FOTO Instagram @maryhelenbowers
Gesondheidstories

Voel jy vet? Dis jou postuur!

Die Hollywood-ikoon Audrey Hepburn het nie net styl en elegansie gehad nie, maar sy het ook ’n goeie postuur gehad. Haar agtergrond in ballet het gesorg dat ’n goeie postuur tweede natuur was. 

Volgens Amaria Carstens, SARIE se mode-redakteur, sal klere nog mooier lyk as jy ’n goeie postuur het. “’n Goeie postuur, saam met onderklere wat goed pas, sal jou klere nóg mooier en nóg beter aan jou laat sit.”

Vir Audrey en haar postuur kon jy altyd deur ‘n ring trek!

Jy vergeet soms om regop te staan, jou maag in te trek, jou skouers terug te stoot en jou kop te lig, maar swak postuur het talle ander gevolge waarvan jy dalk nie weet nie …

5 gevolge van slegte postuur

1) Jou hart en brein sukkel om te werk

Volgens Erin Sprong, ’n joga-afrigter van Kaapstad, veroorsaak skouers en ’n ruggraat wat oor tyd gereeld pap hang (slouch) dat jou rugspiere verswak. Dié permanente ronding verminder jou longkapasiteit en veroorsaak dat jou longe sukkel om genoeg suurstof na jou hart en brein toe te stuur. Suurstof is noodsaaklik vir die hart en brein om behoorlik te funksioneer.

2) Jou lyf sukkel om kos te verteer

Erin verduidelik verder ’n ronding in jou nek en rugraat benadeel jou spysverteringstelsel. Jou interne organe word saamgedruk en sukkel dan om die kos wat jy eet behoorlik te verteer.

3) Jy lyk vet

Volgens Janice Novak, postuur-kenner en skrywer van die boek Posture, Get it Straight!, moet die saamgedrukte organe iewers heen gaan. Al opsie is sywaarts – en dit laat jou onmiddellik vetter lyk.

4) Kaak-probleme

Janice sê jou kop is die grootste oorsaak van slegte postuur. Indien jy jou kop vorentoe uitstoot (soos wanneer jy nader aan jou rekenaarskerm of boek leun), moet jou skouers ekstra hard werk om jou kop regop te hou. Hierdie “vorentoe-kop” is die hoof-oorsaak van temporo-mandibulêre litversteuring (TMJ), wat pyn en klik-geluide in jou kakebeen veroorsaak.

5) Lusteloosheid

Vir ’n studie deur die San Francisco State University moes sekere studente met ’n “pap postuur” rondloop, terwyl ander deur die gange moes huppel. Die studente met die slegte postuur het gesê hulle het minder energie gehad en meer lusteloos gevoel ná die eksperiment. Lees die resultate hier.

Só kry jy goeie postuur:

– Stel jou voor jy is ’n marionet wat hang aan ’n toutjie met jou nek, ore, skouers en heupe wat outomaties in plek val onder mekaar.

- Wanneer jy sit: Moenie vorentoe leun nie. Plaas jou voete direk onder jou stoel om jou lyf te ondersteun.

– Staan gereeld op – te veel sit is sleg vir jou!

Wanneer jy slaap: Jou matras moet ferm wees. Vermy dit om op jou maag of met jou arms onder jou kussing te slaap en moet nooit op die bank slaap nie.

- Wanneer jy swaar voorwerpe optel: Buig jou knieë, trek jou maagspiere saam, hou jou rug reguit en dra die voorwerp naby aan jou lyf.

Bronne: Suid-Afrikaanse Gemeenskap van Fisioterapie, Improveyourposture.com, Prevention.com

Lees nou

Wêreldrekords – die bestes en die vreemdstes!

5 indrukwekkende hond-makeovers, jy sal wens dié kunstenaars sny jou hare

EKSKLUSIEF: Quinne terug by die Laan!