willem_harte
Gesondheidstories

Troetel jou hart op verrassende maniere

September is Hartmaand. Jy weet ’n gebalanseerde dieet, gereelde oefening en ’n stewige houvas op stres is ’n goeie voorskrif vir ’n gesonde hart. Maar hier’s ander maniere om jou hart te troetel …

WORD PLASTIEK-WYS

Bisphenol A (BPA) is ’n chemiese stof in harde, onbuigbare plastiekprodukte. Dit dra vermoedelik by tot hormoon-wanbalanse. Britse navorsing koppel dit nou ook aan hartsiektes. Dit word onder meer gevind in plastiek-waterbottels, houers waarin kos gestoor word en in die voering van blikkieskos. Dié stof kan veral tydens verhitting na kos migreer. Vermy plastiek gemerk met die herwinningskode #7

KNAK ’N KASTEEL

Bier, nes rooiwyn, koffie en kakao, bevat hope antioksidante wat vry radikale (molekules wat selle beskadig) verminder. Antioksidante in bier verbeter bv. ’n aar se vermoë om te verwyd beduidend. Dis ook goed vir jou cholesterol. Maar hou matigheid voor oë, ’n halwe Britse pint (284 mℓ) is genoeg vir die beskermende effek daarvan, aldus Britse navorsing.

KATELKAPERJOLLE

Gereelde seks kan jou langer laat leef en is goed vir jou hart, wys verskeie studies. Nie net verminder dit stres nie, maar ’n gekafoefel sowat twee keer per week kan jou bloeddruk verlaag.

TANDEPASTA TEEN HARTSIEKTES

Verskeie studies dui op ’n verband tussen tandvleissiekte en hartsiektes. In ’n Skotse studie is bevind as jy nie gereeld jou tande borsel nie, kan jou risiko vir hartsiektes tot 70% hoër wees. (Teenoor iemand wat dit twee keer per dag doen.) Want jou mond wemel van bakterieë. Dit beland waarskynlik in jou bloedstroom en veroorsaak inflammasie in die slagare.

TREK JOU SUIKERTAND

Die suiker in koeldrank, koekies, lekkergoed, muffins, noem maar op, kan ’n laegraadse inflammasie in jou lyf veroorsaak. Navorsing die afgelope dekade wys die vinger na inflammasie as die sneller vir die meeste soorte kroonslagaarsiektes.

Bronne: www.heart.org; www.clevelandclinicwellness.com; webmd.com

Hierdie artikel het in die September-uitgawe van SARIE verskyn. Dit is nie meer beskikbaar nie, maar jy kan dit HIER aflaai. 

Lees ook