Gesondheidstories

Te koop: Ontwerperborste

Dit verg baie selfvertroue van enige vrou om so te sê nakend in ‘n tydskrif te verskyn. Loui Fish, vervreemde vrou van die gewese Bafana Bafanakaptein, Mark Fish, was eens ‘n onderkleremodel. En haar D-keëlborste die natuur se geskenk. Maar dit was vóór sy Luke (10) en Zeke (7) geborsvoed het.

Die kaalbastydskriffoto van haar en Mark is begin 2008 as deel van ‘n antiverkragtingsveldtog geneem. Mark het ‘n sokkerbal vasgehou en só die nodige weggesteek. Loui was om hom gedrapeer met haar borste sigbaar. Sy het die naakte waarheid bekyk en besef: “Girl, jy móét iets doen.”

Vir haar 35ste verjaardag het Mark vir ‘n borsvergroting betaal. Sy enigste wens was: “Tog net nie sulke ‘knoppies’ soos Posh s’n nie!” Loui se Pretoriase plastiese chirurg het ronde inplantings bo-op haar borskas-wandspier gesit. “Dis sag en lyk natuurlik,” sê sy.

Sy is nou ‘n DD en sukkel om ‘n bra te kry wat pas. Haar tepels was aanvanklik sensitief en voel nog altyd ‘n bietjie dood, maar dit sal blykbaar mettertyd regkom. En nee, verseker sy, sy het dit nié vir Mark gedoen nie. Dit was 100% vir haarself. “Ná twee kinders het jy ‘n hupstoot nodig. Emosioneel óók. Ek voel nou weer vrou.”

Borsvergrotings is plaaslik die gewildste kosmetiese operasie naas liposuiging. SA statistieke is nie beskikbaar nie, maar dr. Nerina Wilkinson,’n plastiese chirurg van Kaapstad, skat dis sowat 25% van vroue in die hoë inkomstegroep. “Ek is soms op ‘n partytjie waar byna álmal een gehad het,” sê sy. En dis lank nie meer net vir die rykes en beroemdes nie. Gewone, werkende vroue klop ook by haar aan – hulle spaar tot hulle genoeg geld het. En ja, hulle is dikwels Afrikaans.

Die tipiese vrou wat haar borste laat vergroot, is tussen 30 en 40 jaar, met kinders en ‘n beroep. Al hoe meer vroue bó 40 en 50 laat dit ook doen, sê Nerina.

Borste wat jou netjies pas

Vir die oningeligte is ‘n borsinplanting net ‘n dop gevul met soutwater of silikoon. Maar agter gehalteborsinplantings (of prosteses) skuil jare se navorsing. Volgens Gené van den Ende van Genop Healthcare in Johannesburg, wat Allergan-inplantings bemark, word 140 toetse op elkeen van hul inplantings gedoen om die gehalte te waarborg. Dit neem 7 tot 10 dae om een silikoon-inplanting te maak. Daar is 2 basiese vorms. Rondes gee die “spanspek”-voorkoms, soos Posh (Victoria Beckham) s’n. Dit gee jou ‘n cleavage nes dié van die filmsterre. Sowat 90% van SA vroue verkies dit. Die “traandruppel”-soort is voller aan die onderkant om ‘n natuurlike bors na te boots. Dit lyk baie natuurlik en is veral in Europa gewild – sowat 60% van vroue daar verkies dié opsie. Jou borskasgrootte en gewig bepaal wat die beste vir jóú is.

Op 45 het Petra (skuilnaam),’n sakevrou van Johannesburg, se borste hul jeugdigheid verloor. “Ek is ‘n B-keël en wou nie groter borste hê nie, maar net die vorm verbeter.” Sy was die eerste SA vrou wat ‘n traandruppel-inplanting gekry het. Dis nou 2 jaar later en sy’s glad nie spyt nie.

“Jy sal nooit weet ek het daaraan laat werk nie, veral omdat ek nog dieselfde grootte is.” Volgens Nerina is die traandruppel nie juis plaaslik in aanvraag nie. Dis duur: Sowat R12 000 per inplanting, terwyl ‘n ronde een sowat R4 500 kos. SA vroue hou boonop van ‘n cleavage. Maar dit hang ook af waar in die land jy woon: In Kaapstad is die natuurlike voorkoms in die mode en die traandruppel-soort gewild. Pretorianers, weer, hou van hul borste groot en rond. “In Kaapstad gebruik ek kleiner borsinplantings as toe ek in Johannesburg gepraktiseer het. Pretoriase vroue s’n was die grootste!”

Mites oor borsvergrotings
Mite 1:
Silikoon-borsinplantings is sleg vir jou gesondheid. Nie so nie, het die Amerikaanse produkte-gesondheidswaghond, die Food and Drug Administration (FDA), onlangs verklaar. Dít nadat silikoon-inplantings 14 jaar lank in die VSA verbied was. Ná jare se uitgebreide studies kon geen verband gevind word tussen silikoon, borskanker en siektes van die immuunstelsel (bv. chroniese artritis) nie. Die FDA het in 2006 twee handelsmerke se ronde, silikoongevulde borsinplantings goedgekeur. Albei, Allergan en Mentor, is in Suid-Afrika beskikbaar. (Besoek www.fda.org.)

In Suid-Afrika was silikooninplantings nog altyd gewild. Nerina reken die borskanker-stigma het in die 80’s posgevat, omdat slegs vroue met borsinplantings aangeraai is om hul borste gereeld vir knoppe te ondersoek. Hulle het dus meer dikwels knoppies gevoel as ander vroue, wat nie besef het selfondersoek is vir almal ‘n raadsame gewoonte nie.

Mite 2:
Dit veroorsaak chroniese moegheid-sindroom met simptome soos spier- en gewrigspyne en moegheid. Groot studies kon geen verband vind nie. Volgens Nerina is iemand met ‘n tipe A-persoonlikheid (‘n haastige go-getter) altyd aan die woel, en chroniese moegheid beïnvloed sulke vroue dus waarskynlik meer. En dis haar ervaring dat dit juis dié vroue is wat dikwels borsvergrotings kry: Dis iemand wat suksesvol is, goed na haarself kyk en gereeld oefen. Sy laat dan ‘n borsvergroting doen om nóg beter te lyk.

Wat ís die risiko’s?

Jou liggaam vorm bindweefsel rondom die borsinplanting – ‘n normale reaksie op ‘n vreemde voorwerp. By ‘n minderheid vroue vorm báie bindweefsel en dit trek saam om die inplanting. Dit kan jou bors abnormaal hard laat voel, die vel laat rimpel en die vorm van jou borste verander. Niemand weet wat dit veroorsaak nie. Dit kan wees dat die borsinplanting geskeur het of van ‘n swak gehalte is, of jy het dalk laegraad-infeksie. (Hierdie risiko is kleiner by soutwaterborsinplantings. Dis nie vir jou liggaam so vreemd nie, want ‘n groot persentasie van jou lyf ís soutwater.)
Jou risiko hierop is tussen 12% en 16%. Die graad kan egter wissel van baie effentjies (net jou dokter sal dit agterkom) tot baie erg, waar jou bors skoon op ‘n knop trek. Die risiko dat laasgenoemde gebeur, is minder as 5%. Baie van die moderne borsinplantings het boonop ‘n growwe oppervlaktekstuur. Dit verminder die kanse daarop – tot minder as 1%, sê Nerina. As jou bors wél erg saamtrek, word die bindweefsel chirurgies verwyder en ‘n nuwe inplanting ingesit. Dit gebeur selde: Nerina het onlangs die eerste keer in twee jaar iemand daarvoor geopereer.

Die silikoon kan lek en die moontlike gesondheidsgevare hiervan bly omstrede. Daar is vroue wat volhou dit het hul gesondheid aangetas, al is daar nie wetenskaplike bewyse nie. Sulke borsinplantings behou boonop hul vorm en daar is geen merkbare verandering nie – jy kom nie sommer agter dat dit lek nie. Volgens Nerina lek die moderne soorte egter selde.

Senuwees kan beskadig word, wat die sensasie in jou borste en tepels kan laat af- of toeneem. Dit kan permanent wees, maar gewoonlik verdwyn dié simptome ná 3 tot 6 maande.

Daar is al die gewone risiko’s wat met chirurgie gepaard gaan, bv. infeksie en bloeding.


 

Al die vrae . . .
Hoe gaan my nuwe bors voel?
Silikoon is jellieagtig en borste met sulke inplantings voel sag en natuurlik. Nerina weet van vroue wat hul borste voor hul huwelik laat vergroot het en hul mans weet vandag nog van niks. Soutwater-inplantings voel egter soos ‘n sakkie water.

Gaan dit hou?
Volgens Nerina het borsinplantings 20 jaar gelede gereeld geskeur. Maar die moderne, beter gehalte soort behoort ‘n leeftyd te hou. Trouens, van die duurder soorte word lewenslank gewaarborg. Jy sal dit slegs moet laat vervang as die borsweefsel hard word, jy ná die borsvergroting kinders het en die vorm van jou borste verander, of as jy jou borste kleiner of groter wil laat maak.

Sal ek nog kan borsvoed?
Beslis.

Is dit moeiliker om borskanker met ‘n mammogram te identifiseer in borste met inplantings? Dit kán moeiliker wees om ‘n afbeelding van jou borsweefsel te kry. Bespreek dit met jou radioloog. Hy of sy kan die mammogram met ‘n sonar kombineer.

Kan ek dit in my tienerjare laat doen?
Nerina vertel in Johannesburg stuur ryk vroue hul dogters voor die matriekafskeid daarvoor. Onthou egter: Jou borste kan nog tot op 21 jaar ontwikkel. As jy ‘n A-keël is, kan jy dalk nog ‘n B word. Dit is dus beter om tot later te wag.

Moet ek my borste vergroot of laat lig?
Volgens Nerina klop baie vroue vir ‘n borsvergroting aan, terwyl hul borste eintlik net gelig moet word. (Die vel word dan stywer getrek). Doen die chirurg dan ‘n borsvergroting, het jy groter borste, maar hulle hang steeds. Die twee prosedures kan egter gekombineer word. Om die borste te lig laat blywende letsels: óf om die areola en in ‘n reguit lyn ondertoe (suigstokkie); óf om die areola met ‘n vertikale lyn ondertoe en horisontaal in die vou van jou bors. Dit hang af hoeveel jou borste hang. Koste: R22 000 tot R28 000.

Groter in jou etensuur

‘n Klein snytjie word in jou bors gemaak en ‘n naald word daar ingesteek. ‘n “Vuller” word dan in jou bors gespuit – dieselfde jellieagtige stof wat gebruik word om lippe voller te maak en lyne en plooie op die gesig te versag. Dit neem slegs sowat 40 minute en jy is dadelik reg vir die lewe. Maar teen R40 000 tot R50 000 pas dit min mense se sak. Boonop moet dit elke twee jaar herhaal word. Nerina sê sy kán dit doen, maar niemand het nog daarvoor kom aanklop nie.

Byna beter as Prozac!
Die vaalste vroutjie word ná ‘n borsvergroting ‘n trotse swaan. Sy is meer selfversekerd, wys meer lyf en verander haar haarstyl en grimering. Soms kry sy selfs ‘n beter werk! sê Nerina. Leonie (skuilnaam) van Kaapstad het drie babas kort ná mekaar gehad. Nadat sy hulle geborsvoed het, was haar eens volronde B-keël-borste net vel en tepels. Sy was 32 en het nie meer van haarself gehou nie. Deesdae is sy ‘n ferm C.

Vroue gaan dikwels weens emosionele redes vir ‘n borsvergroting. Volgens Nerina is dit die moeilikste pasiënte om tevrede te stel. Sê nou maar dis ‘n poging om haar huwelik te red. As die nuwe borste nie 100% aan haar verwagtinge voldoen nie, kry dit die skuld vir haar mislukte huwelik. ‘n Meer positiewe stap is die geskeide vrou wat haar lyf wil regkry vir die nuwe lewe wat wink. “Dis ‘n teken dat jy gereed is om met jou lewe aan te gaan.”

Leonie sê haar chirurg het daarop aangedring om haar én haar man voor die operasie te sien.”Hy wou seker maak ons het albei realistiese verwagtinge en dat my man nie dink ek gaan soos Pamela Anderson lyk nie.” Die chirurg het verduidelik dié prosedure het ‘n sielkundige uitwerking met ‘n rimpel-effek op jou hele lewe. Hoe kan groter borste nou jou lewe beïnvloed? het Leonie gewonder. Maar inderdaad, sy is nie meer skaam vir hare nie. Dis weer lekker om mooi aan te trek.

Nerina wys vroue weg wat om die verkeerde redes ‘n borsvergroting wil hê. Ook as jy onrealistiese verwagtinge het: Jy is byvoorbeeld ‘n A-keël en wil ‘n DD wees. As jy ‘n familiegeskiedenis van borskanker het, moet jy ook liefs weer dink.

Modelmooi

“Borsvergrotings word deesdae só natuurlik gedoen, niemand weet nie!” sê Jayn Hancock van Ice Models in Johannesburg. Volgens haar kom en gaan die vraag na kurwes in die modewêreld.

Plaaslike adverteerders hou egter van ‘n gesonde voorkoms. Volgens Hilary Pace van Pace Models in Edenvale, Johannesburg, het onderklere-modelle gewoonlik voller borste: ‘n 34 B of C.

Hulle kan dalk voel hulle moet vir ‘n borsvergroting gaan. Die Wonderbra-model (tans Elbe van der Merwe) se kurwes is egter 100% natuurlik,’n vereiste van dié maatskappy.

Kontek Nerina Wilkinson by 021 422 4811 of nwilkinson@mweb.co.za. Of besoek www.renaissancebsi.co.za. Vir ‘n goeie plastiese chirurg, besoek www.plasticsurgeons.co.za.

  • Santie

    Ek wil net graag weet as jy ‘n baie digte borsweefsel het (het gegaan vir n mamogram) wat is die beste om die prostese voor of agter die spier te sit en wat is die voor en nadele van elk.

  • LyqvDt vlzyntfrojfr, [url=http://vfikypavxijq.com/]vfikypavxijq[/url], [link=http://yomnikgwhytc.com/]yomnikgwhytc[/link], http://tllonbsquloo.com/

  • B Pieterse

    Raad op, moedeloos Depresief. Ek is die 1 ste Nov 2010 geopereer met ‘n borsvergrotings operasie. Die Plastiese kosmetiese spesialis het my spasie waarin hy my prostese gesit het te klein gemak vir die grote sakkies wat hy in gesit het. Dit het verhard. Die 3 Nov is ek terug teater toe maar nie vir die reg maak daarvan ni maar vir geblokte dreineering wat hy toe moes oop mak. Ek is huis toe in pyn. Ek 2de opinie geraadpleeg en sy bevinding was dit wat gedoen is nie reg nie ek het ook verskriklikke bind weefsel onder my arms gehad. Ek is terug na oorspronklikke spesialis toe wat toe die 17 Jan 2011 weer geopeer het en dit toe alles reg gemak. Ek was weer van vooraf in pyn steke dreineering wat elke keer 3 weke in was. Daarna is steke uit gehaal en dreineering.Op 5 Februarie het my linkerkant se wond oop getrek, maar klein, hy het weer oop gemaak en gesny wat vlg die 2de opinie onnodig was, want daar het nie vog uit oopwond gaaitjie gekom ni so hy was klaar geseel.Weer steke weer dreineering en pyn. Nou op dag en datum die 23ste Maart loop ek met die versklikste pyn en letsel bindweefsel onder my linker arm en al wat hy se druk en maseer dit sal reg kom. Alle olies wat beide spesialiste voorgestel ek gebruik om dit beter te maak vererger dit net. Bio olie, Oil de Sante Truemeel jel noem dit en ek het dit probeer om die pyn minder te maak maar met geen resultate nie. Enige mediese raad of Profesionele spesialis vir my raad of antw hierop. Ek in pyn nog steeds want alles styf en trek onder my arm met 2 knoppe wat vog in het weerskante van snye onder linkerkant.

  • MAMMATJIE

    WIL GRAAG WEET OF JY NOG KAN BORSVOED NA BORSVERGROTINGS. sOEK IEMAND WAT DIT WEL KON DOEN OM DIT TE BEVESTIG. VERTEL MY ASB JOU STORIE.