FOTO: Instagram  @inarebelheart

FOTO: Instagram @inarebelheart

Gesondheidstories

Probiotika, pro-gesondheid!

Dis ’n gonswoord onder gesondheidsbewustes. En jy sal verbaas wees waarvoor dit als help.

Ons is toe nie alleen nie. Die aliens is binne jou! ’n Komplekse ekostelsel – ’n sosiale netwerk – van triljoene bakterieë en ander mikroörganismes floreer in veral jou dermkanaal.

Vir elke menslike sel in jou lyf is daar tien bakteriële selle.

Die studie daarvan het as navorsingsveld ontplof. Dit help ons met basiese fisiologiese prosesse – van spysvertering tot groei.

Baie van hierdie bakterieë speel ’n belangrike rol in jou gesondheid. Dit breek gifstowwe af, vervaardig sekere vitamiene en aminosure, en vorm ’n versperring teen bakterieë wat siektes kan veroorsaak, volgens die tydskrif Nature (www. nature.com).

Die ideale verhouding tussen die bakterieë is 85% “vriendelikes” en 15% “onvriendelikes”. Antibiotika, swak voeding, inflammasie, stres, chroniese medikasie en ander faktore maai egter onder die “vriendelike” bakterieë en versteur die delikate balans. Hulle kan dan nie meer belangrike take so goed soos altyd doen nie.

Wanneer dit gebeur, kan probiotika help. Dis mikroörganismes/kulture wat die bakteriebalans in jou dermkanaal kan verbeter. Dit kom onder meer voor in natuurlike jogurt (nie bevrore jogurt nie), kefir (’n gegiste melkdrankie), miso (gegiste sojaboon-smeer) en tempeh (’n tradisionele sojaproduk). Wanneer jy inkopies doen, wees op die uitkyk vir kos met “bevat lewende aktiewe kulture” op die etiket. Jy kan ook ’n aanvulling in ’n gesondheidswinkel of apteek koop.

Onthou net, wanneer jy probiotika begin gebruik, kan jy aanvanklik ongemaklik en opgeblaas voel. Daar woed dan skielik ’n “burgeroorlog” in jou ingewande tussen die “vriendelike” en “onvriendelike” bakterieë. Die simptome verdwyn sodra die “vriendelikes” die veldslag wen, sê prof. Patrick Bouic, ’n immunoloog aan die Universiteit Stellenbosch.

Hiervoor help dit

Die navorsing is klinkklaar

  • Diarree weens ’n virus – behandeling en voorkoming
  • Diarree wat met antibiotika verband hou

’n Sterk moontlikheid

  • Kos-allergieë en -intoleransies (Anders as met allergieë, is die immuunstelsel nie by intoleransies betrokke nie. Jou liggaam sukkel egter om die spesifieke kossoort te verteer.)
  • Laktose-intoleransie
  • Prikkelbarederm-sindroom (PDS)
  • Crohn se siekte (’n chroniese inflammatoriese dermkanaalsiekte)
  • Ekseem

Hou dop

  • Allergiese rinitis
  • Asma
  • AD(H)D
  • Outisme
  • Koliek
  • Voorkoming van kolonkanker
  • Sistiese fibrose
  • Rumatoïede artritis en ander chroniese inflammatoriese toestande

Bron: Departement gesinsmedisyne, Universiteit van Wisconsin-Madison (www.fammed.wisc.edu)

Neem dit dan

Jy is altyd moeg en jou kop voel dof, verduidelik prof. Bouic. Jou maag voel en raas soos ’n sementmenger. Dis omdat kos gis, eerder as wat dit verteer. Jou maag voel opgeswel en seer as jy eet. Jy is hardlywig en/of het diarree. Dit alles voorspel niks goeds vir jou gesondheid nie.

Watter aanvulling?

Die belangrikste: Kies ’n produk met baie verskillende stamme (strains), beveel prof. Bouic aan. Koop verkieslik ’n produk wat jy in ’n yskas moet bêre, want dit help die bakterieë om langer te leef. Sommige vriesgedroogde soorte het na bewering nie verkoeling nodig nie. Beskerm dit ook teen direkte lig. En wissel verskillende handelsmerke gereeld af, want almal verskil, beveel hy aan.

Hoeveel daarvan

Een biljoen kolonie-vormende eenhede (CFU) per dag. (Kyk op die etiket.) Vir Crohn se siekte of PDS beveel sommige kenners 100 biljoen CFU aan. Sommige kenners beveel aan jy moet dit op ’n leë maag neem, want daar is dan minder maagsure teenwoordig.

Hoe lank

Jou simptome sal dit bepaal. Enigiets tussen 2 weke en 2 maande om die ingewande se “gesonde” bakterieë te her-koloniseer. Jy kan dit daarna 2 – 3 keer per week neem. Neem langer vir Crohn se siekte of PDS.

Neem 2 uur voor of nadat jy antibiotika drink. Begin so gou moontlik daarmee en gebruik tot minstens ’n paar dae nadat jy jou kursus voltooi het. (Sommige kenners sê tot 2 weke daarna.)

Gaan die bakterieë lewend my ingewande bereik?

Dit is belangrik dat dit die maagsuur oorleef. Ook die spysverteringsappe en galsoute in die duodenum (eerste helfte van die dunderm). Die meeste probiotika het bestanddele om die bakterieë teen vertering te help beskerm, soos ’n spesiale lagie om kapsules.

Wat is prebiotika en sinbiotika?

Hand aan hand met probiotika gaan prebiotika, wat die groei en werking van die “vriendelike” bakterieë in jou spysverteringskanaal stimuleer. Dis gewoonlik onverteerbare of minder verteerbare koolhidrate (vesel) wat nie verteer voor dit in die dikderm is nie, sê Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl. Bronne is onder meer preie, uie, aspersies, piesangs, knoffel, Jerusalem-artisjok en onverwerkte koring en hawermout. Sommige aanvullings meng pro- en prebiotika en dít staan bekend as sinbiotika.

Die mees algemene prebiotika wat in aanvullings gebruik word, is frukto-oligosakkariede (FOS). Dis plantsuikers in vrugte, groente en graan. Die dosis FOS is 10 gram daagliks vir hardlywigheid, maar 4 – 10 gram om die “goeie” bakterieë in jou dermkanaal aan te vul. (Kyk op die etiket.) Newe-effekte: Dit kan jou opgeblase laat voel en soms geringe maagkrampe veroorsaak, maar dis raar in klein dosisse (minder as 10 gram FOS).

Vitamien A

Die derde been van die driemanskap (saam met pro- en prebiotika) is vitamien A, sê Mariza. Geel en donkergroen groente en geel vrugte bevat karotenoïede wat jou liggaam in vitamien A omsit. Dierlike bronne van vitamien A is egter ook baie belangrik: Volroom-kase, eiergeel, lewer en niertjies, room en die vet van diere wat natuurlike weiding geëet het.

FOTO: Instagram  @rena5512

FOTO: Instagram @rena5512

Nuut!

Een van die jongste gesondheidsgiere is kefir, ’n gegiste melkdrankie wat jy met ’n spesifieke jogurt(kefir)-plantjie maak. Dis uitstekend vir jou goeie flora en tans word baie navorsing daaroor gedoen. Vra rond vir iemand met ’n plantjie. Of koop die korreltjies by theprohealthshop.com

Laat jou mikroflora blom

  1. Verminder “onvriendelike” bakterieë se kos. Sny alle vorme van suiker uit. Ook groente met baie suiker soos pampoen en patats. En vermy alkohol en gegiste produkte soos Marmite, Bovril, sojasous, balsemasyn, wyn en bier.
  2. Herbou jou “reënwoud” van superster-bakterieë. Koop probiotika-aanvullings of gebruik natuurlike bronne soos Bulgaarse jogurt, karringmelk en tofu (’n sojaboon-produk).
  3. Vermy geprosesseerde, verfynde kosse. Eet genoeg vesel in kosse soos groente, bone, neute, sade en volgraan.
  4. Bekamp kos-intoleransies. Los moontlike “probleem”-kos vir ’n proeftydperk van twee weke. As jou simptome nie verbeter nie, konsentreer op ’n volgende moontlike sondaar. Vermy kosse wat simptome veroorsaak 3 – 6 maande lank en voeg dit dan geleidelik weer by jou dieet. As dit steeds probleme veroorsaak, los weer.

Bron: Prof. Bouic

KONTAK

Lees ook: “Flora in jou maag: Die rede vir onvrugbaarheid en vetsug?”