FOTO Instagram (@selenagomez)

FOTO Instagram (@selenagomez)

Gesondheidstories

Selena vat blaaskans weens lupus

Die sangeres en gewildste mens op Instagram gaan vir eers ’n ruskans vat van haar bedrywige loopbaan.

Die 24-jarige ster ly aan lupus en het aan People vertel dat sy die tyd gaan gebruik om haar angs, paniekaanvalle en depressie weens die siekte aan te spreek. Dis nou tyd om na haarself om te sien.

Selena het in 2013 ook chemoterapie ondergaan as behandeling vir lupus.

Wat is lupus?

Dit word as die “stil siekte” beskryf. ’n Siekte waar die liggaam sy eie gesonde weefsel aanval. En dikwels neem dit jare om dit te diagnoseer.

Dis ’n outo-immuunsiekte. Die algemeenste en gevaarlikste soort is sistemiese lupus eritematose (SLE), ’n chroniese siekte van die bindweefsel. Dit het ’n uitwerking op verskeie liggaamstelsels en is bekend as die “groot nabootser” omdat dit simptome met soveel ander siektes deel.

Dit kan die vel aantas (velletsels en pynlike swelsels wat soos opgehewe kneusplekke lyk), asook gewrigte (vingers, hande, polse en knieë), niere, longe, hart en senuweestelsel.

Sowat 1 uit elke 250 mense ontwikkel dit. Daar is nie ’n kuur nie en simptome word met immuun-onderdrukkers (soos kortikosteroïede) beheer.

Simptome kan die volgende insluit:

• Geweldige moegheid
• Laegraadse koors
• Kwaai gewrigs- en spierpyn
• Veluitslag op lyf
• Gewigsverlies
• Sensitiwiteit vir die son
• Swak sirkulasie in hande en voete
• Haarverlies

Daar is bekendes wat openlik met lupus saamleef en bewys dat dié “stil” siekte hulle nié onderkry nie.

Lady Gaga – sanger

 

Seal – sanger

 

Elaine Paige – Britse aktrise

Die Grammy-wenner Michael Jackson het voor sy dood in 2009 ook aan lupus gely.

Verlede jaar het een van SARIE se Voorbladgesig-finaliste, Marié Lourens, vertel dat sy aan dié outo-immuunsiekte ly. Die toestand is in 2014 by haar gediagnoseer.

“Ek was nog nooit vantevore siek nie. Om chroniese medikasie te gebruik is moeilik. Ledemate wat pyn en uitputting is onder meer simptome, maar ek is glad nie siek nie en geniet die lewe.”

Lees Marié se volledige storie in ons Julie-2016 uitgawe.

Hier praat sy oor haar siekte

Lees nou

Malaria – stil, dodelike vyand

Zika-virus veroorsaak toe wel klein skedels