des08gesondartikel1a
Gesondheidstories

Systap jou gene – Alzheimer, hartsiekte of kanker

Weet jy watter siektes kom in jou familie voor? By die meeste siektes speel jou gene ’n belangrike rol. Jy kan daarom niks daaraan doen nie, want jy kan tog nie jou gene verander nie.

Verkeerd, sê Maritha Kotze van Gknowmix, ’n genoomsentrum in Kaapstad wat genetiese toetsing doen. Want jy kán stappe doen om jou kans om ook dié siektes te kry te verklein.

Ons kyk hier veral na hartsiektes, tipe 2-diabetes (suikersiekte), kolonkanker (dikdermkanker), osteoporose en Alzheimer-siekte. Jy weet reeds jy moet ’n gebalanseerde dieet volg, gereeld oefen (al stap jy net flink) en jou gewig in toom hou. Maar hier is nog feite waarvan jy dalk nie bewus was nie.

Kardiovaskulêre siektes (KVS)
• Dis enige siekte van die hart en bloedvatstelsel, insluitend hartaanvalle en beroerte. Gemiddelde risiko: sowat 8% (1 uit 12). Dit kan tot 80% styg as KVS in jou familie voorkom.

• As jy ’n ouer, kind, of broer/suster met KVS het, verdubbel jou risiko.

• As twee van hulle KVS voor 55 het, is jou risiko meer as 5 keer groter.

Jou gene & jou lewenstyl

Volgens Maritha Kotze van Gknowmix, ’n genoomsentrum in Kaapstad wat op genetiese toetsing fokus, word mense soms gebore met ’n verandering in die struktuur van hul DNS-kode wat dit anders as die “normale” maak. Dis soos om ’n koek te bak, maar een bestanddeel wat jy gebruik, verskil van die resep s’n. Die koek kan dan minder lekker smaak. Sommige van dié veranderinge kan ’n invloed hê op hoe jou liggaam medikasie, voedingstowwe en gifstowwe opneem, verteer of wegwerk. Daar is ’n ingewikkelde wisselwerking tussen sommige van dié geen-veranderinge, jou dieet en leefstyl. Jy kan byvoorbeeld geen-veranderinge hê wat jou meer vatbaar vir sekere siektes maak, maar jy kán jou medikasie en dieet aanpas om daarvoor te help vergoed. Omgewingsfaktore kan dus beïnvloed hoe gene hulself “gedra”. *Sommige genetiese veranderinge kan op hul eie siektes veroorsaak – die omgewing het dan min of geen invloed. Jou risiko is dan baie groot (in sommige gevalle 80% tot 100%) om dié toestand te kry. Jy moet saam met jou spesialis en ’n genetiese raadgewer besluit wat die beste behandeling is. Dit sluit oorerflike borskanker in – minder as 10% van vroue met dié siekte het dit egter oorgeërf. Ook in dié klas is sistiese fibrose, oorerflike hipercholesterolemie en Alzheimer-siekte (AS) waar dit in jou 40’s en vroeë 50’s begin. (Dis minder as 1% van alle AS-gevalle. Dis egter nie áltyd geneties verwant as jy so vroeg AS kry nie.)

*Daar is ook genetiese veranderinge wat nié op hul eie siektes veroorsaak nie. In samewerking met ander gene met dieselfde funksie, die verkeerde dieet en ander leefstyl- en omgewingsfaktore, kan jou risiko daarop egter drasties toeneem. En hieraan kán jy iets doen.

Wat kan jy doen?

• Mense met lae magnesium-vlakke se risiko vir hartsiektes is amper dubbel dié van mense met hoë vlakke. Bronne van magnesium is salm, piesangs en spinasie.

• Eet kosse met foliensuur (’n B vitamien). Amper die helfte van wit mense in SA het ’n geen-verandering wat hul bloedvlakke van die skadelike aminosuur homosisteïen kan verhoog. Dit kan jou risiko op hartsiektes, beroerte en selfs kanker vergroot en word ook aan Alzheimer-siekte (AS) gekoppel.

Maar as jy genoeg foliensuur inneem, word homosisteïen afgebreek.  Studies wêreldwyd toon egter ons kry minder as die aanbevole 400 mikrogram per dag in. As jy dié geen-verandering by albei ouers geërf het, het jy boonop twee keer soveel foliensuur nodig.

Bronne: groen, blaarryke groente, lemoensap, neute en sade. Neem ook ’n B-kompleks-aanvulling – vra jou apteker vir ’n goeie een.

• Nog geen-veranderinge wat algemeen in SA voorkom, verhoog ook jou risiko op hartsiektes – veral as jy rook. Jou risiko om hoë cholesterol te kry is hiermee nóg groter as jy baie versadigde vette, bv. vet rooivleis, eet (teenoor iemand wat sulke vette eet, maar nié die geen-veranderinge het nie).

Volg ’n laevet-, lae cholesterol-dieet en moenie rook nie. Vermy ook passiewe rook. Laat jou bloeddruk en cholesterol jaarliks toets.

• Sowat 1 uit 75 wit Afrikaanssprekendes is draers van ’n geen vir oorerflike hipercholesterolemie (FH), wat jou cholesterolvlakke drasties opjaag. Jy moet medikasie hiervoor neem ‒ ’n spesiale dieet alleen help nie.

Alzheimer-siekte (AS)
• Gemiddelde risiko: sowat 17% vir vroue (1 uit 6), 9% (1 uit 11) vir mans. As jou ouer/broer/suster dit het, kan jou risiko tot 3,5% groter wees om dit te kry.

• ’n Genetiese verandering wat by 30% tot 40% van Suid-Afrikaners voorkom, vergroot jou risiko – veral as jy alkohol drink. Dis tot sewe keer groter as jy verskeie kere per maand drink, en selfs vier keer so groot as jy maar minder as een keer per maand alkohol drink! Mense met hierdie geen-verandering moet alkohol daarom liewer heeltemal uitsny.

Wat kan jy doen?
• Verlaag jou risiko op kardiovaskulêre siektes – dit kan ook jou kans op AS verlaag. Een studie, wat sowat 27 jaar geduur en 10 000 mense betrek het, wys dat as jy in jou middeljare rook en hoë cholesterol, hoë bloeddruk en diabetes het, neem jou risiko op demensie (soos Alzheimer-siekte) met 20 – 40% toe. As jy oorgewig is, neem dit met sowat 35% toe en as jy vetsugtig (obese) is met sowat 70%.

• Eet minstens 5 verskillende groentes en vrugte per dag. As jy geneties tot verhoogde homosisteïenvlakke geneig is, neem ook ’n B-kompleks-aanvulling met foliensuur. (Sien inligting oor kardiovaskulêre siektes.)

‘n Nommerpas-dieet?

Dis moeilik om gewig te verloor. En nog moeiliker om dit wat jy verloor het, nie sommer weer aan te sit nie. En nou sê kenners dieselfde dieet werk nie vir almal nie.Geen-veranderinge beïnvloed hoe jou liggaam voedingstowwe verwerk en vervoer. Wat dan as jy ’n dieet volg wat dié veranderinge in ag neem – en dus by jou persoonlike behoeftes aanpas?Daar word tans baie navorsing hieroor gedoen. ’n Klein Griekse studie het bevind jy gaan nie noodwendig meer gewig verloor nie, maar die kans is heelwat skraler dat jy dít wat jy afgeskud het, weer sal aansit. (’n Kontrolegroep het maar weer vet geword.) Meer navorsing is egter nodig voor ’n geentoets gebruik kan word om met gewigsprobleme te help. Bron: Nutrition Journal, 18 Oktober 2007

  

Tipe 2-diabetes
• Gemiddelde risiko: sowat 8% (1 uit 12).

• As een van jou ouers tipe 2-diabetes het, is jou risiko sowat 20% (1 uit 5). As albei dit het, is jou risiko sowat 30%
(1 uit 3).

Wat kan jy doen? Verloor gewig: Daar is ’n sterk verband tussen vetsug en tipe 2-diabetes.Jy kan vetsug (en dus diabetes) só beveg: 

Beweeg! Hoe meer aktief jy is, hoe kleiner jou risiko om insulienweerstandig (die fase vóór diabetes) te wees.

Eet gesond. Sowat 90% van mense met tipe 2-diabetes is oorgewig. Navorsing wys as jy verfynde stysel soos witbrood en witrys uitsny, kan jou risiko met amper 40% verklein.

Slaap genoeg. Wanneer vroue 6 uur of minder per nag slaap, werk insulien tot 40% minder doeltreffend. Insulien is die hormoon wat die toevoer, verspreiding en gebruik van glukose in jou liggaam reguleer. Insulien-weerstandigheid, wanneer suiker in jou bloed begin ophoop, is ’n voorloper van diabetes.

Kolonkanker
• Gemiddelde risiko: sowat 6% (1 uit 16). • As jou ma/pa/broer/suster ná 50 daarmee gediagnoseer is, is jou risiko 12% tot 18%.

• As een van hulle vóór 50 gediagnoseer is: Jou risiko is 18% tot 24%, drie tot vier keer meer as die gemiddeld. In albei gevalle moet jy ’n kolonoskopie op 40 en elke 5 jaar daarna kry. (Jou kolon en rektum word met ’n buigbare, verligte “videokamera”, ’n kolonoskoop, ondersoek.)

• Jou ma/pa/broer/suster het oorerflike polyposis coli (’n skaars soort kolonkanker)

• Jou risiko om die geen te erf is 50%. En as jy dit erf, gáán jy kolonkanker kry. Gaan van die ouderdom van 10 af elke 6 maande vir ’n sigmoïdoskopie (ondersoek van die rektum en onderste deel van die kolon). Poliepe, wat kwaadaardig kan word, word dan vroegtydig verwyder.

Volgens Johanna Grobbelaar van die National Health Laboratory Services en die Universiteit Stellenbosch by Tygerberg-hospitaal is die kanse skraal dat jy die geen oorgeërf het as jy op 45 tot 50 nog geen poliepe het nie. Jou risiko op kolonkanker is dan dieselfde as enigiemand anders s’n.

• Jou ma/pa/broer/suster het skaars oorerflike nie-polyposis kolorektale kanker, ’n tipe kanker wat nie poliepe vorm nie. Jou risiko is 50% om die geen te erf – en jou risiko is 80% om dit te kry indien jy die geen geëerf het. Gaan vir ’n kolonoskopie op 25 en elke 2 tot 3 jaar daarna weer.

Wat kan jy doen?

• Diëte hoog in diervette word met kolonkanker verbind. Daarteenoor beskerm baie vesel in jou dieet jou daarteen.

• Rook vervoer kankerwekkende stowwe na jou kolon. Dit maak skynbaar ook poliepe groter.

• Eet minder braaivleis (spesifiek rooivleis). Dit bevat kankerwekkende stowwe en kan jou risiko met tot 29% verhoog.

• Eet baie knoffel, uie, broccoli, blomkool, kool, radyse, spruitkool (Brussels sprouts) en bronkors (watercress). By sowat die helfte van alle mense veroorsaak geen-veranderinge dat gifstowwe nie behoorlik uitgeskei word nie. (Hulle is byvoorbeeld afkomstig van sigaretrook of rooivleis wat te lank of teen ’n baie hoë temperatuur gaargemaak is.) Stowwe in bogenoemde groente help jou liggaam om ensieme af te skei wat jou ontgif. (Bron: www.colorectal-cancer.ca.)

Dwarstrekkerige gene

Daar kan in die laboratorium vir verskeie genetiese veranderinge getoets word, soos ’n genetiese harttoets wat ook op vatbaarheid vir seniele demensie (soos Alzheimer-siekte) kan wys. Dan word gekyk vir sekere genetiese veranderinge wat nie net jou hart beïnvloed nie, maar ook jou brein. Dit word in samewerking met Gknowmix by laboratoriums landwyd gedoen. Saam met jou uitslag kry jy gesondheidsriglyne oor dieet- en leefstylveranderings en dalk ook medikasie. Die toets kos R2 000 tot R3 000 en die meeste siekefondse betaal daarvoor.*Moet jy vir genetiese toetsing gaan? Besoek www.gknowmix.com of kontak Julie Malan, ’n geregistreerde genetiese raadgewer, by 012 997 4908 of juliemal@mweb.co.za; of Maritha Kotze by 021 938 9324 of maritha.kotze@gmail.com.

Osteoporose
• Gemiddelde risiko: sowat 33%
(1 uit 3) vir vroue, 20% (1 uit 5) vir mans.

• As jou ma/pa/broer/suster dit het, vergroot jou risiko met 50% tot 85%.

Wat kan jy doen?
• Kry minstens 1 000 mg kalsium per dag in. Jy kry dalk nie genoeg nie as jy op ’n beperkte dieet is en suiwel, ’n belangrike kalsiumbron, uitsny of beperk. Jy kan ’n voedselaanvulling hiervoor vat.

• Doen oefening waar jy op jou voete bly, soos flink stap (45 minute lank, minstens 3 keer per week).

• Hou op rook en moenie meer as 1 alkoholiese drankie per dag drink nie.

• Eet minder sout. Te veel kan jou liggaam van kalsium beroof.

• Besoek jou dokter as jy 6 maande of langer nie menstrueer nie. Jy het dalk ’n tekort aan estrogeen,’ n hormoon wat jou bene beskerm. Vlakke val in jou menopouse, maar ook as jy ondergewig is of te veel oefen.

• As jy risikofaktore het (familiegeskiedenis, rook, eetversteurings, ongereelde menstruasie), gaan vir ’n beendigtheidstoets wanneer jy 50 is. Álle vroue moet een kry ná 65. Bron: Die Nasionale Stigting vir Osteoporose (NOFSA)

* Hoofbron: Dr. Maritha Kotze van Gknowmix,’n sentrum in Kaapstad wat op genetiese toetsing fokus.

**Statistieke: Die SA Hart-en-Beroertestigting (www.heartfoundation.co.za), die Departement van Gesondheid (www.capegateway.gov.za), www.colorectal-cancer.ca, NOFSA (www.osteoporosis.org.za)