FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Gesondheidstories

6 dinge wat jy van water moet weet

Hier is ’n paar dinge wat jy van water moet weet, om die beste uit dié vloeistof te kry! 

Hoeveel water? 

Sowat 8 – 12 glase (250 ml) vloeistof per dag, na gelang van hoe warm dit is en hoe aktief jy is. Water is beter, maar melk, vrugtesap, koffie en tee (in matige hoeveelhede) tel ook en kan deel wees van die 8 – 12 glase. Kyk na die kleur van jou urine. Is dit lig, drink jy genoeg water. Donker met ’n skerp reuk? Trek die waterkraffie nader!

Water-woema

Jy verloor sowat 10 koppies water per dag net deur te lewe: asemhaling, sweet en urinering, en dis belangrik dat jy dit vervang…

Jy kán te veel water drink  

Te veel water, veral in ’n kort tyd, is gevaarlik. Simptome sluit in maagkrampe, naarheid,
vomering, moegheid en duiseligheid. Ekstreme oefening, soos ’n marathon, laat die
liggaam die hormoon vasopressien afskei, wat die niere water laat spaar. Moenie in so ’n geval meer as sowat 916,78 ml (3,8 koppies) per uur drink nie. As jy nie vir marathons aantree nie: Luister na jou lyf en moenie jouself dwing om ’n onrealistiese hoeveelheid water te drink nie. Jyself weet hoeveel jy nodig het.

Gegeurde water

Let op na die suikerinhoud. ’n Bottel gegeurde water (500 ml) bevat 24,5 g koolhidrate en
375 kJ en ’n 500 ml-bottel vitamienwater 27 g koolhidrate en 475 kJ. (Teenoor bv. ’n 340 mlblikkie Coke se 567,8 kJ.) Gegeurde water met versoeters het geen kJ nie, maar daar is navorsing wat dit laat lyk of versoeters jou gewig kan laat aansit. Gegeurde water kan ook preserveermiddels in hê.

Verdien kokosneutwater die stralekrans? 

Dis beter as sportdrankies met hope suiker. Maar gewone water en ’n piesang (ook ’n goeie bron van kalium, nes die kokosneut) is net so goed en kos boonop baie minder.

… En jou eetlus

Selfs al is jy net effens ontwater, kan dit jou metabolisme tot 3% stadiger maak. Jy kan dit met hongerpyne verwar. In ’n Amerikaanse studie het ’n glas water hongerpyne laataand laat verdwyn.

Bronne: Dr. Suna Kassier, dieetkundige aan die Universiteit van KwaZulu-Natal; Schalk van Rooyen, hoof- wetenskaplike navorser by OLINIA Naturals; webmd.com; livestrong.com; time.com; www.hsph.harvard.edu

*Die artikel kom uit die Maart 2015-uitgawe van SARIE.

Lees ook

5 maniere om water te drink dié winter

Redes waarom jy gedehidreer is PLUS wenke om meer water dié winter te drink

Dís hoekom jy nie gewig verloor nie + Eetplan