Dr. Natasha Chapman

Gesondheidstories

Somermooi sonder die mes: Vries daai vet!

Hardnekkige vet. Selluliet wat pla. Opvallende spatare, en hinderlike veluitslae en ander velkwellinge is van die mees algemene skoonheidsprobleme onder vroue.
Jare lank was die oplossing vir dié soort probleme ’n duur operasie soos vetafsuiging (liposuction), wat gesondheidsrisiko’s kon inhou en boonop seer kon wees. Jy’t dalk al honderde rande aan allerlei vullers, selluliet- en gesig-rome en maermaakpille bestee vir ’n mooier, jonger voorkoms.

Deesdae word nie-chirurgiese behandelings egter al hoe gewilder, meen dr. Maureen Allem, ’n kosmetiese dokter van Pretoria. “Dié soort behandelings is gewoonlik goedkoper, minder pynlik en laat feitlik geen letsels nie. Boonop kan jy vinniger weer jou normale aktiwiteite hervat.”

IN DIE NOVEMBER-UITGAWE VAN SARIE: Ons het by vier klinieke se “mooimaak”-kenners aangeklop om verskillende behandelings te ondersoek. Twee SARIE-joernaliste en ’n SARIE-leser het proefkonyn gespeel.

Laat vries daai vet

Vetvriesbehandeling, of kriolipolise, behels dat vetselle in ’n spesifieke deel van jou lyf met ’n masjien gevries word, verduidelik dr. Natasha Chapman, ’n estetiese dokter van die Laserderm-kliniekgroep (met takke reg oor die land). Dié behandeling word aanbeveel as jy sukkel met hardnekkige vet, soos armvlerke, boepies, saalsakke, bra-bulte en ekstra vet oor die heupe (love handles). Meer as 80% van vroue ouer as 20 het iewers hardnekkige vet, sê dr. Chapman.

“Tog is die behandeling nié ’n alternatief vir gewigsverlies nie. Dis eerder vir vroue wat binne 5 – 10 kg van hul ideale liggaamsgewig is, maar sukkel met vet op ’n plek wat net nie wil wegsmelt nie, al oefen hulle hoe hard.”

1. Hoe werk dit?
Jou vet vries teen ’n ander temperatuur as jou vel en spiere. ’n Masjien word gebruik om jou vetselle te vries en beskadig dit permanent en onomkeerbaar. Die beskadigde selle word dan stelselmatig oor vier maande deur jou liggaam uitgeskei. Só kan jy tussen 10 – 40% van die vet in die bepaalde deel verloor. Tydens die uitskeiproses moet jy minstens een keer per week vir 30 minute oefen om die proses ’n hupstoot te gee.

2. Hoeveel behandelings het jy nodig?
Gewoonlik net een per liggaamsdeel. Jy kan indien nodig vir nog ’n behandeling in dieselfde deel gaan ná ’n paar maande. Die prosedure duur gewoonlik ’n uur. Jy kan dan lê en televisie kyk, lees of selfs slaap.

3. Wat is die newe-effekte?
Wanneer die vetrol ingesuig word i die masjien, kan dit eers ongemaklik voel en dan vir ’n paar minute koud voordat dié deel weens die koue gevoel verloor. Ná die behandeling word die gevriesde vetrol plat gemasseer. Die vel sal vir ’n paar minute rooi bly. Die behandelde deel kan vir sowat twee weke nog sensitief en geswel wees en jy kan moontlik ligte krampe kry soos die gevoel en bloedvloei stelselmatig terugkeer. Sommige pasiënte het ook kneusing ervaar. Jy kan meestal dadelik terugkeer werk toe en begin gim.

4. Waarvoor is die behandeling ’n alternatief?
Kriolipolise is ’n veiliger, goedkoper alternatief vir duur operasies soos vetafsuiging en laserlipolise. Die prosedure gaan ook nie met die gevare van chirurgie gepaard nie, soos verdowingsmiddels.

5. Hoeveel kos ’n behandeling?
Vanaf R6 000 per liggaamsdeel.

6. Hoe veilig is die behandeling?
Baie veilig. Byna ’n halfmiljoen suksesvolle behandelings is al wêreldwyd gedoen. Maak net seker jy laat dit deur ’n kliniek met ’n goeie reputasie doen en dat jy eers deur die kliniek se dokter ondersoek word om vas te stel of jy ’n gepaste kandidaat is hiervoor.

Gloria Cilliers (30), SARIE-joernalis, vertel

“Ek het kriolipolise op my boonste en onderste maagrolle laat doen. Die behandeling self was nie seer nie, net ongemaklik en koud vir die eerste vyf minute totdat ek gevoel in die deel verloor het. Ek het daardeur geslaap. Die twee weke daarná was my maag baie geswel en sensitief en het ek ligte krampe gekry soos die gevoel weer begin terugkom het. Ná 45 dae kan jy gewoonlik 90% van die resultate sien. Mense verloor gemiddeld 2 – 6 cm in die deel waar die behandeling gedoen is. In my geval het sowat 4 cm om my middel, 4 cm aan die bokant van my maag en nog 2 cm aan die onderkant van my maag weggesmelt. Dit klink min, maar ek kon wel ’n verskil op die voor- en ná-foto’s sien. Ek wonder steeds of ’n tweede behandeling nie dalk nodig is vir ’n beter resultaat nie. Volgens die dokter sal my lyf vir nog ’n paar weke aanhou om die gevriesde vetselle uit te skei.” Skakel Laserderm Sandton by 011 783 9483 of besoek www.laserderm.co.za.

Vir inligting oor nóg 3 alternatiewe prosesse – kry jou November-uitgawe

– 3D-selluliet-terapie
– Skleroterapie vir spatare
– LED vir velkwinte en -kwale