FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Gesondheidstories

Vra jouself dié vrae voordat jy ’n siekdag vat PLUS Hoe gemaak as jy ’n tuisblyma is?

Hoe weet jy jy is siek genoeg vir ’n siekdag? Die mediese webblad, WebMD, deel hul raad oor wanneer jy eerder in die bed moet bly. Lees die volledige berig hier. 

Jy gee net ’n klein hoesie in die kantoor en jou kollega’s sê reeds jy moet huistoe gaan voordat jy hulle aansteek. Of miskien lewe jy aan die anderkant van die spektrum waar daar neergekyk word op jou as jy ingee en ’n siekdag neem.

Vra jouself hierdie vrae om realisties te besluit of jy siek genoeg is om in die bed te bly.

Kan jy jou werk ordentlik doen?

As jy voel jy gaan sukkel om dieselfde hoeveelheid en kwaliteit werk te doen omdat jy sleg voel, is dit beter om tuis te bly.

Is jy aansteeklik?

As jy ’n virale of bakterieële siekte het, gaan jy jou kollega’s ook daaraan blootstel en hulle heel moontlik aansteek. Deur tuis te bly, hou jy ook die kieme in toom.

Sal ’n dag van rus jou lyf help om te herstel?

Die simptome van griep of verkoue word soms vererger as jy jou lyf onnodig inspan. In hierdie geval is dit beter om vir een dag te rus en vinniger gesond te word as om jouself te forseer om te werk en dan net sieker te word. Sluk eerder jou trots en bly in die bed.

Sal jou medikasie jou vermoë om jou werk te doen, belemmer?

As jou medikasie jou lomerig of jou brein wollerig maak en jou werk verwag van jou om rond te ry of met masjienerie te werk, is dit beslis beter om af te vat totdat jy jou voorskrif voltooi het.

Bertha le Roux Julie 2014 jul july

 

Koop die Julie-uitgawe van SARIE om uit te vind presies wat die verskil tussen verkoue en griep is en wanneer jy moet dokter toe gaan.

Tuisblyma’s – jóú baas het geen simpatie

Ongelukkig kan jy nie sommer ’n dag afvat van ma-wees nie! Die kinders moet steeds kos kry en skool toe geneem word. Hoe gemaak om te herstel? Die webtuiste Apartment Therapy gee raad.

Maak dit maklik vir die kinders om hulself te help

Sit middagete, vrugte en boksies sap waar die kinders dit maklik kan kry en moedig hulle aan om hulself te help. Maak vrede daarmee dat die kinders dalk vir een of twee middagetes winkel broodjies of pasteie gaan eet.

Wanneer jy opstaan, laat dit tel

Die idee is om te rus, en as jy regtig siek is, gaan dit baie moeite verg om op te staan. Maak jou pogings die moeite werd. Dink vooruit aan die dinge wat die kinders dalk oor 20 minute gaan nodig hê, maak die oproepe wat jy moet maak en gee die diere kos voordat jy weer terugklim in die bed.

Maak vrede daarmee dat die kinders hulself gaan vermaak – hoe ook al dit mag wees

Wanneer jy moet rus kan jy nie kieskeurig wees oor hoe die kinders hulself vermaak nie. Dis oukei as hulle vir een middag al hul beddegoed deur die huis sleep om ’n kombershuis te maak of as hulle ’n uur of wat langer TV as gewoonlik kyk. Solank hulle veilig is en nie die hele huis afbreek nie.

Kry nog raad op Apartment Therapy se webblad.

Miskien is siek-wees dan ook ’n goeie tyd vir pa om bietjie in te spring met die huiswerk!  Dit is immers bewys dat pa’s wat meer aktief by die huis help se dogters meer ambisie het - lees die interessante studie hier.

Bronne: WebMDApartment Therapy

Nóg gesondheidstories