: virginactive.co.za

Bronne

• Webmd.com
• Mayoclinic.com
• Virginactive.co.za

*Dié artikel het oorspronklik in ons Februarie 2014-uitgawe verskyn.