FOTO Unsplash

Gesondheidstories

Pasop! vir die pille in jou laai

Drink jy gereeld hoesmedisyne? As jy die dag nie “lekker” voel nie, laat ’n pynpilletjie jou darem so ’n bietjie beter voel? Wees versigtig: Dis maklik om aan oor-die-toonbank-medikasie verslaaf te raak … 

SARIE-leser vertel

Ek het in my 20’s en 30’s baie gesukkel met hoof- en rugpyn.

Dikwels het ek ook te veel wyn gedrink. Kodeïen was die “perfekte oplossing” – wat is makliker as om ’n paar pille te sluk vir pyn of ’n babelas?

Aanvanklik was dit een of twee pille. Later vier. Maar ongelukkig laat spesifiek kodeïen jou nogal eufories voel. Veral saam met alkohol. Dit is asof jy van al jou sorge vergeet. In my laat 30’s het ek dit as susmiddel voor werk gebruik. Nie noodwendig omdat ek pyn of ’n babelas gehad het nie – maar soms ook daarvoor.

Later het ek tot agt pille per dag gedrink. As ek “baie pyn” gehad het, tot tien of veertien.

Groot dele van die lewe gaan by jou verby. Jy beweeg in ’n droomwêreld, in ’n sagte waas. Die gevaar is, jy beleef aanvanklik net die “positiewe”. Veel later besef jy dit het ’n houvas op jou, dat jy nie meer ’n dag wil of kan aanpak daarsonder nie. Dat jy “bang” is om na ’n partytjie of werk toe te gaan sonder jou “versterking”.

Op ’n dag het ek wakker geword en besef ek het die vorige aand sestien pille saam met wyn gedrink. Ek het so geskrik – ek kon gesterf het. Ek is na ’n rehabilitasiesentrum.

Die onttrekking was erg, veral as jy dit sonder mediese bystand doen, iets wat my keuse was. Jou liggaam pyn, jy kry erge hoof- en lyfpyne en raak angstig. Dit het sowat ’n maand geduur. Vandag weet ek toonbankmedisyne moet met sorg, en onder mediese toesig, gebruik word.


Hoe weet jy dat jy verslaaf is

Die DSM V, oftewel die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders, 5th Edition, is die diagnostiese “bybel” van psigiatriese steurings, en bied sekere kriteria vir verslawing.

Gebruik dit as ’n objektiewe maatstaf:

• Gebruik jy groter dosisse medikasie oor ’n langer tydperk as wat jy aanvanklik wou?

• Voel jy gedurig jy moet met die medisyne ophou of minder daarvan gebruik?

• Bestee jy te veel tyd daaraan om opioïede in die hande te probeer kry, te gebruik of om te herstel daarvan?

• Het jy sterk cravings?

• Kom jy [weens jou misbruik] belangrike verantwoordelikhede by die werk of huis nie na nie?

• Hou jy aan om die medikasie te gebruik, al veroorsaak dit dikwels interpersoonlike probleme?

• Sal jy belangrike sosiale, werk- of ontspanningsaktiwiteite mis om eerder jou medikasie te gebruik?

• Gebruik jy herhaaldelik opioïede in situasies waar dit fisiek gevaarlik is, soos as jy moet bestuur maar nie by jou volle positiewe is nie?

• Hou jy aan om die medisyne te gebruik, al weet jy jy het ’n chroniese of herhaalde fisieke of sielkundige probleem wat daardeur veroorsaak of vererger word?

• Kom jy agter dat jy ál meer medikasie moet neem om dieselfde effek te kry?

• Ervaar jy onttrekkingsimptome as jy nie die medikasie neem nie?

As jy twee of meer van hierdie simptome oor ’n tydperk van 12 maande ervaar, dui dit op ’n gebruiksteuring. Ses of meer simptome dui waarskynlik op ’n ernstige probleem. Kry dadelik hulp.

Lees meer oor dié onderwerp in die Februarie-uitgawe van SARIE, te koop tot Sondag 19 Februarie.

FEBruair sarie diaan lawrenson 2017Lees nou

Wat jy moet weet as jy op die pil is

#KanEkDitGlo: Dít help vir paniekaanvalle

Bang vir die kJ in jou drankie? Kies eerder dít