FOTO:  Instagram

FOTO: Instagram

Gesondheidstories

Sit-sit só

Die mens is nie gemaak om ure lank te sit nie. Tog doen baie van ons dit by die werk. Maak dit makliker met dié wenke:

Laat daar lig wees

Die ligbron moet loodreg bokant die rekenaarskerm wees. Moenie direk in die lig kyk nie. Dit moet ook nie van agter op die skerm skyn nie.

Jou stoel

Jou voete moet op die grond wees, jou rug ondersteun word en jou knieë effens laer as jou heupe. Jou rug en bene vorm dus ’n hoek van sowat 90°. Indien nie, sleep ’n voetstoel of telefoongids nader. As jy lank op ’n toetsbord werk, is jou skouers geneig om vorentoe en opwaarts te beweeg. Probeer dit elke 10 minute agtertoe en afwaarts skuif.

Beweeg

Volgens die Pomodoro-tegniek moet jy 25 minute kliphard werk en dan 5 minute rus. (Pomodoro, Italiaans vir tamatie, verwys na ’n tydmeter in die vorm van ’n tamatie.) As jy langer as 30 minute moet sit, beweeg stelselmatig elke liggaamsdeel – van die nek tot by die voete: sywaarts, vorentoe en agtertoe, op en af. Herhaal 3 – 5 keer.

Staan ’n slag in vergaderings

Vergaderings waar almal staan, is ’n nuutjie, volgens artikels in onder meer die
Wall Street Journal. Almal is meer gefokus en die vergadering bly kort en kragtig. Daar is deesdae ook staan-lessenaars. As dit te radikaal is, kies ’n verstelbare een sodat jy kan sit of staan.

Jou rekenaarskerm

Maak jou oë toe en weer oop: Jou blik moet op die skerm se middelpunt val. Daar moet minstens ’n armlengte tussen jou oë en die middel van die skerm wees; dit voorkom stremming op jou oë en jou kop is in ’n beter lyn met jou nek.