Gesondheidstories

Somer-hoofpyn: 8 oorsake (Deel 1)

Somer! Lang, luilekker naweke en vakansiedae waar jy kan swem, piekniek hou en in die son baljaar. Maar soos dit warmer word, vergroot jou kanse op hoofpyn. As jy maklik een kry, is die somer waarskynlik ’n tyd van pyn en ongemak.

Want hitte kan ’n sneller vir hoofpyn wees. Navorsers aan die Harvard-universiteit het hospitaalrekords ontleed en bevind met elke 5 ºC wat die temperatuur styg, besoek sowat 8% meer mense hospitale weens swaar hoofpyne. Hitte laat die bloedvate in jou kop swel. Dit druk dan teen die omringende senuwee-eindpunte en maak dit baie sensitief. Selfs normale bloedvloei voel dan soos ’n drilboor deur jou skedel, sê dr. Elliot Shevel, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Hoofpynvereniging.

Hoofpyn is ook die nommereen- klagte waarmee mense wêreldwyd by hul dokter aanklop. Maar jy hoef nie daarmee saam te leef nie. Jy kan die kloppende pyn stop en die pret op die strand voortsit. Hy vertel hoe.

1. Ontwatering

Dis warm, jy sweet en jou mond is droog. Ontwatering (dehidrasie) is ’n algemene sneller vir hoofpyn. Jou brein bestaan uit sowat 75% vloeistof en is baie sensitief vir die voorraad water tot sy beskikking. As dit min is, vervaardig jou brein histamien. Dit is ’n noodsaaklike proses om vloeistof te spaar, ingeval jou brein ’n ruk lank daarsonder moet klaarkom. Die histamien veroorsaak pyn en moegheid. Dus hoofpyn en ook die lae energievlakke wat gewoonlik daarmee saamgaan.

Keer dit 
Drink genoeg water, selfs al is jy nie regtig dors nie. Verkieslik nie gaskoeldrank nie, omdat dit dikwels stowwe bevat wat hoofpyn kan veroorsaak, soos kafeïen en aspartaam. Probeer ook ander hoofpyn-snellers vermy, bv. as jou liggaam vog terughou. (Redes: PMS, ’n gebrek aan oefening, kos met baie sout en medisyne met onder meer aspirien en ibuprofen). Daar is dan waarskynlik meer drukking op die slagare of spiere. Ook moegheid en min slaap.

2. Skerp reuke

Die trigeminale senuwee, verantwoordelik vir sensasies in jou gesig, het verlengings in die neusvoering. Dié senuwee kan stowwe vrystel wat jou hoofpyn gee as jy iets ruik wat jou liggaam as skadelik eien.

Keer dit
As jy sensitief is vir reuke, lekker of sleg, hou dit in gedagte as jy sonbrandroom, insekweerders en ander somer-benodigdhede koop. Koop produkte wat reukloos is en vra jou apteker se hulp, indien nodig. Vermy ook gegeurde skoonmaakmiddels, seep en kerse – en bly uit winkels wat daarna ruik.

Donderweer

Jy het nie eens nodig om na die weerbulletin te kyk nie. Jy kan voorspel daar gaan ’n donderstorm wees weens die geklop teen jou slape. Blameer die barometriese druk (die digtheid van die lug in die atmosfeer), wat voor sulke storms val. Dit kan ook wees weens die elektromagnetiese golwe wat weerlig uitstraal.

Weerlig vermeerder ook lugbesoedelaars soos osoon en kan veroorsaak dat swamspore vrygestel word. Volgens navorsing in die aanlyn-uitgawe van die joernaal Cephalalgia vergroot ’n chroniese lyer se kans met 31% om hoofpyn te kry wanneer weerlig binne 40 km van hom slaan, en op migraine met 28%. Selfs al kry jy nie gereeld hoofpyn nie, vergroot jou kans met 24%.

Keer dit
Doen ’n ligte vorm van oefening, soos joga. Fisieke aktiwiteit stimuleer die vrystelling van endorfien, jou liggaam se natuurlike pynstil.

4. Stres

Die familie vir wie jy moet regstaan, jy en jou man wat skielik pal in mekaar se geselskap is … Daar is baie dinge wat jou gedurende vakansies kan laat stres. Stres is die oorsaak van sowat 80% van migraine-aanvalle, volgens ’n studie in Cephalalgia , ’n hoofpyn-joernaal. Dit veroorsaak veranderinge in die vlakke van kortisol en adrenalien (die streshormone betrokke by die veg-of-vlug-reaksie), wat pyn en naarheid tot gevolg kan hê. Stres kan ook veroorsaak dat jy jou kakebeen saamklem en jou nekspiere saamtrek, wat jou ’n spanningshoofpyn kan gee.

Keer dit 
Beplan vooraf vir vakansies en kuiers. Maak lysies. As jy kook, sorg dat daar genoeg is om te vries. Laat jou motor vooraf diens, delegeer takies aan gesinslede en doen besprekings vroegtydig. En as stres jou gereeld ry: Probeer ontspanningstegnieke soos meditasie, diep-asemhalingsoefening, joga of gereelde masserings.

SOS

Gaan dokter toe as jy koors en nekpyn het, of as die pyn toenemend erger word. Ook as jy nou pal hoofpyn het, maar dit nie voorheen ’n probleem was nie, jy gereeld pynpille moet drink en dit jou leefstyl beïnvloed.