sr0812dekor_9_
Gesondheidstories

Voorkom hoofpyne dié Kersfees

Die Desember vakansie is gewoonlik ‘n tyd vir drankies, lekker kos en jolig wees. Mense wat aan hoofpyne en migraine ly moet egter versigtig wees wat hulle by die volgende paar weke se Kerspartytjies eet en drink.

Dr Elliot Shevel, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Hoofpyn Vereniging, gee die volgende raad aan mense wat geneig is om hoofpyne en migraine te kry, sodat hulle ook die vakansie kan geniet:

* Drink baie water
Dehidrering veroorsaak dikwels hoofpyne en migraine, so maak seker jy bly goed gehidreer. Dit bly die beste om water te drink, aangesien drankies soos gaskoeldrank bestanddele bevat wat geneig is om hoofpyn te veroorsaak. Ander bestanddele wat vermy moet word sluit kafeïen en versoeters in.

Onthou dat alkohol ook tot dehidrering lei. Drink ten minste een glas water vir elke glas alkohol wat jy inneem.

* Kry genoeg slaap
Met al die feesvieringe is ‘n mens geneig om min slaap te kry. Maak seker jy kry genoeg slaap om hoofpyne te vermy.

* Eet reg
‘n Gesonde dieet met gereelde en gebalanseerde maaltye kan wondere doen vir mense wat geneig is om hoofpyn te kry.

* Keer skerp lig
Mense wat aan hoofpyn en migraine ly is dikwels sensitief vir skerp, helder lig. ‘n Hoed of sonbril met goeie beskerming kan dalk net die ding doen.

* Seisoenverandering
Verskillende stuifmeel in die lug kan tot hooikoors en sinus kongestie lei wat ook hoofpyne kan veroorsaak.

* Probeer jou stres beheer
Stres lei dikwels tot hoofpyne. Probeer om jou stres te beheer en beplan vooruit vir groot familie-byeenkomste en vakansies om spanningshoofpyne te keer. Probeer byvoorbeeld om take onder familie-lede op te deel, nie jou inkopies tot die laaste minuut te los nie en sorteer reisplanne vroegtydig uit.

* Sensitief vir sterk ruike?
Sekere geure en sterk reuke kan dikwels hoofpyn veroorsaak. Maak seker jy koop reuklose sonbrandmiddel, insektemiddel en ander somer produkte. Vra ook jou apteker vir raad.