Só smelt ons kilo's weg!
Bekendes was ook al in die oorgewig-bootjie. Hoor bietjie die dieet-geheime van Nataniël en Leon Schuster - mét kennerskommentaar.
'Ek eet 5 keer 'n dag klein porsies' Leon Schuster

Vir Mr Bones 2 het dié rolprentmaker en komediant 8 kg verloor. Sy karakter in dié fliek dra 'n "oopgeknoopte onderbaadjie-affêre van luislangvel". En 'n boepie daarby werk eenvoudig nie.
"Ek het die basiese goed gedoen wat die ouens by die gym my vertel het. Geen stysel en suiker nie. 'n Stukkie rooivleis sonder vet een keer per dag. Hoenderborsies sonder vel en stokvis, gestoom. Dis nou 'n leefstyl. Ek hou niks meer van ryk kosse nie en raak soos Luke Watson oor die Bok-embleem as ek vetterige goed sien (skyfies, biltong met vet, vetterige tjops, ens.).
"Ek eet basies vyf keer 'n dag klein porsies. Soggens 'n bakkie hawermout. Soms vervang ek dit met gemengde vars vrugte. So tienuur eet ek 'n appel en ná ek geoefen het 'n wei-proteïenskommel. Vir middagete 'n tunaslaai of rooivleis met groente, of gestoomde vis met groente. Hier teen drie-uur drink ek nog 'n proteïen-skommel en eet 'n piesang. Ek eet vóór sesuur saans: Meestal 'n hoenderborsie met baie gestoomde groente soos broccoli, 'n skorsie, wortels, kool en pampoen.
"Vrugtesap is uit - ek drink net water. En whisky met water. My oupa het gewoonlik so twee doppies 'n aand gedrink. Dit hou glo die bloed dun. Ek volg maar sy voorbeeld. Ek drink sowat agt koppies tee per dag, sonder suiker en met laevet- (2%) melk. Ek oefen die afgelope twee jaar: twintig minute op die trapmeul en dan twee spiergroepe op 'n dag, soos skouers en maag, bors en arms, rug en bene. En elke dag maagoefeninge."
Dieetkundige Mariza van Zyl van die Paarl se kommentaar:
"Baie groente en vrugte: fantasties! Dis ook goed dat hy dikwels eet. Die beperking/uitskakeling van suiker en verfynde produkte (soos brood) help om sy kilojoule-inname (kJ) te beperk. Dis ook gesond.
"Sy dieet is egter 'vetverskrik'. Jy móét 'goeie' vette inkry (soos in salm, sade, neute en avokado's). Nou nie onbeperk nie, te veel kan vetmaak. Maar dis belangrik vir onder meer jou brein en gemoed en kan selfs die ontwikkeling van siektes soos artritis help keer. Grondboontjiebotter het ook 'goeie' vette, eet nou en dan 'n lepelvol. Maar jou trapmeul moet bly loop!
"'n Bietjie meer onverfynde koolhidrate (soos gort, bruinrys, vlesige Mediterreense aartappels en selfs patats) sal vir die hol kolletjie laataand help. Hy sal meer energie hê en die ouens by die gym sal hom dan sommer meer gereeld sien. Dit kan hom ook help om langtermyn met die dieet vol te hou."
'Deesdae dieet ek glad nie meer nie' Nataniël
Hy's kunstenaar en SARIE-rubriekskrywer en sê hy práát nog maar van 'n aartappel dan sit hy gewig aan. Maar nou het hy die ideale dieet (vir hom) ontdek.

"'n Maer jaar, afgewissel met 'n vette. Só was dit nog altyd vir my," vertel hy. "Dis geneties, van my ouma se kant af. Ek is boonop mal oor kos, wyn, dessert. Voorheen moes ek gereeld dieet, elke keer 'n nuwe een. As ek baie desperaat was, het ek 'n onwettige konkoksie sonder etiket by 'n apteek gekoop: kafeïen, purgeermiddels en wat nog. Jy slaap nooit en kou aan meubels.
"Ek het die bruinrys-en-lensie-dieet beroemd gemaak. Dis nie eintlik vir gewigsverlies bedoel nie, dis famous omdat dit jou vel mooi maak. Maar ek het 20 kg daarmee verloor en skielik was dit in al die koerante.
"Deesdae dieet ek glad nie meer nie," vertel Nataniël nou. "Dit maak my moeg en jy sit maar net weer die gewig aan. My gewig is nou in toom: Ek dra al drie jaar dieselfde kostuums op die verhoog. Ek volg 'n koskombinasie-dieet: Dis 'n doodsonde om stysel en proteïene saam te eet. Want sáám verteer sulke kosse moeiliker. Jy kombineer stysel met stysel of neutrale kos soos groente en vrugte. As jy pasta of pizza eet, maak jy dit met groente. Vleis werk ook so. Daar moet vier ure verloop voor jy weer kos uit die ander voedselgroep eet.
"Rooibos- en groentee is uit. Dis gesond, maar nie saam met stysel en proteïene nie. Jy drink net Ceylon-tee.
"Ek oefen vyf dae van die week en haat elke sekonde. Ek móét, ek is sonder metabolisme gebore en oefening hou my lyf aan die gang."
Mariza se kommentaar:
"Nataniël se huidige benadering werk emosioneel en fisiek vir hom. Daarom is dit so 'n sukses. Dis nie 'hoofstroom'-dieetkunde nie, maar kan waardevol wees mits dit kosse uit al die voedselgroepe insluit. Nét kaas en slaai of nét pasta en groente gaan dus nie op langtermyn werk nie. Maar met genoeg variasie en beplanning kan dit deel van 'n gesonde leefstyl wees."
'Ek luister wat my liggaam wil hê. En ek oefen' Isabella Niehaus, stilis
Jy moet gelukkig in jou lyf wees, glo Isabella Niehaus, 'n stilis van Langebaan. Dan is jou gees ook sommer sterker.

"Ek het agt jaar gelede elf kilogram in so agt maande afgeskud. Met oefening en my eie manier van eet bly my gewig gebalanseerd en ek is gelukkig daarmee. Diëte het nog nooit vir my gewerk nie. Maar uiteindelik het ek 'n regsomkeer in my kop gemaak en die waarde van 'n gesonde liggaam besef. Ek het by 'n klein gimnasium op Melkbos aangesluit wat in oefeninge met die Russian Kettle Bell spesialiseer. (Dis 'n tradisionele Russiese gietyster-gewig wat effens na 'n kanonkoeël met 'n handvatsel lyk.) En ek het my eetgewoontes verander. Brood is uit: Ek is koring- en gis-intolerant. Ek eet gesond. Ek eet lekker. Ek luister na wat my liggaam wil hê.
"Soggens stap ek 6 tot 8 kilometer langs die see met Emma en Sav-Vi, my honde. In die somer probeer ek om daagliks in die yskoue see te swem, so lank ek kan. Dan doen ek 'n reeks Kettle-oefeninge en 'n kort joga-ritueel.
"Daarna eet ek jogurt, of 'n hardgekookte eier as ek rondjaag. Volgens die bloedgroep-dieet moet ek vegetaries eet - ek is A-negatief. Maar my liggaam het vleis nodig. Ek eet min rooivleis, maar wel as ek daarvoor lus is. My dieet bestaan meestal uit groente en slaai - eenvoudige slaai soos tamaties, uie, hardgekookte eiers. Ek sorg dat ek altyd pampoenpitte of sonneblomsaad by my het."
Mariza:
"Isabella se oefenprogram is haar troefkaart. Ek sou 'n bietjie wou skaaf aan haar inname van grane wat nie familie van koring is nie - net om te verseker dat sy veral genoeg B-vitamiene inkry. As sy 'n bietjie 'styselgroente' soos mielies, ertjies en botterskorsie by haar dieet voeg, sal dit sorg vir 'n interessante variasie van voedingstowwe én smake. Die beginsels waarop die bloedgroep-dieet berus, is ietwat 'wollerig'. Isabella kán dus eerder luister na haar lyf en gereeld 'n stukkie vleis eet - veral vis of Karoo-skaapvleis - skape wat bossies gevreet het. Genoeg proteïene is belangrik om jou honger en gewig te beheer en jou versadig te laat voel."
'Eiers, eiers, eiers . . .' Advertensiemagnaat en kunsbeskermer Charles Saatchi, getroud met Britse kos-foendi Nigella
Kombuis-godin Nigella Lawson se bekende man het sowat 25 kg in nege maande verloor. Hoe? Eiers, eiers, net eiers . . . Drie eiers vir ontbyt. Drie vir middagte. Drie vir aandete. So nou en dan 'n snytjie roosterbrood. Volgens Nigella het die dokter gesê die dieet gaan haar man óf die emmer laat skop, óf dit gaan hom maer maak. Hy volg nou 'n gesonder dieet van maer vleis, vis en baie groente. En hy is uit die kombuis verban! (Bron: www.dailymail.co.uk)
Mariza:
"'n Gesonde mens kan maklik meer as een eier per dag eet. Maar vir Charles Saatchi wil ek net sê: Geraamtes is ook maer. Die hoë proteïen- en vetinhoud van al die eiers sál help dat jy nie vreeslik honger word nie. Jy kry egter nie vitamiene A, C, K, B5, kalsium, magnesium, yster en verskeie spoorelemente in nie. Dis 'n sonde om só lank nie groente en vrugte te eet nie. Ek sal nie verbaas wees as sy tandvleis, ingewande en bindweefsel nou redelik voos is nie. Osteoporose is ook 'n gevaar."
'Als het gebeur onder toesig - van dokters tot persoonlike afrigters' Sharon Haarhoff, wenner van The Biggest Loser
Vroeg in 2008 was Sharon Haarhoff, 'n paramedikus en kliniekkoördineerder by 'n motorfabriek in Oos-Londen, die wenner van e.tv se The Biggest Loser. Sy het 135 kg, 45% van haar gewig, in sewe maande verloor.

"Daar was veertien van ons in die huis en elke week is iemand uitgestem. Ná drie maande was drie van ons oor. Ons het toe na ons onderskeie huise teruggekeer en ná vier maande is ons finaal geweeg. In die kompetisie-huis het als gebeur onder die toesig van dokters, 'n dieetkundige, fisioterapeute en twee persoonlike afrigters. Die dieetkundige het vir jou 'n gebalanseerde dieetplan uitgewerk. Maer proteïen (hoender, vis, rooivleis, ens.), baie groente, vrugte, onverfynde koolhidrate en 'goeie' vette. Die vroue het sowat 4 800 tot 5 600 kJ en die mans 5 200 tot 6 000 kJ per dag ingeneem. Ons het sowat 7 tot 9 ure per dag geoefen. Die persoonlike afrigters het jou program só uitgewerk dat dit binne jou vermoë was, maar jy tog hard moes werk. Terug by ons onderskeie woonplekke was ons op ons eie. Ek het by 'n persoonlike afrigter vir 'n oefenprogram aangeklop.
"Ná die TV-program het ek 'n bietjie ontspan en meer begin eet. Ek oefen nou so 'n uur tot 1½ uur per dag tuis. Ek hét intussen 5 kg aangesit, maar is steeds binne my teikengewig. Ek let op wat ek eet: As ek in my ou eetpatroon verval, sal ek al die gewig weer aansit."
Mariza:
"Dié dieet het baie min kilojoules. Dit hét 'n plek as jou gewig ernstige gesondheidsgevare inhou, maar jy kan dit nie sonder nougesette mediese toesig aanpak nie. Die meeste mense sal baie sleg voel op só 'n streng dieet en kwaai oefenprogram. Jou bloedsuiker kan daal, met simptome soos konsentrasie-probleme, geïrriteerdheid, naarheid, bewerigheid en sweterigheid. Dis onwaarskynlik dat die gemiddelde mens met dié soort streng program sal kan volhou. En dis beter só, want jy behoort nie meer as sowat 10% van jou liggaamsgewig per jaar te verloor nie. Sharon se gewigtoename daarna? Sy moet 'n bietjie meer proteïene eet om haar metabolisme aan te wakker en spiere te onderhou."
'Elke stukkie word afgeweeg' SARIE-leser Leslie Davis

Sowaar, 56 kg in 15 maande: Dis wat Leslie Davis, uitvoerende beampte van 'n Johannesburgse maatskappy wat sekretariële spesialis-dienste lewer, afgeskud het.
"Ek het 'n gebalanseerde dieet gevolg: 5 koolhidrate, 3 vrugte, 3 porsies proteïene, 2 porsies melk, 3 tot 5 groente en 3 porsies vet. Elke porsie word afgeweeg. Jy moet elke dag 2 liter water drink. Saans drink ek laevet warmsjokolade, dis my lekkernytjie vir die dag. Ek stap gereeld soggens tussen vyftien minute en 'n halfuur. En wanneer ek gaan inkopies doen, parkeer ek ver van die ingang af. Ek het 'n stadige skildklier en waag ek om 'n bakkie nagereg of stukkie koek te eet sién jy dit."
Mariza:
"Dié dieet se lae vetinhoud (sowat 20%) staan uit en gaan nie vir almal werk nie. As jy bv. insulienweerstandig is, moet jy eerder kyk na 'n dieet met meer vet en proteïen en 'n bietjie minder koolhidrate. Leslie moet seker maak sy kry 'goeie' vette in en dalk aanvullings neem: essensiële vette soos omega 3, kalsium en veral magnesium. 'n Mens sal moet kyk na maniere hoe sy nou en dan aan die normale 'lekkertes' van die lewe kan smul."
* Kontak Mariza van Zyl, een van die span dieetkundiges van BETER EET VOEDING EN VOEDSEL KONSULT. Vir inligting, skakel 021 872 8423, stuur e-pos aan mariza@bettereat.net of besoek www.betereet.co.za.
Verwante artikels
-
Nataniël se bruinrys-en-lensie-dieet
SARIE - Junie 2009 | Kommentaar: 56
Die dieet waarvoor julle gevra het...

















Kommentaar
Tommie la Cock het gesê:
Ek wil graag weet hoeveel keer per dag kan 'n mens die sop eet, is die resep net vir een dag? Baie dankie Tommie la Cock
24ste Apr. 2012, 15:13HELEN VAN DER RYST het gesê:
EKT BAIE HOë CHOLESTEROL KAN EK NATANIëL SE BRUINRYS EN LENSIE DIEET VOLG EN WAAR KRY EK DIT
3de Apr. 2012, 13:34Maritha het gesê:
Wat is die hoeveelhede wat ju mag eet van natanoel se dieet - is dit 3 keer n dag se ete?
24ste Mar. 2012, 19:07MARIE CHARLTON het gesê:
Marisa ek dieet maar verloor nie . ek is raadop, help asseblief.
8ste Mar. 2012, 22:40Elize het gesê:
E Cross Ek is op dag 3 van Nataniel se bruinrys- en lensie-dieet en het 2.5 kg verloor. Dit werk goed maar ek is versigtig vir TE drasties. Gaan oor die naweek 'n breek maak en gewone laevet kos eet.
24ste Jan. 2012, 09:18Corné het gesê:
Hi, ek is regtig raadop. Ek is 29jr en sukkel met rolle om die maag. Ek soek asb raad met wat ek moet eet en oefeninge wat ek kan doen. ASSEBLIEF!!!!
30ste Nov. 2011, 11:32Jackie Kruger het gesê:
Wil ook graag weet hoeveel 'n mens eet. Eet jy dit vir ontbyt ook? Kan onthou dat ek jare gelede probeer het, net oor die kos so lekker was!!! Maar nou moet ek my magie wegwerk. Word 50 die jaar, Desember. HELP! E-pos tog antwoord. asseblief.
14de Nov. 2011, 19:51marietjie van der merwe het gesê:
Ek soek ook die resep van nataniel bruin-rys-dieet. Groete Marietjie
29ste Okt. 2011, 09:37Ester het gesê:
Waar kry ek 'n dieet sonder vis. Het vis alergie asook kleur en geurstowwe. Stel hoog op prys indien iemand my kan voorsien van vislose dieet. Ek weet vis is baie belangrik, maar taboe vir my alergie aanval.
13de Okt. 2011, 05:58johan het gesê:
Waar kry ek die antwoorde op al die lesers se vrae oor die dieet
2de Sep. 2011, 15:05Coba het gesê:
Almal wat so graag Nataniel se bruinrys en lensie dieet wil he, kry dit net op die internet!!!
30ste Mar. 2011, 19:25Annelize het gesê:
hoeveel kan n mens eet per dag van Nataniel se bruinrys en lensie dieet??
8ste Nov. 2010, 13:23mandie het gesê:
Soek asb Nataniel se bruinrys-en lensie-dieet.
9de Sep. 2010, 16:47KOTIE het gesê:
SOEK NATANIEL SE DIEET ASB
10de Aug. 2010, 16:11Lydia van SARIE het gesê:
Nataniël se bruinrys-en-lensie-dieet: Kliek op die skakel op dié blad net voordat julle kommentaar begin (en bokant die gallery). Lees my antwoord oor hoeveel jy per dag kan eet.
30ste Mar. 2010, 17:10Deon het gesê:
Alo julle, ek is n groot "fan" van Nathaniel en ek wil net weet kan enige iemand my help waar ek sy humor jokes kan kry, ek soek en soek op die net
26ste Feb. 2010, 09:12tina venter het gesê:
Ek soek asb die bruinrys-en-lensie dieet asook die hoeveelheid jy kan eet elke dag. Baie dankie
9de Jan. 2010, 17:05Hariette het gesê:
Ek het die bruinrys-en-lensie dieet, maar wil weet of die resep vir een persoon is per dag of hoeveel mag jy eet.
2de Nov. 2009, 11:19Annatjie Foot het gesê:
Nataniel se lensie/bruinrys dieet groot asseblief.
2de Sep. 2009, 15:22Hettie het gesê:
Nataniel se bruinrys en lensie dieet asb.
24ste Aug. 2009, 12:36Jacomina Nortje het gesê:
Gaan beslis Nataniel se resep probeer. Ek is 49 weeg 90kg en sukkel om gewig te verloor. Dankie vir die resep.
19de Aug. 2009, 13:10Linda het gesê:
Gaan Beslis Nataniel se resep probeer. Hoeveel mag mens eet op 'n dag?
12de Aug. 2009, 05:14Annelize het gesê:
Nataniel se lensiedieet asb
7de Aug. 2009, 09:39Lizma Nel het gesê:
Sal graag Bertha Le Roux se dieet wil volg? Waar kan ons dit kry? Sterkte aan almal wat dieet .....
11de Jul. 2009, 17:53Natacha vercueil het gesê:
Dis weer ek hier dis dag 3 van Nathaniel se dieet en ek het al 3kg verloor! Ek sal julle op hoogte hou... hou ook vir my duim vas die ooskaap het koue weer ek mis koffie en sop!
24ste Jun. 2009, 08:22Rene het gesê:
Nataniel se lensiedieet asb
23ste Jun. 2009, 10:18louisa het gesê:
ons het nou die resep kan iemand asb vir my se hoeveel kan ek per dag daarvan eet of is die resep vir n dag
17de Jun. 2009, 08:15benita schutte het gesê:
kan ek asb die bruinrys en lensie dieet kry? dankie
11de Jun. 2009, 10:42Chantal het gesê:
Sal graag 'n dieet wil hê wat melk ook bevat omdat ek borsvoed en sukkel met gewig. My baba is 5 maande.
8ste Jun. 2009, 15:09Irene Niemann het gesê:
Nathaniel, Ek is 'n groot "fan" van jou en gaan beslis hierdie resep probeer. Ek is desperaat om gewig te verloor!!!
4de Jun. 2009, 14:09Dorothy Brown het gesê:
Ek dink ek gaan die bruinrys en lensie ding doen, en kyk of die magie nie wil plat
4de Jun. 2009, 10:01Zelma du toit het gesê:
Ek het vir die royal familie in Saudi gewerk en ek en die 1 prinses baie goeie vriende,en net soos ons gewone mense ook op n dieet wil gaan ek het nou die rys/lensiesdieet vir haar vertaal en ge email ek en sy gaan saam op hom. Wens ons sterkte toe Zelma
2de Jun. 2009, 20:46Amanda het gesê:
Waar kan ons die dieet kry wat Emma van 7de Laan so goed laat lyk?!
1ste Jun. 2009, 15:41Gerda het gesê:
Alles goed en wel, maar ek soek asb. nog steeds die bruinrys en lensies dieet. ASB.?
1ste Jun. 2009, 10:28Karin de Jager het gesê:
Ja nataniel se dieet sal goed wees om te he. Warm lensies is heerlik. Maar ek verloor goed met die volgende. N shake vir ontbyt. Stirfry op cracker brood vir middagete en vir aandete vleis en lekker groente. Dit werk baie goed en so n bietjie afgeroomde melk in tee en koffie. Vir n soppie ina paarman se blikkie uie stock, veral as jy lus is vir iets warms, dit is mos winter. Jy verloor so twee kilos n week. Groente en vrugte kan baie lekker wees as jy dit reg gaar maak. En dis so maklik. Sterkte almal, en sommer vir myself ook.....
31ste Mei. 2009, 15:43daleen het gesê:
Nataniel se lensiedieet asseblief man!!
31ste Mei. 2009, 14:35Elsie het gesê:
Die bruinrys- en lensiedieet asb!
30ste Mei. 2009, 17:31Marisa het gesê:
Ek verbeel my Nataniel se bruinrys-en-lensie'slaai' is in een van die Wenresepte-boeke van Huisgenoot. Ek het dit jare gelede self probeer. Dis smaaklik en vullend. EN dit werk!
29ste Mei. 2009, 15:50Ilse het gesê:
Baie desperaat! Nataniel se lensiedieet asseblief!!!!
29ste Mei. 2009, 08:57Retha het gesê:
Nataniel se lensiedieet asseblief!!
28ste Mei. 2009, 10:07Hettie het gesê:
Nataniel se lensiedieet asb.
27ste Mei. 2009, 11:11Anna-lene Mandl het gesê:
Ek is en bly 'n voorstaander van Weigh Less, daars NIKS wat jy NIE mag eet nie, hulle formule maak plek vir alles, soos wat jy gewig verloor, kry jy al hoe meer voorregte terug, en as mens goed beplan en regtig op jou gewig verlies ingestel is, word dit later tweede natuur. Mense kla dat dit moeite is om jou kos in die begin af te weeg, maar die paar minute wat jy "mors" aan weeg is heeltemal die moeite werd as jy aan die einde van jou dieet besef dit was die moeite werd, en dan is jy ookal so ingestel daarop dat dit deel van jou leefwyse word. Daar is ook lekker gebruikers vriendelike huishoudelike mates waarmee jy kan meet en weeg, en later word mens se skatting nogal baie goed. Om teiken gewig te wees is absoluut die moeite werd.
26ste Mei. 2009, 15:00Retha Botha het gesê:
Bruinrys en Lensie dieët!! Help asb!
20ste Mei. 2009, 10:16Zwanie het gesê:
Ek sal baie graag Nataniel se brunrys en lensie dieet bekom, sal dit vreeslik baie waardeur. Dankie Zwanie
12de Mei. 2009, 10:46Lourenca Newsham het gesê:
sal baie graag Nataniel se bruinrys en lensies dieet bekom sal baie waardeur
7de Mei. 2009, 11:27Hoefnagel het gesê:
My komplimente vir al die mense wat so goed kan afval.Ek woon in Nederland en verlang ontsettend na my familie,dan eet ek sommer alles wat ek kan vind. Hoe moet ek dit oplos, het u miskien raad.Ek is 44jaar oud,moeder van 3 pubers en werk 9uur per week als skoonmaakster in zorgsentrum. Gr. J
13de Mar. 2009, 23:55n coetzer het gesê:
Ek sou baie graag Nataniel se bruinrys-en-lensie-dieet wil bekom Groete Noeline
9de Mar. 2009, 13:40