FOTO ter illustrasie

FOTO ter illustrasie

Gesondheidstories

Tim Noakes – Om koolhidrate te eet…. of liefs nie

deur Carine Visagie (Health24)

Brood, aartappels, pasta, pap, poeding. Hier in Suid- Afrika kan jy jou kwalik ’n ete sonder ’n styselkossie voorstel. Hoe moet jy dan nou vol kom? Maar happie vir happie is ons moontlik besig om onsself ál vetter en ongesonder te eet. Suid-Afrika is een van die lande met die hoogste voorkoms van vetsug, en dis veral ons vroue wat sleg daaraan toe is. Sowat 55% van Suid-Afrikaanse vroue tussen die ouderdomme van 45 en 54 ly tans aan vetsug.

Kundiges krap nog kop oor presies waar dinge oor die laaste paar dekades skeefgeloop het en dit lyk of heelparty faktore ’n rol speel. Maar oor één ding is daar ’n gegons: die moderne Westerling se hoë koolhidraat-inname. Hier aan die suidpunt van Afrika is prof. Tim Noakes, ’n wêreldbekende sportwetenskaplike verbonde aan die Universiteit van Kaapstad, aan die stuur van wat nou dikwels as ’n “dieetrevolusie” beskryf is: die sogenaamde lae-koolhidraat-hoë- vet-eetwyse.

Prof. Noakes het in 2011 die uitspraak gemaak dat alles wat ons die afgelope paar dekades van voeding geleer het, “verkeerd” is. In die proses het hy ’n paar dieet- en voedingkundiges sommer goed vies gemaak, want dié manier van eet verskil radikaal van die laevet-dieet wat oor jare wêreldwyd voorgeskryf is.

Méér en méér navorsing toon egter dat ’n lae-koolhidraat- hoë-vet-eetwyse dalk tog voordelig kan wees, en daar word op hoë vlak gereageer: Swede het byvoorbeeld pas die eerste Westerse land geword om hierdie eetwyse deel van hul nasionale dieetriglyne te maak.

Op www.hsph.harvard.edu noem Harvard-universiteit se School of Public Health ook dat ’n lae-koolhidraat-dieet, pleks van ’n lae-vet-dieet, mense vinniger laat gewig verloor – en dat hierdie eetwyse ons kan help om maer te bly. Hierdie stellings word gebaseer op die resultate van ’n rits grondige wetenskaplike studies.

Ál meer kundiges stem ook saam dat byna vier dekades se raad rondom vet en versadigde vet in die dieet – en die beperking van kosse soos room, botter en vleis – moontlik verkeerd was. Pleks daarvan dat dit ons risiko vir hartvatsiektes verlaag het, lyk dit of dié manier van eet dalk bygedra het tot die feit dat sowat 17 miljoen mense (volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie) elke jaar wêreldwyd weens hartvatsiektes sterf. In ‘n video-onderhoud met 24.com verduidelik prof. Noakes dat ‘n hoë koolhidraat- inname vlakke van slegte LDL-cholesterol in die bloed verhoog. Dit het ‘n direkte invloed op ons risiko vir hartvatsiektes.

Maar die mensdom en die wetenskap bly kompleks, en verskeie faktore moet dus in ag geneem word: Oor die afgelope paar jaar het die gemiddelde Westerling byvoorbeeld ook ál minder begin oefen – ’n faktor wat ook tot oorgewig, vetsug, tipe 2-diabetes en hartvatsiektes bydra. Nou wil almal weet: Moet jy die brood en aartappels vir vleis en roomsous verruil? Ons beantwoord ’n paar vrae.

Hoekom is ons geleer dat koolhidrate ’n ‘stapelvoedsel’ is?

In 1977 het die VSA se departement van landbou besluit vet is sleg vir ons en ons moet meer koolhidrate eet. Dié riglyn, wat gebaseer was op voorlopige navorsing, is wyd en syd geïmplementeer en het oorgespoel na ander lande soos Suid-Afrika. In retrospek lyk dit of dié besluit dalk te vinnig geneem is.

Navorsing deur die Amerikaanse Centers for Disease Control and Prevention toon nou dat die gemiddelde energie-inname van Amerikaners in dié tyd toegeneem het, en dat hulle ál meer koolhidrate begin eet het, terwyl die inname van vet verminder het. Tussen 1971 en 2000 het die voorkoms van vetsug in die VSA boonop van 14,5% tot 30,9% toegeneem.

In die video-onderhoud met 24.com noem prof. Noakes dat vet uit die dieet gehaal is “sonder om regtig te besin oor die belangrike rol” daarvan.

kosrevolusie-full

Waarom meer vet?

Dit word nou duideliker dat vet help om ons versadig te hou (wat ons minder laat eet en uiteindelik laat gewig verloor) en dat dit dalk eerder goed is in terme van hartgesondheid as sleg. Volgens prof. Noakes is vet die beste bron van energie vir dié van ons wat sukkel met die verwerking van glukose – die afbreekproduk van koolhidrate. In diegene wat as “koolhidraat- weerstandig” beskryf word, word glukose blitsvinnig in vetselle omgeskakel. Die konstante vrystelling van insulien (om die glukose uit die bloedstroom te verwyder) plaas ook druk op die pankreas – ’n faktor wat op die lange duur tot tipe 2-diabetes kan lei.

Navorsing wat verskillende diëte vergelyk het, het boonop getoon dat ’n dieet met min koolhidrate en dus meer vet en proteïen, die beste daarin slaag om trigliseried-vlakke in die bloed te verlaag (die belangrikste vetdraende partikel in die bloed) en ook help om vlakke van goeie HDL-cholesterol in die bloed te verhoog.

Hoe raai Noakes aan moet ons eet?

Op Health24.com skryf prof. Noakes dat hy die volgende kosse heeltemal uit sy dieet sny: suiker, alle suikerbevattende koeldranke en sappe, brood, rys, pasta, aartappels, pap, ontbytgraan, sekere hoë-energie-vrugte soos piesangs, alle lekkers en soetgebak, nageregte wat suiker en koolhidrate bevat, kunsmatige versoeters en kosprodukte wat dié versoeters bevat, en plantolies met ’n hoë persentasie omega-6-vetsure (bv. sonneblomolie).

Hy eet meestal eiers (van vryloophoenders), vis, onge- prosesseerde vleis, volroom-suiwelprodukte (laevet-suiwel bevat dikwels suiker), groente (veral blaargroente met ’n lae koolhidraat- inhoud), neute (behalwe grondbone en kasjoeneute), vrugte met ’n lae koolhidraat-inhoud soos bessies en appels, water, tee en koffie.

Prof. Noakes beklemtoon dat dit nie ’n kitsdieet is nie: Dis ’n le- wenswyse. As jy eers die bogenoemde kos begin uitsny, moet jy volhou – anders gaan jy weer al die gewig wat jy verloor het, aansit.

Kan almal by hierdie eetwyse baat?

Dis nog te vroeg om te sê en die antwoord is waarskynlik “nee”. In hierdie stadium lyk dit tog of mense met “koolhidraat- intoleransie” met dié eetwyse hul gesondheid ’n hupstoot kan gee.

Prof. Noakes noem in die Health24.com-artikel dat hy self ’n baie hoë risiko vir tipe 2-diabetes het en dat hy besonder “koolhidraat-weerstandig” is, en daarom voer hy die eetwyse tot die ekstreem. Maar dis nie nodig dat almal so ver gaan nie. Indien jy ál dikker raak met die jare, sukkel om gewig te verloor (veral daai boeppens!) en heeltyd honger is, is daar ’n kans dat jy wel daarby kan baat vind. En as jy oorgewig of vetsugtig is, en/of tipe 2 diabetes het, raai prof. Noakes sterk aan dat jy nadere ondersoek instel.

Daar’s ’n bloedtoets beskikbaar indien jy 100% seker wil maak of jy koolhidraat-weerstandig is. Dit word die HbA1c-toets genoem en word tipies deur diabete gebruik om te bepaal of hul bloedsuikervlakke onder beheer is. ’n “Gesonde” syfer is laer as 5,5%.

Kan hierdie manier van eet sleg wees vir jou?

Dieetkundiges sal jou waarskynlik afraai om die lae-koolhidraat- hoë-vet-eetwyse te volg. Baie reken daar’s nie genoeg navorsing om te wys dat dit op lang termyn effektief of veilig is nie. En dis waar: Daar ís nog baie vrae wat beantwoord moet word.

Dis veral die baie versadigde vette (hoog in kosse van dierlike oorsprong soos room, botter en rooivleis) wat nog kontroversieel is. ’n Dieet ryk aan proteïenkosse maak dit ook maklik om in die “te veel sout”-slaggat te trap. En die uitsluit van sekere vrugte, groente, volgraankosse en ander gesonde plantkosse is ook iets wat baie kenners bekommer.

Indien jy lus is om dié eetwyse te probeer, stel Harvard se manne voor dat jy tog nog ander vrugte, groente en volgraankosse hier en daar in jou dieet insluit om jou liggaam van ’n wye verskeidenheid vitamiene, minerale en antioksidante te voorsien.

Dit kan egter geen skade doen om verfynde koolhidrate soos  witbrood en suiker heeltemal uit jou dieet te sny nie (eet geleidelik minder). En met gesonde proteïenkosse soos eiers, vis, volstruisvleis en hoender is daar ook nie fout nie.

Werk net liggies met die sout en hou in gedagte dat prof. Noakes se eetwyse ’n duur manier van eet is!

Bronne

Vetsug-statistieke: Aangehaal deur prof. Vicki Lambert (verbonde aan die UCT/MRC Research Unit for Exercise Science and Sports Medicine) by die Non-Communicable Diseases Journalism Symposium, 29 – 31 Augustus 2013, Grahamstad.

• Noakes, T. (Opgedateer 11 Maart 2013). Tim Noakes on carbohydrates. http://www.health24.com/Diet-and-nutrition/Nutrition-basics/Tim-Noakes-on- carbohydrates-20120721

• VIDEO: Tim Noakes on carbohydrates. http://www.health24.com/Diet-and- nutrition/Multimedia/STUDIO-The-facts-on-carbohydrates-20140103

• Van Heerden, IV. (September 2011). Protein vs. carbs: the great debate. http:// www.health24.com/Diet-and-nutrition/Nutrition-basics/Protein-vs-carbs-the-great- debate-20120721

• Van Rooyen, F. (29 Januarie 2014). Vette is nie so sleg, sê Swede. http://www. beeld.com/nuus/2014-01-29-vette-is-nie-so-sleg-s-swede

• Harvard School of Public Health: The Nutrition Source. (Februarie 2014). Low- Carbohydrate Diets. http://www.hsph.harvard.edu/nutritionsource/carbohydrates/ low-carbohydrate-diets/

• World Health Organization. (Februarie 2014). Cardiovascular disease: The Atlas of Heart Disease and Stroke Overview. http://www.who.int/cardiovascular_diseases/ resources/atlas/en/

• US Centers for Disease Control and Prevention. (Februarie 2004). Trends in Intake of Energy and Macronutrients – United States, 1971 – 2000. http://www.cdc.gov/ mmwr/preview/mmwrhtml/mm5304a3.htm

Leesstof

Prof. Tim Noakes het einde verlede jaar saam met sjefs Jonno Proudfoot en David Grier en voedingsterapeut Sally- Ann Creed ’n kookboek getiteld The Real Meal Revolution (Quivertree Publications) bekend gestel. Kry jou kopie indien jy dié eetwyse op die proef wil stel.

Koop jou uitgawe op Kalahari.com

kosrevolusie-full