Gesondheidstories

Wat sê die dokter?

Hoe hou jy plooie weg, hoe bly jy positief, maer en gesond? Ons het 5 medici gevra wat húlle doen om gesond te bly. Dus: Presies wat die dokter voorskryf.

deur LYDIA VAN DER MERWE
foto’s Gallo Images/gettyimages.com, Lorenzo Mancini, Megan Williams

n Advertensie in ’n vroue-tydskrif so vyftig jaar gelede het gelui: “Rook sus en so sigarette – die geneesheer se keuse.” Regtig! Wat ’n mens laat wonder: Lê dieetkundiges weg aan koek? Braai dermatoloë op die strand in die son? Stapel kardioloë hul borde hoog – met slaai? Ons het as’t ware die boer die kuns afgevra …

DIE GENEESHEER
‘Maak jou omgewing mooi en dit sal jou gemoedstemming lig’
Dr. Jean du Plessis van Johannesburg

“Die spreekwoord sê: ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees. Die teenoorgestelde is ook waar: ’n Gesonde gees huisves ’n gesonde liggaam. Motiveer jouself dus positief en jy sal minder siek word. Dis my lewensfi losofi e en ek word amper nooit siek nie. Daar is nie eens medisyne in my huis nie. Sommige mense is van nature geneig om meer positief te wees – ek is een van hulle. Ander sink weer maklik in die donker dieptes van depressie. Maar daar is dinge wat jy kan doen om positief te bly. Die mens is ’n visuele wese. Maak jou omgewing mooi en dit sal jou gemoedstemming lig. Toe ek aan ’n goeie vriendin sê SARIE gaan met my oor ge sondheid praat, was haar reaksie:

‘Jy het jare gelede reeds jou gesondheidsgeheim aan my verklap: Belê in pragtige kunswerke. As jy om jou kyk en jy sien al die mooi goed, kan jy nie siek word nie.’
Inderdaad. My spreekkamer is suurlemoengroen geverf en hang vol skilderye. Pasiënte sê: ‘Net om hier in te stap laat my klaar beter voel.’ Die plek vóél vriendelik. Daar is altyd vars blomme op my bedkassie en dis die eerste ding waarteen ek vaskyk as ek soggens wakker word. Ek sit dan pragtige musiek in my CD-speler: Vivaldi, Mozart, veral Bach … Dit kan dan die res van die dag net goed gaan!

As jy egter wakker word en die eerste ding wat jy sien, is ’n deurmekaar kamer, begin jou dag maar sleg. Niemand kan vir jou ’n ruimte skep waarbinne jy goed voel nie: dis jou eie verantwoordelikheid. Jy het ook nie baie geld daarvoor nodig nie; dit gaan oor jou houding. Ek glo daaraan om myself te bederf en gaan een keer per maand vir ’n volledige lyfmassering en gesigbehandeling. Dit neem ’n volle vier uur. Ek gaan sover moontlik Woensdag- of Don der – dag aande ná ’n simfoniekonsert – musiek is my passie en ’n lafenis vir my siel. Ek neem sanglesse en tree so ’n paar keer per jaar op. Ek het ook ’n positiewe verhouding met die Here. Ek praat heeldag met Hom. Daardie kontak is vir my baie belangrik. En ja, ek verwaarloos ook nie die vlees nie. Ek het ’n persoonlike afrigter en oefen gereeld. In die week probeer ek matig eet, maar naweke is dit ’n ander storie. Daar is ’n waterkraffie op my lessenaar en as dit nie sak nie, wys pasiënte my gou daarop!”

DIE DIEETKUNDIGE
‘Ek sny niks uit my dieet nie, maar hou matigheid voor oë’
Marlene Vermaak van Pretoria

“Ek was oorgewig as kind – op 12 het dit my begin pla. Dit was van te veel sjokolade en koeldrank. Ek wou ook nie aan sport deelneem nie, want sportklere het my nóg groter laat lyk. Ek kan dus vandag met my pasiënte identifiseer. Baie mense sit in my spreekkamer en huil, want hulle is nie vir hulself mooi nie. Ek verstaan dit. Ek weet watter knou dit jou selfbeeld gee. En ek het ook allerhande kitsdiëte gevolg voordat ek my gewig met gesond eet onder beheer gekry het. My ma het my altyd getroos: ‘Al die maer meisietjies wat nou eet wat hulle wil, gaan eendag soustannies wees. Want hulle leer nie om reg te eet nie.’ En dis waar. Ek het vroeg besef ek kan nie alles eet wat voorkom nie. G’n mens kan elke dag 100% reg eet nie, maar ek loop tog meestal die smal weg. Ek eet ses klein maaltye per dag en gaan nêrens sonder twee appels in my handsak nie. Ek eet selde vetterige kos en verfynde suiker – dit laat my siek voel. My konsentrasie verswak en my produktiwiteit verminder. (Dis waarskynlik weens bloedsuiker-skommelinge.) Jou liggaam pas aan by ’n gesonde dieet, en wat eens vir jou lekker was, maak jou later naar. Ek weet ek kan nie die res van my lewe eet wat ek wil sonder om gewig op te tel nie. Dis ’n pad wat jy lewenslank stap. Ek glo egter aan balans. Jy kan nie alles wat lekker is vir ewig uit jou lewe verban nie. Ek sny niks uit my dieet nie, maar hou matigheid voor oë. As ek bv. lus is vir pizza, eet ek dit. Ek kies net ’n klein een met ’n eenvoudige vulsel, of deel dit met ’n vriendin. En eet dit met slaai, vir ekstra vesel. Mense dink skynbaar dieetkundiges het nie normale kosdrange nie. Ek sal ’n stukkie koek eet en iemand sal afhaak: ‘Eet jy kóék?’ Ek is nie baie lief daarvoor nie, maar as ek die dag lus is, eet ek dit. Mense is bang om voor my te eet. Dis absurd! Ek lag net as ek by Woolworths instap en ’n pasiënt teëkom wat vinnig iets agter haar rug wegsteek. ’n Wenk: Moenie elke dag op die skaal klim nie. Ek weeg myself nooit nie. As my klere begin ongemaklik sit, draai ek briek aan.”

DIE GESONDHEIDSTERAPEUT
‘Ek en my gesin het ons toksiese tand-kwikstopsels laat verwyder’
Dr. Sterna Franzsen van Johannesburg

Sy was vyftien jaar lank ’n ginekoloog en is die afgelope twee jaar in die aanvullende gesondheidsbedryf.
“Ek het jare lank hormoonvervangingsterapie (HVT) gebruik, maar nie meer nie.

Ek het besef ons liggame kan nie van al die chemiese stowwe ontslae raak nie. Ek sukkel soms met simptome, maar dis minder intens as ek gesond eet en oefen. Ek eet baie organiese groente en, ja, vleis. Dierlike proteïene is noodsaaklik vir die mens. Ek ry perd, speel muurbal en gaan so twee keer per week gimnasium toe. Ek gebruik nie alternatiewe middels vir die menopousale simptome nie. Ek weet wel van vroue vir wie natuurlike sojaprodukte werk. Daar is egter al hoe meer negatiewe berigte oor soja: Dit word as ’n hormoonontwrigter beskou, wat glo veral mans se vrugbaarheid kan aantas. Die Pil is net ’n ander vorm van HVT en het dieselfde uitwerking op die liggaam. Jy gebruik dit gewoonlik net baie langer. Tien jaar lank op die Pil en dan nóg tien jaar op HVT. Vergroot dit nie jou risiko om borskanker te kry nie? Meisies van net 12 gebruik dit reeds vir aknee en ongereelde menstruasie. Daar is ander metodes van geboortebeperking, bv. Die nuwe IUD met progesteroon. Ons omgewing is baie giftig weens al die landbou-chemikalieë en chemiese stowwe in die kos en water. Doen alles in jou vermoë om gesond te bly. As jy ’n genetiese geneigdheid tot ’n bepaalde siekte het, moet jy soveel te meer na jou liggaam kyk. Dit sluit in om van al die toksiese kwikstopsels in jou tande ontslae te raak. Die simptome van kwikoorlading kan insluit moegheid, pyn in die gesig en kakebeen, ’n metaalsmaak in die mond, hoofpyn, onreëlmatige hartklop en kan dalk selfs ’n rol by Alzheimer-siekte speel. My energievlakke het grootliks verbeter nadat myne verwyder is, en my gesin het my voorbeeld gevolg. Giftige bakterieë kan in die kakebeen groei waar wortelkanaal-behandelings gedoen en tande getrek is. Gifstowwe afkomstig van dié bakterieë kan deur die liggaam versprei en word gekoppel aan bv. gewasse, trombose en aftakeling van die senuwees. (Dis egter kontroversieel.)

Ek het die positiewe effek op my gesin gesien nadat ons die holtes laat skoonmaak het. My allergieë (hoofsaaklik vir kos) het verbeter en ek slaap beter. My man se chroniese hoofpyn en nekpyn is weg. Dit word deur ’n mond-en-kaakchirurg en sommige tandartse gedoen. Die holtes word skoongekrap, uitgespoel en die periodontale ligament (die ligament om die tand, waarmee dit aan die been vas is) verwyder. Ek kan nie veel aan my giftige omgewing doen nie, maar ek het beheer oor wat ek eet, drink en hoe fiks ek is.”

DIE DERMATOLOOG
‘Ek dra elke dag sonblok – winter en somer’
Dr. Izolda Heydenrych van Kaapstad

“Ek het as kind in die son gelê tot ek pikswart was. My ma, ook ’n dermatoloog, het gewaarsku dit gaan my gou oud laat lyk en my kans op velkanker verhoog. Ek het my nie daaraan gesteur nie. Ek het gelukkig altyd my gesig uit die son gehou, omdat my vel geneig is om te pigmenteer. En toe ek in dermatologie begin spesialiseer, het ek alle lus vir sonbrand verloor. Die prys wat ’n mens betaal, is bloot té hoog. Ek swem gereeld by ’n gimnasium en hou van ’n bruin lyf. Nou gebruik ek maar verbruiningsrome; daar is baie goeie produkte op die mark. Ek vertel my pasiënte: ‘Jy gaan dalk nooit kanker kry nie. Maar ek waarborg jou die son gaan jou vroeg laat verouder. Jy kan ná elke vakansie die nuwe kolletjies en rimpeltjies sien.’ Ek is uiteraard meer bewus van sonskade as die gemiddelde ma. Wanneer ons met vakansie is, swem ons van seweuur tot tienuur soggens en dan weer van vieruur tot laat in die middag. Tussen tienuur en drie-uur bly ons uit die son. My seuns (onderskeidelik 10 en 12) dra klere met ’n sonskermfaktor van 60 tot 90. Dis van ’n soort lap gemaak wat die son se skadelike strale afweer. Die Kansakenteken is op die etiket en jy kry dit by strandwinkels en sekere kettingwinkels. Ek het kleintyd gesê hulle moet hul ‘slim’ hemde dra. Dit bied meer beskerming as hulle op die strand speel. Hulle smeer sonblok aan die dele van hul lyf wat uitsteek.

’n Belangrike oorsaak van melanoom, die mees aggressiewe velkanker, is sonblootstelling tot so agtien jaar. En dit neem toe. Tog moet kinders op die warmste tye van die dag sport beoefen. Ek voel ouers moet drukgroepe vorm om skole te dwing om dit te verander. In Australië is dit bv. verpligtend dat daar skaduwee op die skoolterrein moet wees. Ek dra elke dag sonblok – winter en somer. Sowat 85% van verouderingstekens is aan die son te wyte. As jy ’n goeie sonblok dra, kan jy dit voorkom. En het jy geweet die buisligte in jou kantoor het ook skadelike ultraviolet-strale? Ek kies ’n sonblok wat sink-oksied of tetanium-dioksied bevat. (Kyk op die lysie van bestanddele.) Dit vorm ’n fisieke en nie ’n chemiese blok nie. En ek dra altyd ’n beskermingsfaktor van meer as 25. Dis wys om sonblok ook aan jou hande te smeer. Om inderdaad alles wat jy met jou gesig doen op jou hande te herhaal. Jou hande is geneig om gou jou ouderdom te verklap. En as dit jou begin pla, is dit dikwels te laat.”

DIE KARDIOLOOG
‘Ek glo aan ’n halwe Disprin per dag vir hartgesondheid’
Dr. Adriaan Snyders van Pretoria

“Kardioloë is sekerlik baie bewus van die risikofaktore vir kardiovaskulêre siektes en hoe om dit in hul eie lewe te probeer voorkom. Die meeste wat ek ken, beoefen die een of ander sport. Dis by vergaderings opmerklik dat die borde slaai en vrugte gewilder as die koekies is. Rokers is baie skaars.

Oor oefening het ek tot so twee jaar gelede net gepraat. Toe my lyf se ‘raamwerk’ nog heel was, het ek gedraf en muurbal gespeel, maar daarna jare lank niks gedoen nie. Ek het al die beste verskonings geken waarom ek nie gereeld oefen nie! (Die beste een wat ek nog gehoor het, was die man wat gereken het ’n mens het dalk net ’n bepaalde aantal hartslae tot jou beskikking – en hy wou dit nie met oefening opgebruik nie!)

Maar ek het al hoe meer gelees van bekende sportmanne wat weens hartsiektes sterf. My pasiënte raak ook al hoe jonger. Dit was juis een van dié jong pasiënte wat my so twee jaar gelede vasgevat en ’n sessie by ’n spinning-klas gereël het. Nou doen ek dit so drie keer per week. Ek en my spinning-maters durf ook so twee keer per maand die oop pad met fietse aan. Ek probeer ook gereeld by die gimnasium uitkom. Nie een van my huismense rook nie en gaste wat rook, moet op die stoep staan en hul stompies in ’n houer gooi.

Ek glo aan ’n halwe Disprin (of ekwivalent daarvan) daagliks vir hartgesondheid.

Dis wonderlik dat iets só eenvoudigs soveel ellende kan voorkom. Die meeste mense neem 100 mg of 150 mg p/d, maar selfs 81 mg p/d (’n kwart van die pil in die gewone blou pakkie) is genoeg.  Ek het al in ’n mate vrede met my ronde middel gemaak. Ek is tog aktief, eet verstandig en gehoorsaam al die ander reëls. Dit het my lank geneem om te besef slaai is ook kos. Hoe kleurryker, hoe beter. Die helder kleure bevat die meeste anti-oksidante. Ontbyt is belangrik; ek eet dan nie vleis nie en selde eiers. Ongelukkig eet ek my hoofmaaltyd saans: Die prys wat ek moet betaal om in die moderne era te werk. Soms dink ek my gehoor is té goed – ek kan hoor hoe die peuselgoedjies roep! Dis makliker as daar nie ongesonde kos byderhand is nie: My vrou bêre die lekkerste goed diep weg.”