Gesondheidstories

Tyd vir terapie?

’n Sielkundige is ’n gids na jou ware self, en terapie die voertuig om daar uit te kom. Het jy dit nodig, en wat kan jy verwag as jy om hulp aanklop?

deur LYNETTE BLIGNAUT
Foto Greatstock

As jy tandpyn het, gaan jy tandarts toe om die pyn te verlig. En dokter toe as jy ongesteld voel. Maar hoe gemaak as jy emosionele pyn het? ’n Paar dekades gelede was mense nog lugtig om met ’n sielkundige oor hul probleme en angs te praat. Want straks dink iemand jy’s van lotjie getik. Dat rolprent- en TV-karakters skynbaar nie skroom om hul hart voor ’n sielkundige uit te stort nie, het grootliks daartoe bygedra dat die stigma aan psigoterapie verdwyn of verminder het. Vir derduisende Amerikaners is dit trouens ’n statussimbool om gereeld hul shrink te sien, hetsy vir depressie, stres, vrese, paranoia of dwelmverslawing.

Hipnose
“Baie mense spreek eers ’n sielkundige wanneer ’n dokter hulle verwys, want ’n fisieke probleem is dikwels ’n simptoom van ’n onderliggende emosionele probleem,” sê dr. Helena Niedinger, ’n Pretoriase voorligtingsielkundige.
“’n Vriendin kan ’n goeie klankbord wees, maar as jy werklik met ’n emosionele probleem worstel, of ’n probleem wil voorkom, is dit raadsaam om professionele hulp te kry. Sielkundiges word opgelei om fyn waar te neem en fyn te luister, asook om mense ’n breër perspektief te gee en hulle toe te rus om probleme op te los.” Sy glo die meeste mense het die innerlike krag (egokrag) om hul vrese en probleme te bowe te kom. Dit moet net geaktiveer word. En eintlik is die antwoorde in jouself opgesluit. Jou terapeut is ’n gids wat jou help om jou egokrag te ontdek en te ontsluit.

Laetitia (skuilnaam), een van Helena se kliënte, vertel sy was vreesbevange om te vlieg. “Wanneer ek in die verlede gevlieg het, het ek dikwels uit vrees naar geword. Sodra ek aan boord gestap het, was daar altyd die aaklige reuk van chemikalieë. Ek weet dis my verbeelding, en ek kan aan geen insident dink wat tot my vrees aanleiding gegee het nie.
“Helena het my innerlike krag onder hipnose geaktiveer. Ek moes ’n rolmodel kies wat innerlik sterk en in beheer van sy of haar lewe is. Ek het my ma gekies. Sy was ’n formidabele vrou. Helena het my geleer om volkome te ontspan en het my stap vir stap op die vlug voorberei deur te skets wat ek alles te wagte kon wees. Sy het die gemaklike sitplekke, die rustige gedreun van die enjins, die lekker kos, alles, in die fynste besonderhede beskryf en vir my op band opgeneem.
“Ná ’n paar sessies was ek opgewonde om vir my suster in Vancouver, Kanada, te gaan kuier. Al was ek steeds ’n bietjie bang, het ek voor ons opgestyg het en op die vlug na die bandopname geluister. Met die terugvlug was die batterye pap, maar ek kon al die positiewe beelde uit my geheue oproep.”

Helena is verbonde aan die Milton H Erickson-instituut van SA, een van 107 institute wêreldwyd wat met die Milton H Erickson-stigting in die VSA geaffilieer is.
“Ericksoniaanse terapie gaan van die veronderstelling uit dat die terapeut by die kliënt se unieke behoeftes aanpas, want psigoterapie is nie ’n resep wat jy op mense kan afdwing nie.
“Ons gee nie net inligting nie, maar ook ’n ervaring. Met dié soort terapie word gelyktydig met die bewussyn en die onderbewussyn gewerk. Ons aktiveer deur hipnose die kliënt se innerlike krag, wat in die onderbewussyn geleë is. Ons sê nooit vir ’n kliënt jy mag nie sus of so dink, doen of voel nie,” sê Helena.
“Kliënte kry ook ’n post-hipnotiese suggestie wat direk of indirek kan wees. ’n Direkte suggestie is byvoorbeeld dat sigarette van vandag af sleg gaan smaak. Vir indirekte suggestie word stories, metafore en anekdotes ingespan. As jy dalk benoud voel in hysbakke, sal jy ’n suggestie kry wat jou aan ’n lekker vakansie of ’n ander goeie ervaring laat dink elke keer as jy in ’n hysbak klim. Die belewenis dat jy ’n innerlike helper het wat altyd by jou is, stem jou ook rustig.” Hipnose is ’n toestand waarin gefokus word op jou denke, of gevoel of gedrag om dit te verander. Jy verloor nie beheer wanneer jy gehipnotiseer word nie. Wanneer jou aandag gefokus is of jy volkome opgeneem is deur ’n aktiwiteit, spel, geluid, gevoel of herinnering, is jy eintlik in ’n toestand van hipnose.
“As terapeut moet jy verantwoordelik wees met jou woordkeuse. Omdat kliënte bewuste en onbewuste assosiasies maak met woorde, moet jy bepaal watter assosiasie jy wil wakker maak, want jou woorde beïnvloed hul fisieke en emosionele toestand, nou en in die toekoms.
“Daarom is dit so belangrik om elke kliënt eers deeglik op te som. Jy luister hoe hy/sy praat, kyk hoe hy aantrek, kyk na die liggaamstaal. Elke kliënt kry as ’t ware sy/haar eie draaiboek vir hipnose, wat die probleem en die oplossing insluit. As die persoon byvoorbeeld hou van gholf of perdry, gebruik jy dit in beeldspraak by terapie. Of as iemand sê hy voel dood, vertel ek byvoorbeeld vir hom ’n storie oor die seisoene en eindig by lente wat ’n nuwe lewe simboliseer. Op die ou einde moet jy vir mense hoop gee.”

Danie (skuilnaam) het op aanbeveling van vriende ’n terapeut gaan spreek omdat hy nie sy vrou se dood kon verwerk nie.
“Sanet het ’n lang siekbed gehad en ons was haar dood te wagte. Selfs al het ek in die laaste ses maande van haar lewe stadigaan begin afskeid neem, kon ek nie aanvaar dat sy nie meer daar was nie. Ek was maande lank soos ’n sombie.
“Die terapeut het met meelewing geluister. Ek het dit waardeer dat sy haar probeer indink het hoe ek voel. Ek het gesê ek kan nie afskeid neem nie, dat ek wou vasklou aan my vrou en die mooi herinneringe. Al het ek nie ’n skuldige gewete gehad nie en al was ons verhouding baie spesiaal, het ek daagliks gewonder of ek haar goed genoeg behandel het en of ek dikwels genoeg gesê het hoe lief ek haar het.
“In terapie kon ek myself toestemming gee om nog te treur, al het mense gemeen ek rou te lank. Ek het selfhipnose geleer en kon enige tyd haar beeld in my verbeelding oproep en haar só lewendig hou. Die terapeut het gehelp dat ek in my geestesoog ’n paradys skep en Sanet aan die Here oorhandig. Terselfdertyd kon ek ’n deel van haar vir myself hou.
“Die grootste stap ná genesing was dat ek aan my hartseer kon uiting gee, maar ook geleer het om dit te beheer. Deesdae sit ek deur die dag tyd opsy om in my gedagtes met haar te praat, ons liefdesbriewe te lees en deur ou foto’s te kyk. Dis soos om ’n afspraak met Sanet te hê. Ek huil steeds soms, maar ek is nou minder obsessief en hervat stadigaan my lewe.”

Helena behandel ook slagoffers van geweld. Ná ’n verkragting of kaping is dit belangrik om vir die kliënt ’n regstellende, helende emosionele ervaring te gee, sê
sy.
“Ek gebruik hipnose om slagoffers se innerlike krag te aktiveer en laat hulle dié egokrag koppel aan ’n beeld van iemand wat hulle as in beheer beskou. Ons speel so ’n angswekkende ervaring weer in die kliënt se verbeelding af, maar dié keer is hulle bemagtig en in beheer. Hulle kan selfs ’n taakmag inroep om hulle te help.
“Die situasie word dan heeltemal anders beleef, want die kliënt wéét sy gaan oorleef, dat sy kan kies hoe sy gaan optree, en sy kan in haar verbeelding met die verkragter of kaper afreken. As sy besef sy het dalk haar besittings verloor, maar nie haar gedagtes, emosies of lewe nie, kan sy die ervaring in perspektief sien.”

BEDRYFSIELKUNDE
Wim Myburgh, ’n Kaapse bedryfsielkundige, sê omdat vroue in die algemeen baie meer as mans in voeling is met hul emosies, besef hulle gouer hulle het hulp nodig en is dit vir hulle baie makliker om ’n sielkundige te spreek.
“Maar met ’n loopbaanwêreld wat al meer onseker raak, skroom mans gewoonlik nie om onder die dekmantel van ‘loopbaanbeplanning’ ’n bedryfsielkundige te spreek nie. Dié tipe terapie laat hulle minstens nie passief of afhanklik voel nie.
“Mans, en natuurlik ook vroue, kom spreek ons wanneer hulle besef sake begin skeefloop by die werk. Hulle is byvoorbeeld bang hulle gaan hul werk as gevolg van personeelbesnoeiing verloor, of voel hulle is in ’n doodloopstraat. Sulke onsekerheid kan tot ernstige depressie lei,” sê Wim.
Gevolglik sal hulle byvoorbeeld nie op hul werk kan konsentreer nie of aan slaapstoornisse begin ly. Hulle sal hulle ook sosiaal begin onttrek.
“Dikwels word sulke mense se talente bloot nie reg ingespan nie. Ons kyk dan saam na besluite rondom ’n loopbaanverandering. Die kliënt sal besluite moet maak wat risiko’s meebring. Maar jy kan nie besluite neem as jy angstig of depressief is of ’n lae selfbeeld het nie.
“Ek moet bepaal of sy vrees vir die toekoms gegrond of ongegrond is. In 90% van gevalle is dit ongegrond. Grawe jy ’n bietjie dieper, besef jy mense het dikwels meer talente as wat hulle kan aanwend. Dus is daar amper altyd ’n uitweg. Ek kyk dan saam met die kliënt wat hy het om aan te bied en wat sy keuses is. Meestal verdwyn die angs; dan kan hy makliker besluite neem, voel hy in beheer en lyk die toekoms minder duister.”
Wim sê mense wat ’n krisis in hul loopbaan beleef, maak dikwels self ’n afspraak, maar meestal word hulle deur hul maatskappy verwys. Ook soms deur ’n psigiater wat besef die pasiënt is al te lank op medikasie, wat die simptome demp terwyl die onderliggende probleem nie aandag kry nie. En ja, sielkundiges spreek ook soms sielkundiges.
“Uiteindelik is hulle ook mense en ervaar ons ook die hele spektrum van emosies. Ons raak by tye so subjektief betrokke by ons eie probleme dat ons soms nodig het om perspektief te kry,” sê Wim.

WAT IS PSIGOTERAPIE?
Sielkundiges kyk na die huidige  probleemsituasie en help jou om die ideale scenario te bereik, waar die probleem bevredigend opgelos is. Dis ’n doelgerigte proses waardeur jy gehelp word om jouself te verbeter en by jou ideale self uit te kom. Want hoe nader jou werklike en ideale self aan mekaar is, hoe geestesgesonder is jy. Elke terapeut kyk deur sy eie bril na ’n probleem en elkeen se eie styl en agtergrond bepaal hoe ’n kliënt benader word. Daar is drie hoofbenaderings of invalshoeke tot psigoterapie – sielkundiges fokus hoofsaaklik op jou denke, jou gevoel of jou gedrag.

Denke: Kognitiewe gedragsterapeute fokus op jou denke, met ander woorde op jou gedagtes en hoe jy oor ’n situasie dink. Die uitgangspunt is dat as jy eers anders oor ’n saak dink, jou gevoel oor en gedrag in ’n sekere situasie sal verander. Jy word geleer om positief met jouself te praat, want negatiewe gedagtes lei tot negatiewe emosies en ’n lae selfbeeld. Freud het bv. op die werking van die onbewuste konflikte in mense gefokus. Hy het in die verlede gedelf om die oorsaak van ’n probleem te soek, met die veronderstelling dat as jy insig in die probleem het, jy geestesgesond
gaan word.

Gevoel: Dié invalshoek is kliëntgerig. Terapeute wat dié stroom volg, is kenmerkend empaties. Die doel is om die kliënt te laat voel hy/sy word onvoorwaardelik aanvaar. Jy word gehelp om dié deel van jouself of gevoelens wat jy ontken of geïnhibeer het by jou selfkonsep in te sluit. Dié terapie skep ’n veilige omgewing waarin jy emosioneel kan ontlaai. Kliënte met ’n terminale siekte vind veral baat by dié benadering. Iemand wat sterwend is, wil die sin in sy lewe en lyding sien en weet hy is uniek en sal nie vergeet word nie. Jy leer dat angs as ’n voorwaarde van die lewe aanvaar moet word.

Gedrag: Wanneer die klem op gedrag is, word jy sistematies gedesensitiseer teen angs, vrees en fobies. Daar word vir jou ’n realistiese doelwit gestel en ’n behandelingsprogram uitgewerk. Nuwe gedrag word met rolspel en gedragrepetisies ingeoefen. As jy bv. te bang is om jou huis te verlaat, leer jy om volkome te ontspan en stap vir stap van die voordeur tot by die tuinhekkie, tot by die hoek en dan tot by die winkel te vorder. ’n Polisieman wat bv. voel hy verdien te min of kry ondanks sy gevaarlike werk nie genoeg erkenning nie, word aangemoedig om homself op ander maniere te beloon, soos om gereeld te draf of meer sosiaal te verkeer. Die uitgangspunt is dat gedrag wat ’n positiewe gevolg het, blywend sal wees as dit beloon en erken word.

<Kassie>
Wie moet jy raadpleeg?
Hoewel sielkundiges in alle dissiplines van die sielkunde opgelei word en daar dikwels oorvleueling is, is dit raadsaam om ’n terapeut te soek wat spesialiseer in die gebied waar jou probleme lê.
•    Kliniese sielkundiges werk met kliënte wat reeds ’n innerlike of kliniese probleem soos angs, depressie, verslawing of skisofrenie ervaar.
•    Voorligtingsielkundiges werk voorkomend, byvoorbeeld met kinderbegeleiding, huweliksverryking en beroepsvoorligting. Hulle werk ook met mense met kliniese probleme.
•    Opvoedkundige sielkundiges werk primêr met kinders wat leer-, gedrags-, gesins- en emosionele probleme het.
•    Bedryfsielkundiges werk meestal in ’n maatskappy met groepe of individue. Hulle is verantwoordelik vir personeelkeuring, -plasing en -ontwikkeling, en sorg hoofsaaklik dat jou potensiaal maksimaal in jou loopbaan benut word.
•    Psigiaters kan ook psigoterapie doen, maar fokus veral op die mediese behandeling van emosionele probleme, byvoorbeeld emosionele versteurings, bipolêre versteuring (maniese depressie), ernstige depressie en skisofrenie. As jy ’n breuk met die werklikheid het – jy hallusineer of ly aan ’n vervolgingswaan, of sien of hoor goed wat nie werklik bestaan nie – moet jy ’n psigiater raadpleeg. Psigiaters kan moontlik skok- en slaapterapie toepas en medikasie voorskryf.

Hoe om ’n sielkundige te kies
’n Sielkundige moet vertroue inboesem en respek afdwing. Jy moet gemaklik en veilig genoeg voel om jou innerlike aan hom/haar te ontbloot. Jy moet voel dat hy werklik jou probleem verstaan, en dat daar meelewing en emosionele ondersteuning is, maar dat hy terselfdertyd objektief na jou situasie kan kyk. Hy of sy moet dus betrokke wees, maar tog ’n afstand behou, want dit help nie jou sielkundige sit saam met jou en huil nie. Jy moet ook die vrymoedigheid hê om te vra hoe hy werk en wat sy benadering is. As jy enigsins ongemaklik voel, moet jy ’n ander terapeut soek.