Oorleef die feestyd: wat om te drink en te eet
Dis tyd vir son en saffier, ontspan, eet en geniet! Hoe keer jy die olikheid ná die vrolikheid? Hier's 'n paar wenke vir reg eet en drink oor die jolige Kerstyd
Skrywer Mark Twain was filosofies daaroor: "Eet waarvoor jy lus het en laat die kos dit self uitbaklei."
As dít jou nie van jou eetlus beroof nie, gee Suna Kassier, dieetkundige aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, die volgende wenke om ongemak te voorkom of te verlig:
As die feesmaal later in die dag is, eet 'n ligte ontbyt en middagete. Peusel aan hoëvesel-vrugte of eet 'n sny volgraanbrood met margarien. Drink 'n halfuur vooraf 'n glas water. Dink ook hoe ongemaklik jy gaan voel as jy jouself ooreet.
Eet 'n gekookte eier of 'n sny volgraanbrood met grondboontjiebotter vóór die moeder van alle partytjies. Dit bevat proteïene en vet, wat veroorsaak dat alkohol stadiger in jou bloedstroom opgeneem word. Dit voorkom nie wingerdgriep nie, maar sal die proses vertraag. Onthou ook dat alkohol jou eetlus kan aanwakker. Peuselhappies soos aartappelskyfies en neute kan voorkom dat 'n drankie na jou kop toe gaan. Maar pasop, die soutinhoud van sulke peuselkos kan jou dors maak - en jou te veel laat drink.
Eet hoëvesel-kosse. Groente en volgraankosse beweeg vinniger deur jou spysverteringstelsel as hoëvetkos, soos vleis en ryk souse. Dit bevat boonop minder kilojoules (kJ). As jy te veel van eersgenoemde verorber, gaan jy steeds ongemaklik voel, maar minstens vir 'n korter tyd.
As jy nie jou kos behoorlik kou nie, kan dit met die spysverteringsproses inmeng en jou opgeblase en oorvol laat voel. Eet jy oorhaastig, het jy boonop te veel geëet voordat jou brein die boodskap kry dat jy versadig is.
Vermy kosse as jy wéét dit gee jou slegte spysvertering. Ryk en vetterige kos en swaar gekruides is dikwels sondaars. As jy dit nie kan weerstaan nie, eet ten minste net klein porsies daarvan.
Hokaai met partytjiekosse
![]() |
|
Heilsame happies vir die feestyd
In pleks van (links) kies eerder (regs)
| Hoendervlerkies | Gewone seekos- of garnaalkelkie |
| Gebraaide hoederstukkies | Gesnyde maer vleis |
| Stuk koek | Vrugteslaai |
| Aartappelskyfies met doopsous | Handjie vol neute, springmielies, pretzels |
| Ryk aartappelgereg | Gebakte patats of aartappels |
| Pekanneuttert | Appeltert |
| Spesialiteitskoffie | Kunsmatig versoete warm kakao |
| Aptythappie-vingerkosse | Gerookte salm op 'n volgraan-beskuitjie |
| Lekkergoed | Aarbeie met sjokolade bedek |
| Romerige doopsouse | Salsa |
Nog enetjie? Eish...
Alkohol het baie kilojoules en stimuleer jou eetlus. Beperk jou inname en drink baie water. Hier is Suna Kassier se raad as jy tóg van 'n drankie of twee hou:
Drink 'n glas water ná elkeen. Dit voorkom dat jy dehidreer. Jy drink ook minder.
Meng hardehout met baie vars vrugtesap. Meng witwyn met sodawater.
Sterk koffie om jou nugter te maak? Dis onwaar. Kafeïen is 'n opkikker wat jou brein stimuleer en jou lewendiger laat voel, ja. Maar alkohol word deur jou lewer verwerk en koffie gaan nie dié orgaan se werking versnel nie. Jy gaan dus steeds die alkohol aan jou lyf voel. Die kloppende hoofpyn die oggend ná die joligheid? Jou liggaam het gedehidreer en koffie gaan dit net vererger.
Alkohol se uitwerking is sterker as jy rook. Rokers se lywe verbrand meer voedingstowwe, veral vitamiene B6 en C, wat belangrik is om jou lewer te ontgif.
Verwante artikels
-
Geluk, Campari
SARIE - Januarie 2011
-
Oorleef die feestyd: wees veilig in die son
SARIE - Desember 2009
Dis tyd vir son en saffier, ontspan, eet en geniet! Hoe keer jy die olikheid ná die vrolikheid?
-
Vakansiekos - nóg spyskaarte
SARIE - Desember 2009
Jy kan gerus hierdie vakansie ontspan oor groot familie-etes, piekniekkos vir die strand of 'n braai saam met vriende. SARIE het vir jou 'n vakansiekos-spyskaart uitgewerk.















Kommentaar