Gesondheidstories

Sonder pyn, sonder pille

’n Pen wat met kristalle werk, ’n rekenaar wat jou liggaam se pyne verklap, of sommer net gewone asemhaling. Dis terapieë wat vandag in die stryd teen pyn ingespan word. Sonder pille.

deur LYDIA VAN DER MERWE

Pyn knaag aan jou lyf. En skop nes in jou kop en emosies.
“Dit maak jou angstig en depressief – die hele lewe word inderdaad iets om te vrees. Op goeie dae is die pyn minder. Maar jy wag vol vrees dat dit in volle sterkte terugkeer. Jy visualiseer ’n toekoms vol pyn. Jy bekommer jou daaroor. Jou selfvertroue verdwyn en jy word hulpeloos, sonder hoop.
“Dit steel jou vriende, jou gunstelingtydverdrywe, dele van jou persoonlikheid. Jy kan pyn nie deel nie. En dís wat jou laat vereensaam.” Dit was die lewe van Nimf Kellerman. Haar wêreld het sowat 13 jaar gelede ná ’n motorongeluk begin krimp. Haar servikale werwels – oftewel die nekgedeelte van die ruggraat – is beseer. Die prognose: Sy sou die res van haar lewe pyn hê en nie langer as twee uur op haar voete kon bly nie. Nimf het geweier om dit te aanvaar. Sy het met asemhalingsterapie begin. Vandag lei sy ’n normale lewe – sonder pyn. Die osteoartritis wat sy weens die besering ontwikkel het, is in remissie. Sy leer nou ander mense om hul asem in te span om onder meer pyn te bekamp. Pyn is chronies as dit langer as ses maande aanhou, aldus die boek Leef Gesond (konsultant-redakteur dr. David Peters, Tafelberg, 1998). Medikasie alleen is gewoonlik nie genoeg om chroniese pyn behoorlik vas te vat nie. ’n Holistiese benadering, wat jou gemoedstoestand en leefstyl insluit, is nodig.

SARIE kyk na aanvullende terapieë en die uitwerking daarvan op pyn:

1. Lewegewende asem – ASEMHALINGSTERAPIE

Kyk na ’n baba wat slaap, sê Nimf Kellerman van die Sinoville Wellness-sentrum, Pretoria. Met elke asemteug trek die diafragma suurstof in die laer dele van die longe, en die buik swel. Maar ons vergeet later hoe om dit te doen. Plaas jou een hand bokant die borste en die ander een net bokant die middellyf. Haal gewoon asem. Kyk watter hand beweeg meer as jy asemhaal. As dit die boonste een is, haal jy te vlak asem. As dit die onderste een is, span jy waarskynlik die diafragma in – en jy haal “reg” asem. Konsentreer op jou asem terwyl jy die volgende tegniek beoefen. Dit beteken jy moet die vermoë aanleer om jou gedagtes te beheer. Moenie toelaat dat dit dwaal nie, maar fokus op hoe jy in- en uitasem, asook die outomatiese pouse tussen asemteue. Jy sal dalk moet oefen voor jy dit regkry, maar só leer jy negatiewe en stresvolle gedagtes beheer.
Doen dit daagliks vir 20 minute lank (of so lank jy kan). Jy sal ná ’n paar maande vind jou energievlakke het verhoog en dat jy minder slaap nodig het. Jy kan dit met musiek kombineer. Nimf het ’n studie gedoen oor die invloed van musiek op pasiënte onder narkose. Sy het onder meer bevind dat hulle ná die operasie minder pynpille nodig gehad het. Barokmusiek (Bach, Handel en Vivaldi) is veral doeltreffend.
* Koste: R150. Seminare: R380 per dag. Bel Nimf by 012 543 1473

2. Streel pyn weg – TERAPEUTIESE MASSERING

Dis waarskynlik ’n uitvloeisel van ons instinktiewe reaksie om pyn te verlig deur die seer deel te vryf. Terapeutiese massering het verskeie fisieke en sielkundige voordele. Dit laat die spiere ontspan, streel die vesels en maak dit dus meer soepel, verbeter die bloedsomloop, veral die spiere en vel, en bevorder die dreinering van limfvloeistof. Dít bevorder weer die afvoer van afvalprodukte en gifstowwe. Die sielkundige voordeel is dat massering stres verlig en jou van spanning in die liggaam bewus maak. As jy byvoorbeeld sit terwyl jy werk, sal jou nek, rug en skouers maklik gespanne raak – en dalk spanningshoofpyne tot gevolg hê. Massering stel die energie vry wat weens spierspanning verlore gaan. Die ander uiterste is dat jy dalk baie tyd op jou voete deurbring of inspannende handearbeid verrig. Dit kan pyn in die bene, spierspanning, uitputting of selfs beserings veroorsaak. Massering kan pyn tydens ’n bevalling dermate verminder dat minder pynstillers nodig is. Dit kan ook die gevolge van pynlike rumatiek en artritis temper. Navorsing toon terapeutiese massering is doeltreffender vir chroniese rugpyn as enige ander aanvullende terapie.
•    Bronne: Leef Gesond en www.health24.com
•     Navrae: Sandra Williams, vereniging vir terapeutiese massering: 021 671 5313. ’n Lys van terapeute is te kry by www.mtasa.co.za

3. Naalde nie net vir naaldwerk – AKUPUNKTUUR
Met akupunktuur word dun naalde op spesifieke punte in die liggaam gesteek. Volgens dr. Bernard Brom, ’n mediese dokter van Stellenbosch, wat akupunktuur toepas, help dit veral vir pynlike rumatiek en artritis. Dis ook ’n voorkeurbehandeling vir chroniese hoofpyn en gordelroos. Die pyn verminder met elke behandeling, totdat die toestand opklaar of baie verbeter. Jy kan reeds ná die eerste behandeling minder pyn hê, maar gewoonlik eers ná twee tot vier sessies. As die akupunktuur werk, is die verligting langdurig, of die toestand word genees. Dit hang af hoe ernstig die toestand is en of die patologie omgekeer kan word. In China word akupunktuur dikwels vir kinders met pyn gebruik, maar in die Weste is die naalde nog ’n afskrikmiddel. ’n Lae-energielaser kan dan ingespan word. Dis ’n pynlose manier om die akupunktuurpunte te stimuleer.
•    ’n Akupunktuursessie by ’n mediese dokter kos R215. Vir ’n verwysing na ’n dokter of fisioterapeut, kontak die South African Society of Integrative Medicine by 021 885 1014.

SARIE beproef dit self
PYNBEHEER IN DIE RUIMTE-EEU – SCIO-FREKWENSIE-BEHANDELING
Toe my fynbesnaarde motor onlangs nukkerig raak, het die motorwerktuigkundige ’n klein rekenaar daaraan gekoppel en dadelik gesien wat skort. Dis omtrent wat die Scio-rekenaar met jou lyf doen, dog ek terwyl ek met ’n elektrode-sensor-harnas om my kop, enkels en polse op ’n uitskopstoel in die Frequency Wellness Centre (FQWC) in Menlyn, Pretoria sit. Ek is ’n pynproefkonyn vir die Scio-rekenaar, wat die Amerikaner en Nasa-wetenskaplike prof. Bill Nelson ontwerp het. Dis ’n bioterugvoersisteem, wat wanbalanse in die liggaam identifiseer en dan balanseer. Elke virus, fungus en bakterie het sy eie golf-frekwensie wat deur die rekenaar gelees en dan met golf-frekwensies “aangeval” word. Binne 3 minute het die rekenaar al my geheime uitgelap: Nekwerwel C4 is uit posisie, C6 het inflammasie (korrek, ek kry al maande fisioterapie daarvoor), by rugwerwels 2, 5 en 9 word senuwees vasgeknyp (korrek, eina!). My algemene gesondheidstelling is 67 (80 is ideaal) en daar is hoë tellings van virusse (griep, Epstein-Barr en Coxsackie). Ook waar – bloedtoetse het laasgenoemde twee bevestig. Ek gebruik tans antibiotikum vir ’n sekondêre infeksie weens griep. My pynlike litte (osteoartritis) word ook opgespoor. Jy sit anderhalf uur in die stoel, terwyl die rekenaar die virusse en pyne takel met golffrekwensies wat hulle neutraliseer. Jy voel niks, nie eens ’n prikkelsensasie nie. Jy is net baie moeg ná die sessie. Die Scio-frekwensiebehandeling stimuleer pynbeheer, dus sal jy daarna pynverligting ervaar, sê Hans Mitchell, terapeut by die FQWC.
 “Dit stimuleer neuro-oordragstowwe, herstel die liggaamsbalans en help die lyf om homself te genees.” Dis doeltreffend vir onder meer hoofpyn, stres, jappiegriep, chroniese pyn, depressie – kortom, ’n magdom kwale. Dink jy dis twak, sien die rekenaar dit ook – jou weerstand registreer op die skerm! Ek word aangesê om baie water te drink en te kyk hoe ek ná 48 uur voel. Die resultaat? My vingers is meer soepel en my nek minder pynlik. Dis ontstellend dat my organe volgens die Scio ’n volle 10 jaar ouer as my jare is, maar gereelde behandelings sal hulle gou weer bloedjonk maak, sê Hans. (Ja, die rekenaar kan facelifts ook doen …)
Elsa Krüger
Kontak Hans Mitchell by 012 348 7624. Vir ’n terapeut in jou omgewing, skakel 031 563 6724.

4. Die onderbewuste wéét – HIPNOSE
Medici kyk gewoonlik net na die fisieke aspek van pyn. Die meer subtiele aspekte soos die emosies en gedagtes wat daarmee saamgaan, word geïgnoreer. Die volgende geval illustreer dit: ’n Middeljarige man het ’n operasie ondergaan weens ’n vasgeknypte senuwee, wat sy been verlam en gevoelloos gemaak het. Iets het ten tyde van die operasie verkeerd geloop en hy was daarna verlam in sy lae-rug. Ten spyte daarvan het hy steeds erge rugpyn gehad. Hy het nog operasies ondergaan, maar die pyn het gebly. Hy het hipnose as ’n laaste uitweg probeer. Onder hipnose is hy na die gebeure gedurende die operasie teruggeneem. Hy het beleef hoe die dokter se hand gly en ’n senuwee afsny. Die uitroepe en vloekwoorde wat op die “glips” gevolg het, het in sy onderbewuste vasgesteek. Die onderbewuste wil jou beskerm. Simptome kan gesien word as die uitkoms uit ’n noodsituasie: Die onderbewuste glo jy is in gevaar en dat iets drasties gedoen moet word om die tragedie te voorkom. In dié geval het die onderbewuste verwag die man sou doodgaan. Die pyn van die “foutiewe” snit is behou, sodat hy kon weet: Ek leef! Nadat die onderbewuste besef het hy lewe en dat pyn nie nodig is om dit te bewys nie, het die pyn verdwyn. Die pyn wat die man ervaar het, was dus emosionele pyn en pyn “in sy kop”, wat fisiek gemanifesteer het. Pyn vervul soms ook die rol om jou te straf vir ’n onvergeeflike swakheid of daad wat jy gepleeg het. Soms beskerm dit jou deur jou te isoleer. ’n Kind kan bv. kwaai maagpyn ontwikkel om uit die skool te bly omdat die bedreiging daar (’n kwaai onderwyser of boelie) te groot is om te “oorleef”.
Bron: ’n Sielkundige en hipnoterapeut van Johannesburg.
** Geen vasgestelde tariewe nie. Kontak die SA Vereniging vir Kliniese Hipnose by 012 997 7173 of admin@sasch.co.za

5. Jou lyf stres – liggaamstres-ontlading (body stress release)
“O … o, oooo! Eina! Is jy ’n stoeier in jou vrye tyd?” (Dis nou ek.)
“Ek ráák skaars aan jou,” sê Laetitia Matthyser, ’n BSR-praktisyn van Centurion.
“Sommige mense raak aan die slaap terwyl ek met hulle werk. Jou lyf is ’n bol stres – daarom is dit só gevoelig.” Stres? Mý lyf? Ek doen joga. (Soms.) Ek tel tot tien voor ek kwaad word. (Soms.) Ek slaap 8 ure. (Altyd.) Ek is ’n rustige mens. (Soms.) Nè? My lyf vertel ’n ander storie. Liggaamstres-ontlading is ’n tegniek om die liggaam te help om van stres ontslae te raak. Jou lyf word daagliks aan emosionele, fisieke of chemiese stres blootgestel. Die lyf genees homself, maar mettertyd raak die stres hom baas. Laetitia sê as jy “bedreig” word, reageer die liggaam instinktief om jou te beskerm en die spiere verstyf. En dit ontspan nie weer heeltemal as die “gevaar” verby is nie. Dié verstywing veroorsaak dat die rugwerwels na mekaar getrek word, wat weer drukking op die senuweestelsel plaas. Dis nie net pynlik waar die drukking is nie, maar ook die interne organe of die gebied wat die spesifieke senuwees voed, loop deur. Die terapeut gebruik die lyf as ’n monitor om die opgegaarde stres te vind. Die lyf word met ligte, maar besliste stimulering aangemoedig om daarvan ontslae te raak. Dit kan manifesteer as hoofpyn, rugpyn, seer nek en skouers, ’n swak liggaamshouding, moegheid, depressie en selfs diarree of hardlywigheid. Jy kan dadelik verligting van pyn hê. Maar as stres oor ’n lang tydperk opgehoop het, is meer sessies nodig. Ek het al maande ’n hoofpyn. Laetitia sê my lyf probeer my vertel iets is verkeerd, en sy wys my dat my lyf skeef na links trek. As ek op my rug lê, is my regterskouer hoër as die ander een. Aha! As ek voor die rekenaar sit, lê my notas links van my. Ek swaai dus kort-kort my lyf soontoe. Ek skuif my rekenaar en die hoofpyn verdwyn. Ná drie sessies slaap ek soos ’n klip, en ek het hope energie. Ek het my lyf dekades lank misbruik. Die skade kan nie in net drie sessies reggestel word nie. Die resultate tot dusver het my egter oortuig om weer te gaan.
Lydia van der Merwe
* Bel Laetitia by 082 889 6179. Die Vereniging vir Liggaamstres-ontlading: 072 174 6167. Besoek www.bodystressrelease.co.za

6. ’n Magiese ‘pen’
Dit lyk soos ’n groterige rolpuntpen: Kristalle genereer ’n lae-frekwensie elektriese lading, wat die senuweebaan aktiveer om ’n “noodsein” na die brein te stuur. Die brein stuur dan endorfiene (die liggaam se natuurlike pyndoders) om die pyn te stop. (My ervaring is dat dit goed vir alledaagse pyne en skete werk. Ek is meer skepties oor die invloed daarvan op chroniese pyn.)
* Navrae: 083 959 9171 of www.paingone.com

Besoek die pyndokter
In ’n pynkliniek werk verskillende pynkenners saam in een praktyk. Dit kan onder andere ’n dokter, fisioterapeut, chiropraktisyn, neuroloog of sielkundige wees. Anders as in Amerika en Europa het ons nie plaaslik toegewyde pynklinieke in die private sektor nie. Daar is wel sulke klinieke by opleidingshospitale soos Groote Schuur in Kaapstad en Universitas in Bloemfontein. Maar daar is wel medici in die private sektor wat hulle op pynhantering toespits. Dr. Christo Muller van Kaapstad is byvoorbeeld ’n narkotiseur, maar behandel ook pasiënte met erge pyn. Hy is een van net ’n paar medici landwyd wat pyn holisties benader. (Hoewel daar heelparty medici is wat ’n spesifieke behandelingsmetode, byvoorbeeld inspuitings, toepas.) Christo bestee ’n uur of twee aan ’n nuwe pasiënt en doen ’n evaluering van jou pyn, watter toetse en behandelings jy al ondergaan het en hoe die pyn jou fisiek, psigies en sosiaal beïnvloed. Hy verduidelik watter soort behandelings jou die waarskynlikste sal help en verwys jou na toepaslike kenners. Hy sien hom as ’n koördineerder van die verskillende behandelings wat jy ondergaan, en skryf medisyne voor en gee inspuitings. Hy verskaf ook riglyne oor jou leefstyl en die rol daarvan op jou pynvlakke. Volgens hom kan minder as 1 uit 10 pasiënte nié gehelp word nie, dikwels weens gekompliseerde psigososiale probleme, of dis ’n siekte wat vinnig vererger.
* Navrae: roumaine@kingsley.co.za