Gesondheidstories

Ou gene, nuwe lewe

Ons almal is aan die wispelturigheid van ons gene uitgelewer. Nou kan ’n eenvoudige genetiese toets bepaal of jy ernstige siektes met die regte leefstyl en dieet kan vryspring.

deur LYDIA VAN DER MERWE
Foto Photo Access

Dis 2020 en jy besoek’n dieetkundige omdat jy oorgewig is. Hy versamel selletjies binne jou wang met ’n oorgroot “oorstokkie’’ en dit word na ’n laboratorium gestuur. ’n Paar dae later kry jy ’n nommerpasdieet en leefstylplan wat die vetjies summier laat wegsmelt.
Eendag, sê futuriste, sal al ons kwale moontlik met só ’n individuele dieet behandel kan word. Dié dieet – en so ook medikasie – sal spesifi ek volgens jou genetiese profiel “ontwerp’’ wees. En ja, daar kan inderdaad binnekort selfs genetiese riglyne wees oor die maklikste manier waarop jy gewig kan verloor. Totsiens dr. Atkins en genote! Navorsers het naamlik vasgestel dat die manier hoe verskillende mense op diëte en medikasie reageer, grootliks deur hul genetiese samestelling bepaal word. Dis dus in jou gene geskryf – ook watter siektes jy moontlik kan ontwikkel. Dié navorsing het reeds só gevorder dat dit “dieetraaisels’’ kan oplos wat wetenkaplikes lank laat kopkrap het.

Klink dit bekend? Jy sny alle versadigde vette uit jou dieet, maar jou cholesterolvlakke bly hoog. Of jy wyk nie ’n aks van jou dieet af nie, maar verloor nie gewig nie. Suid-Afrika is voor in die koor met dié opwindende navorsing. Ons is ook een van die eerste lande ter wêreld waar genetiese toetsing en dieet-terapie gekombineer word. Dr. Maritha Kotze, hoof van Genecare, ’n molukulêre genetiese laboratorium in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad, sê die Menslike Genoom-projek (MGP), wat in 2000 voltooi is, hou groot beloftes vir die mediese wetenskap in. (Daar is nou ’n volledige “kaart’’ van al die gene in die menslike liggaam.) Een van dié beloftes is geen-terapie: Wetenskaplikes hoop om eendag afwykende gene deur gesondes te vervang. As jy dus ’n geen vir hoë cholesterol het, kan dit vervang word en jou en jou nageslag baie moeite en verdriet bespaar. Dié soort behandeling is egter nog ver van werklikheid af. Hoewel intensiewe navorsing die afgelope dekade of wat gedoen is, was dit tot dusver nie baie suksesvol nie.

’n Meer onmiddellike voordeel is dat die MGP genetiese tegnologie drasties verbeter het. Dit is danksy hierdie tegnologie dat ’n vinnige en kostedoeltreffende manier ont wikkel is om gene te identifiseer wat later kan lol – nog lank voor dat enige simptome kom aanklop. Die genetiese identifikasie word deur Genecare gedoen. Meer as 400 dieetkundiges is sedert 2003 landwyd opgelei om ’n dieet-en-leefstyl-plan, wat spesifiek op jou genetiese profi el gegrond is, saam te stel. (Kyk op Genecare se webblad www.genecare.co.za vir meer besonderhede.)

Het jy geweet?
Net sowat 5% van kanker kom in families voor. In ander gevalle is daar ’n komplekse wisselwerking tussen jou gene, dieet en ander leefstyl-faktore soos vetsug en rook.
Sowat die helfte van die mense met kardiovaskulêre siektes rook nie, het nie hoë bloeddruk of cholesterol nie en is nie oorgewig nie. Vetsug verhoog jou risiko vir kankers van die bors, kolon-rektum, slukderm, niere en endometrium (slymvlies wat die holte van die baarmoeder bedek). Drie uit vyf mense het ’n risiko om kanker gedurende hul leeftyd te ontwikkel. Daar word voorspel dat een uit elke vyf van dié mense weens kanker gaan sterf. Bron: Genecare

Jou gene, hulle gene
Volgens Yael Joffe, ’n dieetkundige van Kaapstad, is jou DNS 99,9% identies aan ander mense s’n – daar is ’n verskil van net 0,1%. Die rede? Dis wanneer daar ’n verandering (mutasie) in die struktuur van jou DNS-kode is. Dis soos om ’n koek te bak en ’n bestanddeel verskil van die resep s’n. Die koek gaan dalk nie heeltemal so lekker smaak nie. Sommige van dié variasies kan die liggaam se metabolisme – dus hoe voedingstowwe en gifstowwe opgeneem, verteer en weggewerk word – verander.
Dis vanweë só ’n genetiese verandering by Noord-Europeërs duisende jare gelede dat die meeste wit volwassenes deesdae melk kan drink, sonder om as gevolg van ’n laktose-intoleransie siek te word. (By die meeste soogdiere skakel die geen vir laktose-toleransie “af’’ nadat die dier gespeen is.) Daar is ’n ingewikkelde wisselwerking tussen sommige van dié geen-veranderings, jou dieet en leefstyl. Jy kan bv. geen-variasies hê wat jou meer vatbaar vir sekere siektes maak. Maar jy kan ook jou dieet aanpas om te kompenseer vir die genetiese samestelling wat jy geërf het. Voedingstowwe kan dus die manier beïnvloed hoe gene hulself “gedra’’ of uitdruk. Daar moet egter eers onderskei word tussen hoë- en lae-penetrasie-gene. Dr. Hein Badenhorst, ’n geneesheer van Brits en Genecare-raadgewer, sê hoëpenetrasie-gene is genetiese veranderings waar een geen gewoonlik voldoende is om siektes te veroorsaak, byvoorbeeld hemochromatose,  sistiese fibrose, oorerfl ike borskanker, variegata porfirie, oorerflike Alzheimer se siekte en oorerflike hipercholesterolemie (FH). Hoewel die genetiese faktor dan geweldig sterk is, is daar dinge wat jy kan doen om jou risiko te verlaag. Jy, jou spesialis en genetiese raadgewer moet saam besluit hóé.

Navorsing toon bv. Met oorerflike bors kanker kan jy jou risiko in ’n geringe mate verlaag as jy gesond lewe, nie oorgewig is nie en gereeld oefen. As jy FH het, kan medikasie – en dalk ook ’n dieet – jou cholesterol in toom hou. Daarenteen is lae-penetrasie-gene genetiese veranderings wat nie op hul eie siektes veroorsaak nie. Maar in kombinasie met die verkeerde dieet, ’n ander leefstyl en omgewingsfaktore, kan jou risiko daarvoor drasties toeneem. Hein verduidelik:
“Dis soos ’n gelaaide geweer wat oorgehaal is. Maar iemand moet die sneller trek. In dié geval is dit jou leefstylkeuses, soos jou dieet. Dis hiér waar voeding ’n wesenlike verskil kan maak. Volgens ’n artikel in die Nutritional Journal kan 60% tot 70% van kanker waarskynlik deur voeding voorkom word. Sowat agt uit tien mense sterf weens koronêre hartsiektes of kanker. Genecare fokus met hul DNS-leefstyltoets dus grootliks op dié toestande.

Leefstyl en dieetverwante genetiese toetse
Hiervoor kan jy getoets word
*Die opname van B-vitamiene
*Trombose
*Hemochromatose
*Hipertensie
*Kardiovaskulêre genetiese toetse (sluit meeste van genoemde risikofaktore vir hartsiektes in, waarskynlik ook vetsug in die toekoms)
*Risiko-vermindering van kanker
*Suiker-intoleransie
*’n Toets vir melanoom word tans ontwikkel

Die sneller word getrek
Ons weet almal dat ’n gesonde leefstyl jou risiko vir siektes kan verminder. Wat nuut is, is dat gekyk word na spesifieke afwykings in jóú gene wat met ’n spesiale leefstyl-en-dieetplan behandel kan word.

•    Daar is ’n aantal geen-veranderings wat die metabolisme van die B-vitamiene beïnvloed. Een daarvan, ’n variasie in die MTHFR-geen, kom by meer as die helfte van die plaaslike wit bevolking voor. Dit kan lei tot verhoogde homosisteïenvlakke (’n onnatuurlike aminosuur), en jou risiko vir onder meer hartsiektes, beroerte en selfs kanker verhoog. (Patrick Holford skryf selfs in die New Optimum Nutrition Bible, Piatkus-uitgewers, 2004, dat dit ook aan Alzheimer se siekte gekoppel kan word.) Dié risiko verminder drasties as jy genoeg foliensuur (’n B-vitamien) inneem. Maar Yael Joffe sê studies wêreldwyd toon die inname van foliensuur is laer as die aanbevole 400 mikrogram per dag. (En in ’n mindere mate, so ook die inname van vitamiene B6 en B12, wat met die opname van foliensuur help.) As jy dié geen-variasie het, het jy boonop dubbel dié hoeveelheid foliensuur nodig. Dit kom voor in onder meer volgraanbrood, spinasie, ertjies en lemoensap. Dis egter moeilik om so veel foliensuur net deur jou dieet in te neem en dus word aanvullings aanbeveel. (Neem ’n goeie vitamien B-kompleks-aanvulling.)

•    Navorsing toon sekere geen-variasies, wat plaaslik algemeen voorkom, maak individue meer vatbaar vir hartsiektes. Die sogenaamde E4-vorm van die Apolipo-proteïen-E-geen word verbind met ’n groter risiko vir hartsiekte in die algemeen en veral as jy rook, asook hoë cholesterolvlakke as jou dieet baie versadigde vette bevat. Mense met dié genetiese verandering reageer egter gewoonlik goed op ’n laevet-, lae-cholesteroldieet en voedselaanvullers. Jou cholesterolvlakke kan dus deur ’n dieet alleen beheer word en medikasie is nie nodig nie. As jy dié genetiese verandering het, moet jy onder geen omstandighede rook nie. Vermy ook passiewe sigaretrook. Dan is daar mense met die geen vir oorerflike hipercholesterolemie (FH). ’n Gesonde dieet alleen is gewoonlik nie genoeg om jou cholesterolvlakke te verlaag nie en jy moet medikasie neem. Sowat een uit elke 75 wit Suid-Afrikaners is draers van hierdie FH-geen. As albei jou ouers draers is, is die kans sowat 25% dat jy dit by altwee gaan erf (en dus twee kopieë gaan hê). Jou risiko is dan baie groot om aan ‘n hartaanval te sterf voordat jy twintig is. Volgens Maritha was die vreug devolste oomblik in haar loopbaan toe sy vir die ouers van ’n ongebore baba kon sê daar is geen teken van dié geen-verandering by die kind nie. Hulle is altwee draers. ’n Spesifieke groep ensieme, glutatioon-Stransferase (GST) is betrokke by die liggaam se ontgiftingsproses. Sommige mense kan aan hoë vlakke gifstowwe in hul dieet en die omgewing blootgestel word, sonder enige noemenswaardige uitwerking op hul gesondheid. Ander weer, het ’n groter kans om kanker te ontwikkel ná blootstelling aan relatief lae vlakke van sulke gifstowwe. Navorsers glo die mate waartoe jy vatbaar vir sulke skadelike gifstowwe is, word gedeeltelik deur die GST-ensieme in jou liggaam bepaal – wat weer van jou genetiese samestelling afhang. As jy geneties met normale GST-vlakke geseën is, sal jy minder geneig wees om kanker te ontwikkel ná blootstelling aan bv. sigaretrook. Is jou GST-ensiemvlakke daarenteen laag, moet jy op jou dieet staatmaak om jou teen gifstowwe te beskerm. Jy moet bv. baie groente eet, veral kruisblommige groente (soos kool, blomkool, spruitkool en broccoli) en alliumgroente(soos uie en knoffel) en minder rooivleis eet en nie rook nie.

Nog geendieet-interaksies
•    ’n Geen-verandering wat jou geneigdheid tot hoë bloeddruk verhoog, maar beheer kan word deur jou soutinname te beperk. (Daar is ander geen-variasies waar jy sout maar kan vermy, jou bloeddruk bly hoog as jy aan hipertensie ly.)
•    Nog een wat jou geneigdheid tot diepaar-trombose verhoog. Dit sluit bloedklonte op langafstand-vlugte, of sogenaamde reisiger-trombose, in. As jy dié geen-variasie het, moet jy onder meer jou koffie- en alkohol-inname verminder, die Pil en HVT vermy, daagliks omega-3-vetsure inneem en oefen. (Daar is medikasie beskikbaar vir mense met dié genetiese verandering wat ver moet vlieg.)

Ystervrou!
Hemochromatose is ’n genetiese toestand waar die liggaam oormatig yster opneem en berg. Dit kom plaaslik taamlik algemeen voor: Sowat 1 uit elke 100 wit Suid-Afrikaners het die genetiese verandering wat dit kan veroorsaak. Die simptome is baie dieselfde as dié van ’n ystertekort – moegheid, swakheid en ongereelde menstruasie. Dit kan die oorsaak wees van onder meer hartsiektes, ’n vergrote lewer, sirose, lewerkanker, artritis en diabetes. Behandeling sluit onder meer in om gereeld bloed te laat, yster in die dieet te verminder (bv. rooivleis te vermy), en nie vitamien C-aanvullings te neem nie (dit help met die opname van yster uit kos).

Hoe word die toets gedoen?
Volgens Hein Badenhorst kan die genetoets die teen woordigheid van kanker en/of hartsiektes in jou familie verklaar. Maar al “loop’’ sulke siektes nie in jou familie nie, kan jy steeds daarby baat vind. Want dit ontwikkel dikwels by mense wat geen familiegeskiedenis daarvan het nie. Dis voorts ’n sterk motivering om jou leefstyl te verander. Jy is nou bewus van die geen-veranderings waarmee jy gebore is, die siektes wat dit kan veroorsaak en hoe jy dit kan voorkom. Die toets is eenvoudig: Moenie 1 tot 2 ure voor die tyd eet nie. Jy gebruik iets wat lyk soos ’n groot oorstokkie, met watte aan albei kante. Daarmee vee jy sowat 30 sekondes aan die binnekant van jou een wang, draai die stokkie om en doen dieselfde aan die ander kant. Maak klein sirkelbewegings en versamel só die selle. (Dit kan ook met ’n bloedtoets gedoen word, maar mense hou minder daarvan.) Jy voltooi ook ’n vraelys oor jou dieet, leefstyl, familie- en mediese geskiedenis, wat in samehang met jou gene geevalueer word.

Jy besluit ook of jy jou vir kanker of hartsiektes wil laat toets. Dit word dan na Genecare in Kaapstad gestuur. ’n Omvattende verslag word binne twee tot drie weke aan jou dokter/dieetkundige gestuur. Dit bevat onder meer aanbevelings oor leefstyl- en dieetveranderings. Die toets is eenmalig, maar die genetiese materiaal word gehou en is beskikbaar as jy jou vir ’n ander toestand wil laat toets. Die koste wissel tussen R1 000 en R3 000. Die meeste siekefondse betaal daar oor. (Moti verings is by Genecare beskikbaar.)

’n Buitelandse maatskappy beplan om vroeg aanstaande jaar plaaslik ’n tuistoets vir inflammatoriese siektes (wat van hart siektes tot artritis kan insluit) bekend te stel. Jy sal dan vitamiene op grond van jou uitslag kan koop. Dis nog ’n ope vraag of die regering dit gaan goedkeur. Medici beveel dit glad nie aan nie. Hulle reken mense se onkunde oor genetika gaan uitgebuit word.

*Navrae: Dr. Maritha Kotze: Bel haar by 021 424 6504 of 021 422 5538 of stuur ‘n e-pos na mjk@genecare.co.za of besoek die webblad www.genecare.co.za
Dr. Hein Badenhorst: 082 558 7159.
**Ander bronne: The Guardian, TLC,
Heart Magazine, www.health24.co.za