Oorleef die feestyd: wees veilig in die son

Deur Lydia van der Merwe, SARIE - Desember 2009

Oorleef die feestyd: wees veilig in die son Foto’s: Johan Wilke Galery

Dis tyd vir son en saffier, ontspan, eet en geniet! Hoe keer jy die olikheid ná die vrolikheid?

1. Ligloop vir sonbeddens

Dis dalk die antwoord vir ’n vinnige sonbruin lyf. Maar kenners het sonbeddens na die hoogste kanker-risikogroep opgeskuif, berig Beeld, nadat hulle in Junie vanjaar in Frankryk by die International Agency for Research on Cancer vergader het. Sonbeddens is nou in dieselfde kategorie as onder meer tabakrook en asbes!

Navorsing wys as jy sonbeddens gebruik voor jy 30 is, is jou kans 75% groter om velkanker te kry. Dit kan ook ’n skaars oogkanker, okulêre melanoom, veroorsaak. Sonbeddens straal ultraviolet-strale uit wat tot 6 keer meer gekonsentreerd as die son s’n is, sê die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Dit laat jou vel ook vinniger verouder. Dit alles onderstreep aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie: Bly liewer weg! 

2. Kies 'n goeie sonbrandroom

Jare gelede was daar ’n advertensie vir ’n bepaalde sonbrandroom. ’n Hond trek ’n meisietjie se swembroekie af – en haar spierwit boudjies wys teen haar sonbruin lyf af. ’n Karikatuurtekening doen tans per e-pos die ronde. Dit wys hoe sy nou, ’n paar dekades later, lyk: Die ene velle en plooie!

Niks laat jou vel so gou verouder soos die son nie, sonbrandroom ten spyt. Daar is boonop nog geen wetenskaplike bewyse dat sulke rome melanoom (velkanker) keer nie, sê dr. Carl Albrecht, hoof van navorsing by Kansa. Gebruik nietemin altyd ’n sonbrandroom as jy in die son kom, eerder as niks nie. Hy beveel ’n SBF van 30 of meer aan.

Hoe kies jy een? Jill Gardiner, tegniese bestuurder: Cosmetic, Toiletry and Fragrance Association of SA, verduidelik.

* Daar is 2 soorte UV-strale wat jou vel beskadig: UVB (wat sonbrand ver-oorsaak) en UVA (wat jou voor jou tyd oud maak). Albei kan jou velkanker gee.

* SBF ’n Maatstaf om die room se vermoë om UVB-strale uit te filtreer te bepaal. Hoe hoër die faktor, hoe meer beskerming. As jy gewoonlik binne vyf minute begin brand, sal ’n SBF van 15 jou vel vir 75 minute beskerm, dus 15 keer langer. Die beskerming hang ook af van hoe dik jy die room aansmeer.

* Breë spektrum Dit dui (op SA produkte) aan dat dit jou ook teen UVA-strale beskerm. By Europese produkte moet jy soek vir “UVA” in ’n afsonderlike sirkeltjie. (UVA-beskerming in rome is nie wêreldwyd gestandaardiseer nie, UVB-beskerming wel. Kyk daarom vir ’n aanduiding op die verpakking dat dit ook UVA-strale goed absorbeer.)

* Waterwerend Dit beskerm jou ook in water. Dis nie waterdig nie, dit hou net langer in water as gewone rome. Smeer weer aan nadat jy in die water was. Dis ook nie wêreldwyd gestandaardiseer nie. Soek die woorde “waterwerend” en “baie waterwerend”.

3. Veilig sonbaai is ’n mite

Suid-Afrika het naas Australië die hoogste voorkoms van velkanker ter wêreld. En die meeste soorte velkanker word deur die son veroorsaak. As kinders se vel teen die son beskerm word, kan sowat 76% van alle gevalle voorkom word, sê Kansa. ’n Mooi sonbruin voorkoms lýk dalk vir jou natuurlik en gesond, maar in werklikheid word jou vel bruin as ’n verdedigingsmeganisme wanneer dit aan ultraviolet-bestraling (UV) blootgestel word.

Tot 80% van sonskade word aangerig vóór jy 18 is. Al het jy net één keer in jou kinderjare blase gebrand, vergroot dit jou kans om later in jou lewe velkanker te ontwikkel, sê Kansa.

JY KAN VELKANKER VOORKOM

* Bly tussen tienuur en drieuur, as die son op sy warmste is, binnenshuis. Of soek die skaduwee op. Wees ook op bewolkte en koel dae versigtig.

* Dra altyd ’n hoed van diggeweefde materiaal as jy lank buite is. Dra UV-beskermende klere (kyk op die etiket), ook jou swemklere.

* Dra altyd ’n sonbrandmiddel. (Sien hierbo.)

* Dra ’n donkerbril met UV-beskerming.

* Lipstiffie is een van die beste UV-beskermende produkte vir jou lippe vanweë die wasagtige basis.

* Tref ekstra voorsorg met kinders. Babas jonger as ’n jaar moenie aan direkte sonlig blootgestel word nie.

Het jy geweet?

* Sonbrandroom se rakleeftyd is twee jaar – daarna is dit minder doeltreffend.

* Gebruik ook een as jy klere van losgeweefde materiaal dra.

* Bêre op ’n koel plek. In jou motor se paneelkissie gaan dit bv. aan erge hitte blootgestel word en nie lank doeltreffend bly nie. Smeer aan 20 minute voordat jy buitentoe gaan.    

* Smeer aan 20 minute voordat jy buitentoe gaan.   

(Bron: Kansa)

Verwante artikels

  • Jou kind en aspirien

    Jou kind en aspirien

    SARIE - Junie 2009

    Hoekom is aspirien gevaarlik vir jou kind? Lees ook oor vroue en hartsiektes, jou metaboliese spoed en menstruele siklus en 'n Afrikaanse gesondheidsgids vir vroue

  • Oorleef die feestyd: wat om te drink en te eet

    Oorleef die feestyd: wat om te drink en te eet

    SARIE - Desember 2009

    Dis tyd vir son en saffier, ontspan, eet en geniet! Hoe keer jy die olikheid ná die vrolikheid? Hier's 'n paar wenke vir reg eet en drink oor die jolige Kerstyd

  • Son sonder skade

    Son sonder skade

    SARIE - Oktober 2009

    Nie net kan jy deesdae die son (altyd matig!) geniet sonder om te brand nie – nou kan jy ook kies watter skakering van bruin jy wil wees – sonloos!

  • Son-vriendelik en slim

    Son-vriendelik en slim

    SARIE - Oktober 2009

    Die weelde van somerson verdryf die winterkoue finaal, gee nuwe energie en maak jou lus vir die lewe. Maar jy moet jou sonstorie ken om die nadele te vermy. Debbie D'Aquino, adjunk-president van produkontwikkeling by Clinique, gee die feite.

  • Sonskerm in 'n armband

    Sonskerm in 'n armband

    SARIE - Oktober 2009

    Hoe heerlik om die son se strale warm op jou vel te voel. Geniet dié somer die son se warmte sónder die skade.

  • Vakansiekos - nóg spyskaarte

    Vakansiekos - nóg spyskaarte

    SARIE - Desember 2009

    Jy kan gerus hierdie vakansie ontspan oor groot familie-etes, piekniekkos vir die strand of 'n braai saam met vriende. SARIE het vir jou 'n vakansiekos-spyskaart uitgewerk.

Kommentaar

Web Development by FormFunction