Gesondheidstories

Siek? Gaan huis toe

Nies, snuif, nies, hoes… jy voel soos ’n wandelende advertensie vir verkouemedisyne. Dalk het jy griep. Is dit dapper van jou om jou moeë lyf werk toe te sleep – bloot dom?

deur LYDIA VAN DER MERWE
foto LORENZO MANCINI

Jy is trots op jou werk geskiedenis – jy mis nooit ’n dag by die werk nie, al voel jy ook hóé siek. Tawwe Tienie, nè? Die base behoort trots te wees op jou. Maar pasop, jy kan jou gesondheid in gevaar stel. ’n Studie wat in die Amerikaanse Journal of Public Health gepubliseer is, het bevind siek mans wat weier om by die huis te bly is besig om stadig maar seker ’n hartaanval-tydbom te stel. Mans wat hul gesondheid as “ongesond” beskryf en nooit siekteverlof neem nie, het ‘n twee keer groter kans op ‘n ernstige hartaanval. Want die liggaam het elke dag genoeg rus nodig – selfs meer as jy nie lekker voel nie.

Ons praat nie eens van iets erg aansteekliks soos bv. waterpokkies nie, maar alledaagse kwale soos verkoue en griep, siektes waarna jy ná ’n dag of twee se rus weer op en wakker voel.

Feit: Die deursneevolwassene kry twee tot vier keer per jaar verkoue. En as jy ’n vrou met klein kinders is, kan dit selfs ses tot agt keer per jaar wees. En hier is gesonde mense ter sprake, sê dr. Linda Friedland, geneesheer van Johannesburg, openbare spreker en skrywer van die boek Self – die essen siële gesondheids- en lewenstylgids vir vandag se vrou (Tafelberg, 2005).

Maar in die bed bly? Volgens Johnny Johnson, uitvoerende hoof van AIC Insurance in Port Elizabeth, het tot ’n derde van Suid-Afrikaanse werknemers verlede winter siekteverlof geneem weens virusontstekings van die asemhalingstelsel, insluitende griep. (Dié maatskappy spesialiseer in die proaktiewe bestuur van siekteverlof.) Die hoogste afwesigheidsyfer was in Mei. Dié tuisblyery het maatskappye wat by die studie betrek is, elke keer sowat R500 per persoon gekos. Onregstreekse koste weens die verlies aan produktiwiteit en personeelvervanging kan dié bedrag drie tot vier keer vergroot. In Europa is ’n beginsel gebore waarvolgens maatskappye nie siek- en gewone verlof skei nie: Jy kry ’n sekere aantal dae en dis dit. As jy dus weens siekte by die huis bly, gebruik jy tyd waarmee jy later op die strand kon lê. Volgens Johnny maak Suid-Afrikaanse wetgewing en die vak – bonde dit moeilik om soortgelyke maatreëls hier in te stel. Aan die positiewe kant sal dit jou verplig om beter na jou gesondheid te kyk. Dié maatreëls diskrimineer egter teen mense met MIV, diabetes en ander chroniese siektes.

Bly maar in die bed.
Oorsese maatskappye kyk egter toenemend na die ander kant van die munt. Wat kos dit die maatskappy as jy wel werk toe gaan en as ’t ware net jou sitplek warm hou? As jy siek is, is jy nie baie produktief nie. Jou toe neus en seer kop maak dit moeilik om te konsentreer. Jy is vakerig – deels weens die pille wat jy drink, deels omdat jy die vorige nag dalk sleg geslaap het. Jy werk stadiger, moet take oordoen, blaf op kollegas … en voel ellendig. En dan steek jy dalk ook jou kollegas aan. Dalk moes jy tog maar in die bed gebly het … Volgens die Cornell-instituut vir gesondheid en produktiwiteit in Washington besef werkgewers nog nie watter uitwerking siek werknemers wat kom werk op hul onderneming kan hê nie. Die Harvard Business Review heg ’n geldwaarde daaraan: Dit kan Amerikaanse maatskappye tot sowat $150 miljard (sowat R900 miljard) per jaar kos. Johnny sê plaaslike statistieke is nie beskikbaar nie. Maar as jy siek werk toe gaan omdat die maatskappy maatreëls het om mense vas te vat wat onnodig wegbly, kan jy inderdaad net ’n vyfde wiel aan die wa wees. Justin Spring skryf in The Little Cold Book: Advice, Remedies & Bedside Amusements (Quirk Books, 2005) dat jy tuis bly omdat jy goor voel en gouer beter wil word. Dis egter ook net goeie maniere. As jy nies en proes en kieme in al vier windrigtings strooi, doen jy jou kollegas ’n onguns aan.
Ons neem dikwels nie verkouesimptome ernstig op nie. Ernstiger kwale, soos brongitis en selfs meningitis en long – ontsteking, kan egter aanvanklik ooreenkomste met ’n verkoue toon. En selfs al is dit net ’n “gewone” verkoue, sal jy gouer gesond word as jy die pas bietjie markeer – jou liggaam gebruik dan al jou energie om die siekte te beveg.

Slaap is nou eenmaal die natuur se geneesmiddel. Dr. Charl Stevens, ’n geneesheer van Hartbeesfontein met ’n belangstelling in psigoneuro-immunologie (PNI), sê as die immuunstelsel besluit om teen ’n ongewenste indringer op te tree “kommandeer” hy ander selle op wat spesifieke take moet verrig. Dié selle stel die brein in kennis dat daar nou oorlog gaan wees. Jy voel bietjie beduiweld, wil nie eet nie, soek nie geselskap nie, is nie lus vir seks nie en wil net lê. Die immuunstelsel vra as’t ware dat jy jou asseblief moet isoleer en gaan rus sodat sy “soldate” jou ten beste kan verdedig. Maar wie luister nog vandag daarna? Ons is gekondisioneer om alles met ons kop uit te werk en steur ons nie aan ons emosies nie, sê hy. Eers dan kom simptome soos hoofpyn en koors. En nóú luister jy – dalk. ’n Seer keel, toe neus, hoes en nies kan simptome van verkoue óf griep wees. Griep het egter ’n wyer reeks simptome – soos koors, hoofpyn, lyfseer, ontsteekte slymvliese, moegheid – en jy voel dus ellendig. Verkoue en griep kan tot sekondêre bakteriële ontsteking van die asemhalingstelsel lei. Voorbeelde is brongitis, laringitis, middeloorontsteking, sinusitis en long – ontsteking (net in ernstige gevalle). Antibiotikum help nie vir verkoue en griep nie, maar wel vir só ’n sekondêre infeksie. Koors is koning: Dit dui gewoonlik op iets ernstigers as verkoue. Tweede is hoofpyn. As jy ’n hoofpyn saam met koors het, lê daar waarskynlik ’n rowwe week vir jou voor. Ander simptome, wat op iets meer as verkoue kan dui, is ’n seer lyf en gewrigte, moegheid, duiseligheid, uitslag, vomering en diarree.

Al weer siek?
Jy voel góór, maar jou baas dink jy is ’n robot wat net moet voortploeter. Linda sê jou prestasies in die verlede moet nou namens jou praat. Mense kan jou net as “lui” beskou as jy regtig is. Die werklikheid is dat almal siek word. Volgens Charl maak dit hom sommer vies. “As ek dink ’n pasiënt is siek genoeg om siekteverlof te kry, gee ek dit as deel van die behandeling.” Maar aan die ander kant weet hy van dokters wat mediese sertifikate verkoop. As só ’n dokter betrap word, sal die Raad vir Gesondheidsberoepe hom/haar vasvat. Pa siënte kan ’n dokter ook met goeie toneel spel oortuig hulle is siek. Hoe betwis jy dit as iemand jou vertel hy/sy het ’n geweldige migraine of rugpyn? Dit gebeur dan dat sulke pasiënte tot vervelens toe na spesialiste verwys word.

Dr. Marietjie van Rooyen van die departement huisartskunde aan die fakulteit geneeskunde aan die Universiteit van Pretoria, wys daarop dat die Wet op Basiese Diensvoorwaardes vereis dat jy ’n mediese sertifi kaat inlewer as jy meer as twee dae ná mekaar of meer as twee keer binne agt weke siekteverlof neem. As jy nie op versoek van jou werkgewer ’n mediese sertifikaat kan ingee nie, is hy/sy nie verplig om jou te betaal vir die dae dat jy afwesig was nie. As die werkgewer vermoed die sertifikaat is “gekook”, kan hy op ’n tweede doktersmening aandring. Jy kan ook aanmekaar siekteverlof neem weens ’n totaal ander rede: Dalk is dit ’n onbewustelike roep om hulp. Jy is bv. Onder druk weens onredelike eise wat by die werk aan jou gestel word, maar jy kan dit nie met ’n outokratiese hoof bespreek nie. Of jy het persoonlike probleme by die huis.

En as jy tuis bly, maar tog só skuldig voel?
Linda sê skuldgevoelens is ’n algemene probleem by mense wat baie gemotiveerd is, veral as jy in ’n span werk en voel jy laat jou kollegas in die steek. Maar as jy siek is
en werk toe gaan, is jy onproduktief en jou toestand kan boonop vererger. Rus, drink baie vloeistowwe en moenie dat skuldgevoelens jou nog meer tap nie. Binne ’n dag of twee is jy weer op die been en kan jy met nuwe ywer gaan werk. Charl reken as jy sulke skuldgevoelens het, moet jy aan jou selfbeeld werk. Hoekom jou behoeftes ondergeskik aan ander mense se goedkeuring stel? Of dalk is jy regtig nie siek nie? As jy werk toe gaan en die hele kantoor snuif en nies daarna, moenie te skuldig voel nie. Daar swerf baie kieme rond – bolugweginfeksies alleen kan deur meer as 300 virusse veroorsaak word. Kieme kom oral voor en mense – veral kinders – is hul vervoermiddel. Jy kan ’n infeksie kry van vriende, deurknoppe, lessenaars, telefone, ander mense se hande, noem maar op. Wie kan sê waar jou pad met ’n kiem gekruis het? Jy kan wel iets doen om die verspreiding daarvan te verminder:

•    As jy nie ’n sneesdoekie byderhand het nie, nies of hoes in die buig van jou elmboog. Dit voorkom dat jy kieme versprei as jy weer met jou hand aan goed raak. Die meeste infeksies word deur die hande versprei.
•    As jy nies, kan jy iemand tot 50 meter van jou af aansteek. Hou dus jou sneesdoekie voor jou mond en neus, en gooi dit daarna weg.
•    Was jou hande gereeld sowat 20 sekondes lank met seep en water. Ook as jy jou kind se loopneus afgevee het.
•    As jou neus loop, probeer om nie te na aan mense te staan nie. (Jy kan wel jou baas soengroet!)

En as jy gereeld onnodig siekteverlof neem: Pasop! AIC Insurance werk die profiel van siek werknemers vir maatskappye uit. As jou “siektes” ’n patroon vorm, bv. telkens die laaste Vrydag van die maand, kan jy dalk net op die rooi tapyt beland.

* Bykomende bron: www.messenger-inquirer.com
** Vir meer inligting oor die voorkoming van griep besoek die webblad www.coldandflu.co.za
*** Besoek die webblad www.aicinsurance.co.za

Erg siek – of net knieserig?
Die gerespekteerde mediese webblad www.webmd.com gee die volgende 8 simptome waarmee jy kan bepaal of jy ’n verkoue of iets ergers onder lede het

1. Snuif-snuif
•    As jy aanmekaar snuif, maar nie ’n seer lyf of hoofpyn het nie, is dit waarskynlik ’n allergie. Gaan maar werk toe!
•    Jy snuif, jou lyf is seer, jy is moeg en het koors. Jy kry verkoue of griep en dis die eerste paar dae aansteeklik. Erken dit maar, jy voel goor! Jy gaan nie veel by die werk uitrig nie. Jy gaan ook vinniger gesond word as jy nou rus.

2. Kouekoors
•    As jou klere deurweek is, het jy waarskynlik koors. (’n Warm kop kan op ’n lae koors dui – of niks beteken nie!) Bly by die huis – jy gaan ander mense aansteek. Dis dalk griep of verkoue. Drink baie vloeistowwe.
•    Jy het koors plus wit kolle op jou mangels (sê “ah!”). Dit kan ’n bakteriese keelinfeksie (strep throat) wees. Dis hoogs aansteeklik en jy moet dalk antibiotikum neem. Gaan spreek jou dokter.

3. Hoes
•    Jou keel jeuk, of dit voel soos ’n postnasale afskeiding/drup. Dis waarskynlik weens ’n allergie of verkoue. As jy nie simptome soos ’n seer lyf of koors het nie, gaan werk toe.
•    As die hoes “diep” voel, jou kortasem maak en met geel speeksel gepaard gaan, kan dit dalk brongitis of longontsteking wees. Besoek jou dokter.

4. Oorpyn
•    As jou oor regtig seer is en jy nie goed kan hoor nie, kan dit ’n oorinfeksie wees. Dis nie aansteeklik nie. Kongestie weens verkoue kan ook jou ore laat pyn. Raadpleeg ’n dokter vir ’n diagnose – jy moet dalk antibiotikum neem. Oorinfeksies verdwyn gewoonlik nie vanself nie.

5. Pienkoog (konjunktivitis)
•    Jou oë is helderrooi, daar is romerige wit stukkies in die hoeke, jou oogwimpers is gekoek. Jy het waarskynlik pienkoog. Dis baie aansteeklik, bly tuis. Jou dokter sal antibiotikum voorskryf.

6. Sinus
•    Dis seer rondom die oë, die bokant van die voorkop, wangbene, selfs die bokant van jou tande. Dit kan sinus wees, maar ook verkoue. Sinus is nie gewoonlik aansteeklik nie, jy kan dus werk toe gaan.
•    As jy egter ’n bakteriële infeksie in die sinusholtes het, bly ’n dag of wat by die huis. Raadpleeg jou dokter; dalk moet jy antibiotikum neem.

7. Maagprobleme
•    ’n Maagvirus – naarheid, vomering, waterige diarree, seer lyf, laegraadse koors – kan jou ’n paar dae lank plattrek. Jy voel 24 tot 48 uur lank miserabel en kan tot 5 dae neem om te herstel. Drink baie vloeistowwe, veral water, sodat jy nie dehidreer nie. Die eerste dag of twee moet jy net sop en vloeistowwe inneem en daarna sagte kosse soos piesangs, jellie en kapokaartappels. Begin stadigaan om vaste kosse te eet. As jy dit te vroeg doen, gaan dit jou maag net meer omkrap.
•    Voedselvergiftiging. Jy het diarree en vomeer sowat ses tot twaalf uur ná jy geëet het. Die tydsverloop help om dit van ’n maagvirus te onderskei. As jy voedselvergiftiging het, voel jy beter ná jy gevomeer het. As jy kos kan binnehou, kan jy werk toe gaan.

8. Hoofpyn/migraine
•    Hoewel hoofpyn deur iets soos verkoue veroorsaak kan word, is dit waarskynlik migraine as jy nie geluide en lig kan hanteer nie. Bly by die huis. As jy nog nie ’n dokter oor jou migraine geraadpleeg het nie, doen dit. Daar is medikasie wat binne ’n uur begin werk en die migraine vinniger kan laat verdwyn. Die goue reël: As jy twyfel, gaan dokter toe.

Vir inligting oor alternatiewe vir antibiotika:
Natural Alternatives to Antibiotics, dr. John McKenna, Newleaf-uitgewers, 2003.