okt07gesondartikel1a
Gesondheidstories

Slaan moegheid ’n kishou

So móég! Dis omtrent elke tweede een van ons se klagte. Die lewe is immers een lang gejaag – daar is eenvoudig net nie rustyd nie. En jy aanvaar dis maar die rede waarom jy nie soggens uit die bed kan kom nie. Daar kan egter baie ander redes wees. Die oplossing is dalk eenvoudiger as wat jy dink. Prof. Helgard Meyer van die huisartskunde-departement aan die Universiteit van Pretoria sê chroniese moegheid is een van die algemeenste dinge waaroor mense by dokters kla. Hoe nou gemaak?

Toets jou bloed
Dis ’n goeie begin om na jou huisdokter te gaan, sê Helgard. As ’n ondersoek en jou mediese geskiedenis niks oplewer nie, kan jou bloed vir onder meer bloedarmoede (’n ystertekort) of ’n onderaktiewe skildklier getoets word. Slaaploosheid en ’n gebrek aan lewenskrag kan simptome van ’n ystertekort wees. Nog simptome:

  • jou tandvleis en die binnekant van jou onderste ooglid is bleek;
  • lusteloosheid en moegheid;
  • swak konsentrasie;
     

    ‘n Onderaktiewe skildklier kan jou moeg en vergeetagtig maak

     

  • gebrek aan eetlus;
  • mondsere en ’n seer tong;
  • swak weerstand teen infeksie;
  • hoofpyne;
  • dikwels uitasem;
  • en bros vinger- en toonnaels.

Maar wees versigtig om sommer ’n aanvulling te neem as ’n bloedtoets nie ’n ystertekort getoon het nie. ’n Oormaat yster kan tot allerlei gesondheidsprobleme lei. Probeer yster op die natuurlike manier inneem. Dis maklik as jy vleis eet – dit bevat yster in ’n verbinding wat sonder moeite opgeneem word (heemyster). Die yster in plantkosse (soos donkergroen blaargroentes, neute en bone) word moeiliker geabsorbeer. Verhoog die opname daarvan deur dit te kombineer met kos met ’n hoë vitamien C-inhoud (bv. lemoensap). Kos wat in ysterpotte gekook word se yster-inhoud is ook hoër. Tee en koffie blokkeer die opname van yster – vermy dit so twee uur voor en ná ete.

’n Onderaktiewe skildklier kan die vetjies laat aanpak (hipotireose). Dit kan jou moeg en vergeetagtig maak. Jou skildklier skei hormone af wat feitlik al jou liggaamsfunksies beïnvloed. Dis die liggaam se “minister van finansies”. Hy stel ’n begroting op en besluit hoeveel “geld” (liggaamsenergie) uitgegee kan word. ’n Trae skildklier is algemeen en kom veral by vroue voor.
Daar word gereken 5 tot 10 % van vroue kan ’n mate van ’n skildklierafwyking hê. Simptome is onder meer: haarverlies, stadige pols, lae bloeddruk, buierigheid, depressie, koulikheid, hardlywigheid, seksflouheid, onvrugbaarheid en spierswakheid. Die simptome kan maklik met ander toestande verwar word, soos die normale verouderingsproses en stres. Maar dit kan met ’n eenvoudige bloedtoets gediagnoseer en met hormoonaanvullings behandel word. Nog siektes wat jou moeg kan laat voel, is hartsiektes, vetsug, diabetes en chroniese infeksies soos tuberkulose.

Hoe slaap jy?
Slaap sorg vir ’n groot deel van jou daaglikse energie. Dr. James B. Maas skryf in Power Sleep (HarperCollins, 1999) die derde van jou lewe wat jy veronderstel is om te slaap het ’n diepgaande invloed op die ander tweederdes: wakkerheid, energie, jou bui, gewig, geheue, reaksietyd, produktiwiteit, kommunikasievaardighede en kreatiwiteit. Volgens dr. Alison Bentley van Wits se Dial-a-bed-slaaplaboratorium toon navorsing vroue is twee keer meer geneig as mans om aan slaaploosheid te ly. Die rede hiervoor is nie bekend nie. Daar kan verskillende oorsake wees – soos depressie, stres, rustelosebene- sindroom en slaap-apnee.

  • Slaap-apnee veroorsaak dat jy kort-kort ’n paar sekondes lank ophou asemhaal terwyl jy slaap. Jou liggaam kry dan nie genoeg suurstof nie en jy skrik wakker, dikwels met ’n harde snak na asem. As jy rook, baie drink en oorgewig is, kan dit die probleem vererger. Snork jy snags en is bedags moeg, is slaap-apnee ’n moontlikheid. Dit kan lei tot onder meer moegheid, hoë bloeddruk, tipe 2-diabetes,’n abnormale hartritme en hartversaking.
    Helgard sê nuwe navorsing toon dit verhoog jou risiko vir ’n hartaanval (en selfs skielike dood) met 30% oor ’n tydperk van 4 tot 5 jaar. Alison beveel aan dat jou dokter jou na ’n slaaplaboratorium verwys. ’n Toestelletjie word vir slaap-apnee voorgeskryf. Dit bestaan uit ’n vloei-opwekker, lugbuise en ’n neusmaskertjie en stoot lug deur jou neus in jou keel in, en die effense druk hou die boonste lugweg oop. Die toestel is ongelukkig duur – tussen R4 000 en R10 000.
  • Rustelose-bene-sindroom is ’n neurologiese probleem. Jy het ’n ongemaklike gevoel in jou bene,’n oorweldigende behoefte om dit te beweeg en sukkel om aan die slaap te raak. Dit gebeur ook deur die nag, al weet jy dit nie. En dit beïnvloed die gehalte van jou slaap. Volgens Helgard oorvleuel dit dikwels met fibromialgie (chroniese pyne en teer punte in die spiere). Kafeïen en sekere antidepressante vererger die probleem. Soortgelyke medikasie as vir parkinsonisme kan daarvoor help.

Die metaal-

tandstopsel-debat

Die kanse is goed dat jy ’n mond vol stopsels het. Het jy al gedink daaroor? Metaalstopsels (sg. silwer-stopsels) bestaan uit kwik, silwer, tin, koper en (soms) ’n bietjie sink. Dis goedkoper, hou langer en is makliker om te gebruik as die meeste alternatiewe.
Maar dis omstrede weens die heersende debat dat blootstelling aan die kwikdampe jou gesondheid kan benadeel. Volgens dr. Ilona Visser, president van die SA tak van die Internasionale Akademie van Orale Toksisiteit en Medisyne, is daar bewyse dat dit in groot hoeveelhede vrygestel en deur die liggaam versprei word. Dit bereik ook babas in die baarmoeder en word in moedersmelk gevind.
Die simptome is subtiel (en soms nie), soos onder meer allergieë, pyne in die bors, depressie, moegheid, spysverteringsprobleme, slaaploosheid, gebrek aan energie en skildklierafwykings. (Besoek ook www.jouglimlag.co.za)
Maar instansies soos die Internasionale Tandheelkundige Federasie (FDI) sê daar is geen wetenskaplike bewyse dat metaalstopsels siektetoestande kan veroorsaak nie. Behalwe by ’n klein groepie mense (tot 2%), wat allergies vir kwik is.
“Ek het nog nie in die wetenskaplike literatuur of by tandheelkundige kongresse enige inligting bekom dat die kwik in sulke stopsels toestande soos chroniese moegheid kan veroorsaak nie,” sê dr. Johan Smit, direkteur: mondgesondheid by die departement gesondheid.
Volgens hom is ’n ander opsie vir stopsels tandkleurige (wit) tandherstelmateriale. Dit het al baie verbeter en kan nou selfs op die kouvlakke van die kiestande gebruik word, wat aanvanklik nie moontlik was nie. Dis bietjie duurder as metaalstopsels en kan dekades lank hou. Dis egter nie raadsaam om sommer net bestaande metaalstopsels te verwyder en met tandkleuriges te vervang nie. Een rede is dat kwikdampe vrygestel word tydens die uitboor daarvan. As gevolg van moderne tandheelkundige tegnieke is die kanse baie klein dat jy dit kan inasem. Dit hou nie soseer ’n risiko vir jou in nie, maar wel vir die tandarts wat heeldag daarmee werk.
Tandartse word egter geleer hoe om dit te hanteer en die risiko te verminder, sê Johan.

 

Loodswaar gemoed?
Min mense stap by hul dokter in en sê: “Ek is depressief.” Jy sal veel eerder oor iets soos moegheid kla. Dr. Franco Colin,’n psigiater van Pretoria, sê depressie lei dikwels tot uitputting. Die mees ekstreme vorm van moegheid is in die depressiewe fase van ’n bipolêre versteuring. Pasiënte beskryf dit dikwels as “’n loodswaar verlamming”. Ouer antidepressante soos Tryptanol™ of Trepiline® kan moegheid veroorsaak. Dit word egter weens die newe-effekte nie meer dikwels voorgeskryf nie. Die antidepressante wat in moderne psigiatrie gebruik word, veroorsaak nie dikwels moegheid nie. Middels soos Prozac© (ook bekend as SSRI’s) het nie moegheid as newe-effek nie. Enkele middels soos Remeron© kan slaperigheid veroorsaak. Dit gebeur dikwels dat pasiënte die simptome van depressie verwar met die effekte en newe-effekte van die antidepressante. Gesels met jou dokter om dit op te klaar, sê Franco.
In jou medisynekas
Dalk maak jou medisyne jou lomerig deur die dag. Volgens Lee Baker van die Amayeza-medisyne-inligtingsentrum in Johannesburg het verskillende soorte medisyne lomerigheid as newe-effek. Die uitwerking is groter as jy met die medikasie begin, maar jou liggaam sal ná ’n paar weke daaraan gewoond raak. Onthou: Elke mens reageer anders. Ook slaappille kan jou die volgende oggend effens “babelas“ laat voel. Soos ook sommige medikasie vir hoë bloeddruk, cholesterol, om jou hartritme te stabiliseer en vir epilepsie. Asook enige ander medisyne wat ’n invloed op die sentrale senuweestelsel het. Sommige pynstillers bevat antihistamien, wat jou ook lomerig kan maak, sê Lorraine Osman, woordvoerder van die Aptekersvereniging. En baie nie-voorskrifmedikasie bevat kombinasies van bestanddele. Verkoue- en griepmedisyne kan ook antihistamien bevat. As jy dit saam met sekere pynstillers neem, kan jy dubbel die hoeveelheid antihistamien inkry. Dit sal jou meer lomerig maak. As jy twyfel, vra jou apteker. Vermy alkohol as jy medikasie neem. Dis veral belangrik as die medikasie ’n bestanddeel bevat wat jou lomerig kan maak.

Wat eet jy?

Moegheid word dikwels deur ’n swak leefstyl vererger, sê Martie de Wet, dieetkundige van Roodepoort.

1. Jy is dikwels só aan die gang dat jy nie jou maaltye beplan nie. Jy eet dan kitskos, restaurant- of wegneemetes, soms tot drie keer per dag. Dit bevat baie vet en min voedingstowwe. En dit kan ’n groot oorsaak van moegheid wees. Die B-vitamiene is veral noodsaaklik vir energie. Vir energie, eet ’n halwe bord groente en/of slaai met middag- en aandete, asook 2 tot 3 vrugte deur die dag.
2. As jy maaltye oorslaan, daal jou bloedglukosevlakke en dit kan jou moeg en geïrriteerd laat voel. Jy smag dan na iets wat jou vinnig energie gee (soos sjokolade) en dit word ’n bose kringloop. Eet ontbyt, middag- en aandete en klein peuselhappies.
3. Beperk kosse met ’n hoë glukemiese indeks (GI). Nie alle koolhidraatryke kos het dieselfde uitwerking op bloedglukosevlakke en dus energie nie. Kos met ’n hoë GI word vinnig in suiker omgesit en veroorsaak ’n vinnige styging en dan weer ’n vinnige daling in bloedglukosevlakke. Kos met ’n lae GI word stadig in suiker omgesit en bloedglukosevlakke bly ’n geruime tyd stabiel. Beperk ook die grootte van die porsies. Selfs kos met ’n lae GI moenie meer as ’n vuisgrootte per ete wees nie.
Lae GI: Volgraan en original ProNutro, mieliepap (afgekoel), ProVita, saadbrood, volgraan-rogbrood.
Hoë GI: Bruin- en volkoringbrood (met geen of min korrels of sade), aartappels (gebak, gemikrogolf, gebraai, slaptjips of kapokaartappels), ryskoekies, waatlemoen, gegeurde kitshawermout, groenbone met aartappels, energiedrankies.
4. Waak teen kos wat uit verfynde koolhidrate bestaan (of te min vesel bevat). Soos koek, witbrood, verfynde kraakbeskuitjies, versoete, laevesel-ontbytgraankos en koekies. Dit laat ook jou bloedglukosevlakke wipplank ry.
5. Alkohol en kafeïen is stimulante wat tydelik jou energievlakke verhoog en jou kort daarna moeg laat voel. Drink minder koffie, koladrankies, gewone tee en energiedrankies. Alkohol en kafeïen kan jou slaap belemmer.
6. Drink daagliks 1,5 tot 2 liter water. Te min vloeistof lei tot dehidrasie, wat moegheid, swak konsentrasie en irritasie kan veroorsaak.

Moeg soos ’n jappie?
Chroniese moegheidsindroom (CMS) is in die jare tagtig “jappiegriep“ genoem, maar dis nie net sogenaamde jappies wat dit kry nie. Jy is só moeg dat jy nie jou normale, daaglikse take kan verrig nie. Die toestand word nie goed verstaan nie en geen mediese toetse kan bevestig dat jy dit het nie. Jy kan dus sukkel om te aanvaar jy het dit – of om ander mense te oortuig. Maar jou moegheid is eg, nie net in jou kop nie.

Volgens Helgard weet dokters nie wat dit veroorsaak nie. Genetiese en persoonlikheidsfaktore, asook langtermyn-stres speel klaarblyklik ’n rol. (Dit kom dikwels by oormatige perfeksioniste voor.) Soms begin dit ná ’n ernstige virusinfeksie soos klierkoors. In die helfte van gevalle ly sulke mense ook aan depressie. Die hoofsimptoom is ’n oorweldigende moegheid. Jy voel al minstens ses maande só en jou daaglikse fisieke aktiwiteite is met meer as die helfte ingekort. Nog simptome is angstigheid, prikkelbaarheid en neerslagtigheid. Dis moeilik om helder te dink, te konsentreer en dinge te onthou. Jy kan ook koors, hoofpyn, keelseer en teer kliere in jou nek en armholtes hê. Die simptome kan opvlam ná verstandelike of fisieke aktiwiteite wat vroeër geen probleem was nie. Dokters diagnoseer dit deur al die ander moontlike oorsake vir moegheid uit te skakel. Daar is nie ’n magiese kuur nie, maar baie van die simptome kan verlig word. Lae intensiteit oefening help dikwels. Sekere persoonlikheidstipes (soos oormatige perfeksioniste) vind baat by kognitiewe gedragsterapie. ’n Lae dosis van bepaalde antidepressante kan ook help. Dit is ook belangrik om goeie slaapgewoontes aan te leer, sê hy.