Gesondheidstories

Toets jou seksuele IK

Gedink jy weet baie van jou liggaam en seksualiteit op verskillende ouderdomme? Susan Erasmus vul die detail vir jou in.

 

deur LYDIA VAN DER MERWE

 

Dink terug aan die dag toe jy vas gestel het die ooievaar het heeltemal niks te doen gehad met die koms van jou bababoetie nie. Hoe het jy dit agtergekom? Het dit dalk gepaard gegaan met ’n gegiggel agter die fiets hokke by die skool? Hoe betroubaar is jou bronne

deesdae oor bedsake? Hoeveel weet jy oor seksueel oordraagbare siektes of ginekologiese probleme? Kortom, hoe hoog is jou seksuele IK?

“Vroue weet heelwat oor menstruasie, seksuele gewoontes en die menopouse, maar ken nie die fyner besonderhede nie,” sê Shirley McPherson, ’n Kaapstadse ginekoloog.

“En detail kan belangrik wees, veral by seksueel oordraagbare infeksies, menstruasieprobleme en waarwskuwingstekens by die menopouse of laat swangerskappe.” Daar ís baie inligting beskikbaar – in tydskrifte, boeke en op die internet. Maar steeds bly seksuele sake vir baie mense iets wat hulle moeilik met enigiemand bespreek.

“Ons samelewing is seksueel taamlik konserwatief,” sê die Suid-Afrikaans gebore dr. Raymond Rosen, direkteur van die Menslike Seksualiteitsprogram by die Robert Wood Johnson mediese skool in New Jersey, VSA. Dr. Rosen het in SA ’n kongres toegespreek oor onder meer seksuele dis funksie by mans. Een van die interessante feite wat aan die lig gekom het, is dat 90% van mans wat aan erektiele disfunksie (impotensie) ly nooit daarvoor behandel word nie, ondanks die wye publisiteit oor middels soos Viagra, Levitra en Cialis.

“As ’n man en vrou hul seksuele probleme kan bespreek en oplos, is daar byna niks anders wat hulle nie kan uitpluis nie,” reken dr. Rosen. Vaar vroue beter as mans om seksuele probleme die hoof te bied? Of kennis in te win? Toets jou kennis met die kassie hiernaas.

WAAR OF ONWAAR

1. Sekere vaginale afskeidings is heeltemal normaal.

2. Die meeste seksueel oordraagbare infeksies gaan nie vanself weg nie.

3. Die MI-virus is nie teenwoordig in trane of sweet nie.

4. Die ouderdom waarop menstruasie begin, is aan die daal.

5. Die meeste MIV-positiewe ma’s se babas sal nie ook MIV-positief wees nie.

6. Dokters skryf vandag veel minder hormoonvervangingstablette voor as 10

jaar gelede.

7. Daar is veneriese siektes wat eers jare later simptome kan toon.

8. Alle vroue bo 50 behoort driejaarliks mammogramme te laat doen.

9. Ektopiese swangerskappe kan lewensbedreigend wees.

10. Pynlike menstruasie kan ’n teken van ernstige gesondheidsprobleme wees.

11. Vroue van 25 raak veel makliker swanger as vroue van 35.

12. Die oorgrote meerderheid van vroue het al in hul lewe gemasturbeer.

So, hoe het jy gevaar? Ja, al bogenoemde stellings is waar.

 

VROUE TUSSEN 20 & 30

1. Menstruasieprobleme

“Wanneer jou maandstonde ingrypend met jou daaglikse lewe inmeng, is dit tyd om hulp te soek,” sê Shirley. “In hierdie ouderdomsgroep is dit ’n algemene probleem en een van die mees algemene klag tes wat dokters aanhoor. Swaar bloeding, die afskeiding van klonte, asook pyn en ongemak kan ’n aanduiding wees van ’n infeksie in die baarmoeder, poliepe of fibroïede. Maar die meeste vroue het nie een van hierdie onderliggende probleme nie en ly bloot aan wat dokters disfunksionele baarmoederbloeding noem.

“Behandeling hiervoor sluit hormonale sowel as nie-hormonale opsies in en baie vroue vind verligting wanneer hulle op die Pil gaan,” sê sy.

“’n Mens moet onthou dat vroue vandag veel meer maandstondes het as vroeër. Honderd jaar gelede het vroue later begin menstrueer, vroeër opgehou en veel meer kinders gehad. Menstruele probleme is deesdae dus meer opvallend.” Sy verduidelik ook:

“Pyn wat met menstruasie gepaard gaan, is ’n algemene klagte in hierdie ouderdomsgroep, veral net voor en by die aanvang van die maandstonde. Die Pil bly steeds ’n baie doel treffende manier om die probleem te behandel.” Pyn wat dwarsdeur die maandstonde aanhou, of wat geen verband met die menstruele siklus het nie, kan ’n aanduiding wees van onderliggende probleme soos endometriose of infeksie.

 
2. Seksuele aanpassings

In hierdie ouderdomsgroep sou vroue wat nog nie kinders het nie, meer geleentheid gehad het om spontaan seks te hê. Maar in Suid-Afrika is hulle onder strawwe werkdruk. Navorsing toon hulle heg dikwels minder waarde aan seks as aan die stryd om ’n dak oor hul kop te hou, sê Charl Hattingh, ‘n kliniese sielkundige van Kaapstad, wat op seksterapie konsentreer.

“Gesonde seksualiteit kan baie van vrou tot vrou verskil: party vroue in hierdie ouderdomsgroep sal elke dag seks hê, ander in vaste verhoudings miskien so drie keer per week en ander niks. En almal sal daarby baat vind om deur masturbasie hul seksualiteit te ondersoek.

“Vroue wat nog altyd aan vaginismus gely het (onwillekeurige sametrekking van die vagina wat omgang bemoeilik), soek dikwels op hierdie ouderdom hulp, omdat dit gewoonlik die tyd is wanneer hulle by verhoudings betrokke wil raak. Maar, soos by ander ouderdomsgroepe, is daar ook dikwels ’n lae seksdrang, miskien selfs ’n totale afkeer van seks, onvermoë om ’n orgasme te bereik, en/of pynlike omgang.”

3. Seksueel oordraagbare siektes

“Hierdie vroue is nou dikwels meer seksueel aktief as in die res van hul lewe. En die gevaar om ’n seksueel oordraagbare siekte op te doen is dus ook soveel groter,” sê
Shirley.

“Die dae is ook verby toe ’n paar koorsblare of ’n uitslag die ergste ding was wat met jou kon gebeur. Onveilige seks kan deesdae jou lewe kos.” Vroue se kanse om met die MI-virus besmet te word is groter as dié van mans.

“Dis omdat fyn skeurtjies in die vaginale wand maklik by omgang kan voorkom en so die virus toegang tot die bloedstroom kan gee.” Sy waarsku ook:

“Baie seksueel oordraagbare siektes veroorsaak nie noodwendig simptome nie; gevolglik kan vroue jare besmet wees met iets soos Chlamydia of die menslike papilloomvirus sonder dat hulle daarvan bewus is.” Tagtig persent van vroue met Chlamydia is onbewus daarvan. ’n Onlangse Amerikaanse studie het getoon vroue wat met die menslike papilloom virus besmet was, het ’n veel groter kans gehad om servikale kanker te ontwikkel.

 
WENKE

    * Moenie seks sonder ’n kondoom oorweeg nie. Die Pil beskerm slegs teen swangerskap, nie teen seksueel oordraagbare siektes nie.
    * Wees bedag op ’n uitslag, irritasies, vratjies of ’n gejeuk en gaan dadelik dokter toe.
    * Moenie skaam wees nie. Dokters het elke dag hiermee te doen – en hulle het waarskynlik al daardie oggend reeds veel erger dinge gehoor as wat jy te vertelle het!
    * Soek hulp as jou menstruele siklus jou lewe ontwrig. Dit hoef nie so te wees nie.
    * As jy vir die eerste keer swanger is, woon voorgeboorteklasse by – dit bied jou ondersteuning en die feite. Moenie enigeen se bangmaakstories glo nie.

 

VROUE TUSSEN 30 & 40

1. Die Pil en jou libido

Baie vroue beweer die voorbehoedpil verlaag hul seksdrang.

“Die kombinasiepil (met sowel estrogeen as progesteroon) kry dikwels die skuld vir hierdie probleem, wat ver skillende oorsake kan hê,” sê Shirley.

“Daar is nog nie sekerheid hieroor nie, maar dikwels verbeter vroue se seksdrang weer ná twee, drie maande op die Pil. Die meeste se seksdrang is op sy hoogste tydens ovulasie, wat nie plaasvind wanneer ’n vrou op die Pil is nie. Dit blyk dat progesteroon die probleem kan wees, en vroue vind dikwels dat hul seksdrang na normaal terugkeer wanneer hulle oorskakel na ’n Pil met ’n hoë estrogeen-inhoud.”

2. Urinêre stres-inkontinensie

Watter vrou wat al swanger was, ken nie die dringendheid om elke halfuur toilet toe te wil draf nie?

“Bykans 85% van swanger vroue ly aan urinêre stres-inkontinensie,” verduidelik Shirley. “Maar vir baie hou die probleem nie op wanneer hulle geboorte geskenk het nie. Die swangerskap self en vaginale geboorte kan druk uitoefen op die bekkenstruktuur en laasgenoemde kan ook ’n vrou se vermoë om te ‘knyp’ belemmer deurdat die betrokke spiere tydens geboorte verswak kan word.

Spesifieke oefeninge wat hierdie spiere versterk, kan voor en ná die geboorteproses gedoen word. Vroue wat erg gewig optel tydens swangerskap, kan ook meer hiermee sukkel as ander vroue.”

 

3. Geen belangstelling in seks ná geboorte

“Elke nuwe ma weet hoe uitmergelend ’n baba kan wees en dat seks dikwels dan die laaste ding is waaraan ‘n mens dink,” sê Charl.

“Veral ook as daar probleme met die geboorte was en die vaginale area teer is. Vir sommige vroue ontstaan konflik tussen hul moederlike rol en hul seksuele gevoelens. Party vroue voel al hul behoeftes om iemand te koester word deur hul baba bevredig.”

Die oplossing?

“Dis dalk nodig om seks te skeduleer,” stel Charl voor, “want bloot spontaan gaan dit veel minder plaasvind. Kry iemand om na die baba om te sien en gee julself genoeg tyd om te ontspan en die regte atmosfeer te skep. Kommunikasie met die man in jou lewe is ontsettend belangrik in hierdie tyd.”

 

4. Pynlike borste

“Baie vroue in hierdie ouderdomsgroep sukkel met pynlike borste, wat in baie gevalle verband hou met die menstruele siklus,” verduidelik Shirley.

“Party vroue kry ook tydens die siklus knoppe in hul borste. In die meeste gevalle is dit van verbygaande aard. Knoppe wat pynlik is en aanhoudende pyn of ongemak veroorsaak, moet ondersoek word. Borskanker is altyd ’n gevaar.”

Mastitis, ’n pynlike ontsteking wat dikwels kort ná geboorte toeslaan, is nog ’n algemene probleem, maar hou gelukkig gewoonlik net ’n paar dae aan.

 
WENKE

    * Wees bedag op dinge wat met jou menstruele siklus verband hou, soos premenstruele spanning, ovulasie en knoppe in jou borste.
    * Gereelde oefening skakel baie gesondheidsprobleme uit – tydens swangerskap sowel as ná die geboorte.
    * As die Pil waarop jy is, jou sleg laat voel, gaan dadelik dokter toe. Daar is baie ander om van te kies.
    * As die Pil aanhoudende probleme veroorsaak, oorweeg dit om jou man te oorreed om ‘n vasektomie te ondergaan.
    * As jy sukkel om swanger te word, ly jy dalk aan polisistiese ovariese sindroom. Dit kan hormoonwanbalanse en ovulasieprobleme veroorsaak.

 
 

VROUE TUSSEN 40 & 50

1. Vaginale droogheid

“Dis ‘n besonder algemene klagte in peri-menopousale vroue (voorstadium van die menopouse) en hou verband met die afname in estrogeenvlakke wat baie vroue voor en tydens menopouse ervaar. Dié afname kan toegeskryf word aan verminderende funksionering van die eierstokke, en ongelukkig is die produksie van vaginale vloeistof grootliks afhanklik van estrogeen,” verduidelik Shirley.

“Daar is gelukkig wel (letterlik) salf aan te smeer. Bespreek dit dus met jou ginekoloog.”

 
2. Is ’n baba in dié ouderdomsgroep buite die kwessie?

Baie mense reken so en dit is duidelik dat vrugbaarheid nou merkbaar afneem.

“Maar in die Guinness Book of World Records word gevalle gemeld van vroue wat tussen 57 en 62 nog geboorte geskenk het,” sê Shirley.

“Daar is wel risiko’s aan verbonde. Op 40 is 33% van alle vroue onvrugbaar, en teen 45 het hierdie persentasie gestyg tot 87%. Die ander groot risiko as jy bo 40 swanger raak, is ‘n miskraam. Trouens, jou kans om ‘n miskraam te hê is 75%. Die moontlikheid om ‘n baba te hê met chromosoom-afwykings soos Down-sindroom is veel hoër, en swanger

vroue bo 40 het ‘n groter kans om mediese probleme te ontwikkel, soos diabetes en hipertensie. Maar daar is ook vroue in hierdie ouderdomsgroep wat probleemlose swangerskappe het.”

 
3. Die eerste tekens van die menopouse

Shirley sê die begin van die menopouse val gewoonlik saam met die einde van gereelde maandstondes.

“Dis wanneer die eierstokke ophou funksioneer. Die oorgangstydperk tot die menopouse begin vir die meeste vroue in hul middel- tot laat veertigerjare.” Dit kan geleidelik of skielik wees. Simptome sluit in warm gloede, ’n verandering in jou slaappatrone, skielike

angsgevoelens, depressie en gemoedsversteurings.

 
4. Wat van hormoonvervangingsterapie (HVT)?

“In die verlede het dokters en ginekoloë sommer aan almal wat menopousaal was,

hormone uitgedeel,” sê Shirley. “Vandag is die prentjie heeltemal anders, vandat studies getoon het dat dit vroue se risiko verhoog om hartsiektes en borskanker te kry. Trouens, daar was sedertdien ’n afname van 60% in voorskrifte van hierdie

middels in die VSA.” Moet alle HVT dus summier gestaak word?

“Beslis nie,” sê Shirley. “Dit bly steeds die doeltreffendste behandeling vir warm gloede en gemoedsversteurings. Die verskil is dat dokters vroue nou aanraai om slegs vir vyf jaar die terapie te gebruik. Indien ’n vrou daarmee wil voortgaan, word sy oor die risiko’s ingelig, maar dit bly steeds haar keuse.”

 
5. Borskanker en die ouer vrou

Elke vrou se risiko om borskanker te kry verhoog in dié stadium. Onder 35 is ’n vrou se kanse om borskanker te kry 1 uit 500. Teen 45 is die kans 1 uit 100, en teen 75 is dit 1 uit 12, volgens Shirley.

“As daar ‘n familiegeskiedenis van borskanker is, verhoog die risiko. Vroue wat baie jonk was toe hulle begin menstrueer het, vroue wie se menopouse eers laat begin het, en dié wat nooit kinders gehad het nie se risiko is ook hoër.” Gereelde mammogramme word aanbeveel as jy in ‘n hoë-risikogroep val. Indien enige knoppe in die bors gevoel word,

moet jy onmiddellik dokter toe gaan.

 
6. Seks en die vrou bo 40

Sommige vroue in hierdie groep se seksdrang neem toe, sê Charl.

“Maar selfs as dit nie gebeur nie, behou die meeste vroue hul seksuele belangstelling. Hulle is ook seksueel meer ervare en hoef hulle dikwels nie te bekommer oor swangerskap of voorbehoeding nie, wat vir baie vroue ‘n groot verligting is.”

 
WENKE

    * Doen gereelde ondersoeke van jou borste en wees op die uitkyk vir enige abnormaliteite.
    * Wees bedag daarop dat ongereelde menstruasie met die begin van die menopouseverband kan hou.
    * As jy swanger raak, onthou dat hipertensie en diabetes tydens swangerskap ’n probleem kan wees.
    * Erge buierigheid kan die begin van die menopouse aandui. Besoek jou ginekoloog gereeld net om seker te maak alles is in orde.

OP DIE WEB

Nog vrae? Besoek http://www.health24.co.za se “Experts”-forum en klik op die

Cyberdoc-, Gynaedoc- of Sexologist-forum.