Gesondheidstories

Varkgriep hier!

Meer as die helfte van die sowat 54 mense by wie varkgriep (die H1N1-virus) in SA gediagnoseer is, was by ‘n sporttoernooi betrokke, berig RSG. Dié toernooi van Universiteitsport Suid-Afrika (USSA), het in Johannesburg plaasgevind en sowat 2 000 mense van oor die land het daaraan deelgeneem. Sowat 38 griepgevalle word daaraan gekoppel.

‘n Woordvoerder van die nasionale gesondheidsdepartement het die publiek gevra om nie paniekerig te raak nie, berig Die Burger. Die feit dat varkgriep-gevalle opgespoor word en die resultate van toetse binne ‘n kort tyd bekend gemaak word, dui op SA se vermoë om gou en doeltreffend op die varkgriep-pandemie te reageer.

Varkgriep is nou ‘n volskaalse pandemie, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aangekondig (www.who.int/csr/disease/swineflu/en/). Volgens die WGO se syfers teen die einde van Junie, is 59 814 gevalle reeds in 113 lande bevestig en 263 mense het gesterf.

Die aankondiging beteken nie die siekte is gevaarliker as tevore nie. Al wat verander het, is dat die WGO amptelik erken die virus het wêreldwyd versprei. Dis die eerste griep-pandemie in 41 jaar. (Sowat 1 miljoen mense het wêreldwyd in die 1968-griep-pandemie gesterf.)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes het op ‘n nuuskonferensie gesê dis onnodig dat Suid-Afrikaners drastiese voorsorgmaatreëls tref, berig Die Burger.

Mense kan die volgende basiese dinge doen om dit te voorkom: Was jou hande, hou ‘n sakdoek voor jou neus as jy nies of hoes en bly by die huis as jy siek is.

Die simptome is dieselfde as gewone griep s’n – koors, krampe, seer keel, droë hoes, diarree en braking. Hoewel dit vir mense met onderliggende mediese probleme dodelik kan wees, word jy meestal nie te erg siek nie. Volgens die WGO kan antivirale middels, wat op voorskrif te kry is, teen die virus gebruik word, maar ‘n entstof is nog nie beskikbaar nie.

Vir nog nuus, besoek www.webmd.com.