Gesondheidstories

Skep asem

In vandag se besige lewe moet jy liggaamlik, emosioneel en geestelik herstel – en dit moet élke dag deel van jou roetine wees.

Ons almal het ’n blaaskans nodig. Hoe lank, verskil van mens tot mens. Vir sommiges is dit genoeg om in die oomblik te lééf. ’n Mooi sonsondergang of vriendelike woord met ’n vriend of vreemdeling is lafenis vir hul siel. Ander moet gereeld wegbreek. Jy sal weet wat vir jóú werk.

Wees gewaarsku: as jy ongelukkig by die werk is, sal ’n vakansie – lank óf kort – nie daarvoor vergoed nie. Dit sal nie konflik by die werk oplos nie, dalk net vererger. Werk en speel moet in harmonie wees.

As jy nie ’n vakansie reg aanpak nie, kan jy geestelik en liggaamlik verval – eerder as herstel. Te veel jolyt en stilsit is nie goed nie. Doen dinge wat jou emosioneel en fisiek versterk, soos om jou in jou belangstellings te verdiep of sport te beoefen waarvoor jy nooit tyd kry nie. Vakansie hou is ’n kuns wat aangeleer moet word. 

BENUT JOU BLAASKANS DIE BESTE

* Sit elke dag ’n uur of wat vir jouself opsy. Oefen, skryf ’n brief of lees ’n mooi boek. Doen iets wat niks met jou werk te doen het nie, soos ’n kursus waarin jy nog altyd belang gestel het. Dit sal jou help om jou werk elke dag met nuwe ywer aan te pak.

* Dit ís soms nodig om jou selfoon af te skakel en heeltemal weg te kom. Dit gee jou ook kans om oor jou lewe te dink en die pad vorentoe te beplan. Veral mense in diensberoepe raak dikwels “verslaaf” aan hul werk en is altyd beskikbaar vir pasiënte of kliënte. Pasop daarvoor.

* Dit neem soms tot ’n week om regtig af te skakel, maar ná twee weke begin jy jou dalk bekommer oor wat op kantoor aangaan. Jy sal wéét as jy begin ontspan – daar is nie een resep vir almal nie. Dis selde nodig om langer as drie weke vakansie te hou. (Wie kan dit in elk geval bekostig?)

* ’n Vakansie beteken allermins jy moet “niks” doen en net slaap nie. Die beste manier om te ontspan is met sport, fisieke of kreatiewe aktiwiteite, soos stokperdjies of aërobiese oefeninge. As jy sowat 20 minute flink stap, is dit so goed jy drink ’n sterk kalmeerpil. Jy gaan ook sommer lekker slaap. En die hele gesin kan deelneem. Dit bind julle hegter saam en julle kry weer kans om regtig te gesels.

* Professionele mense kan dikwels werkgeleenthede met ’n wegbreekkans kombineer. ’n Buitelandse kongres kan gerek word vir ’n paar dae se rondkyk. Dit moet egter nie gesinsvakansies vervang nie.

* Twee dae terug by die werk en jy is weer pê? (En als het boonop in jou afwesigheid opgehoop.) Perfeksioniste stel dikwels té hoë eise aan hulself. Alles hoef nie altyd swart en wit te wees nie, grys is soms goed genoeg. En niemand is onmisbaar nie. Leer uit die volgende gesegde: “You don’t have to work harder, but smarter.” Beplan jou tyd beter, sodat jy ook kan ontspan. Jou kollegas sal sekere take in jou afwesigheid móét oorneem. Reël vooraf en leer om te delegeer.

* As jy ’n tuisteskepper is, onthou: Jy het ook ’n ruskans nodig. Dis verkeerd om te dink jy “werk” nie – jy weet self die sleur van jou dagtake kan net so uitmergelend soos ’n besige, werkende mens se program wees. boonop moet jy dalk ’n weerligafleier vir Pa se werk-frustrasies wees, ’n ontspanne atmosfeer by die huis skep en die rol van gewillige minnares speel. Kinders steun ook meer op die alomteenwoordige ma vir al hul behoeftes. Wees versigtig om nie só baie te doen dat jou gesin byna nie sonder jou kan klaarkom nie. Laat hulle jou ’n slag bederf en huishoudelike take oorneem.

Dis tyd vir ’n ruskans

Simptome wat wys dat jy asem moet skep, sluit die volgende in:

chroniese moegheid, gewigsverlies of selfs -toename, herhaalde infeksies, spanningshoofpyne, slaapversteurings, depressie gekoppel aan stresverwante simptome (hartkloppings, humeurigheid, irrasionele gedragspatrone, verlies aan geesdrif en kreatiewe energie, asook belangeloosheid)

Dr. Dawie van Velden

is ’n mediese dokter en gesondheidskrywer. Kontak hom by dpvv@sun.ac.za