Gesondheidstories

Staan op – te veel sit is sleg vir jou!

Baie mense wat op kantoor werk, sit die grootste deel van die dag. Dit benadeel jou gesondheid – selfs al doen jy ekstra oefening.

Jy sit heeldag agter die rekenaar, jy sit as jy middagete eet, jy sit in die kar in die verkeer en jy sit voor die televisie tot jy saans gaan slaap…

Verskeie studies wys te veel ononderbroke ure in ’n stoel of op die bank kan ’n nadelige invloed hê op jou gewig en jou vatbaarder maak vir chroniese siektes.

Wat sê die navorsing?

’n Studie wat in die International Journal of Behavioral Nutrition and Physical Activity (IJBNPA) gepubliseer is, wys mense wat vier uur of meer per dag sit, het ’n groter kans om chroniese siektes soos kanker, diabetes of hartsiektes te ontwikkel as diegene wat minder as vier uur per dag op hul sitvlak deurbring.

’n Artikel in Obesity: A Research Journal fokus weer op die verband tussen die aantal uur wat mense sit en hul gewig. Die navorsers het bevind mense wat vetsugtig is, sit gemiddeld 2,5 uur per dag meer as mense wat nie oorgewig is nie.

70% van SA vroue is oorgewig PLUS 5 kosse wat jou maer maak

Help dit om te oefen?

Kortom: Nee. Volgens ’n artikel in die Journal of Physical Activity and Health help dit nie noodwendig om oefening te doen om “op te maak” vir die lang tye wat jy sit nie. Dit gaan nie daaroor of jy aktief of onaktief is nie, dit gaan oor die hoeveelheid tyd wat jy op daardie stoel deurbring.

Vergeet van maklike oplossings

Dit is bra moeilik om die aantal uur wat jy elke dag sit, te verminder, veral as jy ’n werk het waar jy heeldag by ’n rekenaar of telefoon moet wees. Ag jouself baie gelukkig as jy ’n tuisbly-ma is, want heeltydse ma’s stap gemiddeld verder as kelners en selfs verpleegsters! Lees dié statistieke HIER.

5 maniere om minder te sit

1) As jy gewoonlik lang ure aaneen sit, is die eerste stap om die siklus te breek, beveel Science Daily aan. Staan ten minste een keer per uur op en maak ’n koppie tee of drink ’n glas water.

2) Maak ’n reël, byvoorbeeld om op te staan elke keer as jy iemand bel of jou e-posse lees.

3) Moenie dat iemand anders vir jou koffie of tee maak nie. Sê eerder jy sal dit self maak en gee jou sitvlak só ’n blaaskans.

4) Hoewel dit baie sal help om oor middagete 20 of 30 minute te gaan stap, is dit selfs beter om dié oefening deur die dag te versprei, berig Harvard Health. Probeer om ná elke taak ’n draai deur die kantoor te loop.

5) Popular Science stel ’n staan-lessenaar voor. Dit is ’n lessenaar wat omtrent so hoog soos ’n kroegtoonbank is sodat jy kan staan en werk eerder as om te sit. As jy nie kans sien om heeldag te staan nie, is daar ook weergawes wat slegs jou rekenaar oplig sodat jy vir ’n gedeelte van die dag jou werkstasie hoër kan stel.

’n Staan-lessenaar in een van Amerika se Silicone Valley se kantore FOTO: Instagram  @edelmansv

’n Staan-lessenaar in een van Amerika se Silicone Valley-kantore
FOTO: Instagram @edelmansv

Hierdie video van Chairigami (’n maatskappy wat meubels uit karton maak) se karton-staanlessenaar sal jou dalk motiveer om te begin dans terwyl jy werk. Dit sal natuurlik die beste oplossing vir sit-siekte wees, maar ons glo nie dit sal sommer by alle kantore toegelaat word nie…

Bronne: IJBNPA, Obesity: A Research Journal, Harvard HealthScience DailyPopular Science

Nóg gesondheidstories