Gesondheidstories

Somer-hoofpyn: 8 oorsake (Deel 2)

Somer! Lang, luilekker naweke en vakansiedae waar jy kan swem, piekniek hou en in die son baljaar. Maar soos dit warmer word, vergroot jou kanse op hoofpyn. As jy maklik een kry, is die somer waarskynlik ’n tyd van pyn en ongemak.

Want hitte kan ’n sneller vir hoofpyn wees. Navorsers aan die Harvard-universiteit het hospitaalrekords ontleed en bevind met elke 5 ºC wat die temperatuur styg, besoek sowat 8% meer mense hospitale weens swaar hoofpyne. Hitte laat die bloedvate in jou kop swel. Dit druk dan teen die omringende senuwee-eindpunte en maak dit baie sensitief. Selfs normale bloedvloei voel dan soos ’n drilboor deur jou skedel, sê dr. Elliot Shevel, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Hoofpynvereniging.

Hoofpyn is ook die nommereen- klagte waarmee mense wêreldwyd by hul dokter aanklop. Maar jy hoef nie daarmee saam te leef nie. Jy kan die kloppende pyn stop en die pret op die strand voortsit. Hy vertel hoe.

LEES DEEL 1 HIER

5. Fel sonskyn

Jy het jou skaars op jou strandhanddoek tuisgemaak of jy het ’n drukkende hoofpyn. Fel sonlig kan jou hoofpyn gee. Liggolwe reflekteer op gladde oppervlakke, soos water en sand. Baie hoofpyn- en migrainelyers is sensitief daarvoor.

Keer dit
Dra ’n sonbril met gepolariseerde lense vir beskerming. Die meerderheid lig word horisontaal gereflekteer en dié lense het vertikale filters wat horisontale golflengtes blokkeer. ’n Hoed kan ook help.

6. Jy eet die verkeerde kos – of nie genoeg nie

Pasop vir kosse met die aminosure tiramien (soos rooiwyn en verouderde kaas) en fenielalanien (sjokolade). Ook vir nitrate, wat as preserveermiddel in onder meer hotdogs en geprosesseerde vleis gebruik word. Dit laat die bloedvate in jou kop saamtrek en uitsit, wat migraine kan veroorsaak. Alkohol vererger dit, veral wyn met baie tannien en sulfaat. As jy maaltye oorslaan, kan dit jou ook hoofpyn gee. Jou brein is baie sensitief vir bloedsuikervlakke wat wissel.

Keer dit
Eet gereeld en drink gereeld water. Stel vas watter kosse jou hoofpyn gee en sny dit uit jou dieet.

7. Roomys

Jy sou dit nie kon raai nie. Maar die “roomys”-hoofpyn is dalk die algemeenste sneller vir somer-hoofpyn. Die sondaars is koue drankies of kos. Dit gebeur as iets kouds aan die senuwees in jou verhemelte raak. Bloedvate aan die voorkant van jou kop trek saam – en veroorsaak pyn.

Keer dit
Dis maklik: vermy dít wat dit veroorsaak. Of eet/drink dit stadig en in kleiner happies, dan kan dit vinniger in jou mond warm word. Laat so ’n hoofpyn gouer verdwyn deur met jou tong teen jou verhemelte te druk.

8. Allergieë

Dis nie net in die lente wat stuifmeel jou laat nies en miserabel laat voel nie. Daar is landwyd gras wat van September tot April bestuif word – ’n moontlike oorsaak van allergiese rinitis (hooikoors). Stof en huismyte is ook altyd met ons. Sinuskongestie en hoofpyn is alte dikwels die gevolg daarvan.

Keer dit
As jy gereeld allergiese rinitis kry, besoek ’n allergie-spesialis om te bepaal waarvoor jy allergies is.

SOS

Gaan dokter toe as jy koors en nekpyn het, of as die pyn toenemend erger word. Ook as jy nou pal hoofpyn het, maar dit nie voorheen ’n probleem was nie, jy gereeld pynpille moet drink en dit jou leefstyl beïnvloed.