Gesondheidstories

Wilna Snyman met Alzheimersiekte gediagnoseer

Die bekende verhoogaktrise en sepiester Wilna Snyman (ook bekend as Madel van 7de Laan) is onlangs met Alzheimer-siekte gediagnoseer. Dié aktrise het vanoggend op die radiostasie RSG daaroor gesels. Hier is die nuutste inligting rondom dié siekte.

Nuwe hoop vir alzheimerlyers

As dié siekte jou in sy greep beetkry, is daar nie omdraaikans nie. Maar wetenskaplikes werk onverpoosd aan ’n kuur…

Die Britse skrywer Iris Murdoch is seker een van die bekendste gevalle van alzheimersiekte (AS). Haar man, John Bayley, skryf in die boek Eulogy for Iris: A Memoir (Saint Martin’s Press, 1998) hoe dié vrou met haar eens formidabele verstand in AS se donker verwarring wegsink. Die Oscar-bekroonde-fliek, Iris, is ’n verwerking van die boek. Daar is ’n aangrypende toneel in die fliek waar sy uit haar Oxford-huis strompel. Sy is in ’n wêreld van haar eie – deurmekaar, gedisoriënteerd, met leë oë en uitdrukkinglose gesig. John soek vervaard na haar. Wanneer ’n ou vriend haar uiteindelik huis toe bring, koester John haar in sy arms en vra: “Wou jy my verlaat?” In haar kop het sy reeds. ’n Dokter wat haar ondersoek, verwys na die siekte as “onverbiddelik”. “Maar dit sal nie wen nie,” reageer John, hoopvol. “Dit sál wen,” antwoord die dokter. AS is ongeneeslik. Die medikasie wat tans gebruik word vertraag net die simptome. Dit kan egter verander. Die uitslag van ’n wêreldwye studie met ’n entstof wat AS kan voorkom, word eersdaags bekend gemaak, sê dr. Felix Potocnik, psigiater van Kaapstad. En al is die uitslag nie positief nie, baan dit dalk die weg vir soortgelyke middels wat wél werk. Volgens hom kan daar binne die volgende twee tot drie jaar ook middels op die mark wees wat die siekte vertraag en jou langer ’n beter lewensgehalte gee, beter as met die bestaande middels. Nog ’n bekende openbare figuur wat aan alzheimersiekte gely het, was barones Margaret Thatcher, gewese Britse premier. Sy het in April vanjaar gesterf, en haar lewe en uiteindelike stryd met hierdie siekte word ook in ’n rolprent, The Iron Lady, uitgebeeld. Na raming ly sowat 8 tot 10% van mense bo 65 aan alzheimersiekte. Dit neem só toe dat daar van ’n “ontploffing” gepraat word. Een van die redes is dat ons langer leef. Hoe ouer jy is, hoe groter is jou kans om AS te kry. Wêreldwyd word elke 4 sekondes iemand met demensie gediagnoseer, volgens Jill Robson van Alzheimer Suid-Afrika. Dis ’n algemene term vir AS en ander, minder bekend vorme van demensie: ’n progressiewe agteruitgang van die brein. Dis nie bekend wat dit veroorsaak nie, maar jou brein krimp en jy raak vergeetagtig. Jy verloor goed en kan dit nie kry nie, verdwaal, vergeet om te bad en skoon klere aan te trek. Jy kan mense beskuldig hulle steel jou goed en jou maat dat hy rondloop.

10 Waarskuwingstekens van demensie

  • Onlangse geheueverlies wat jou werkvermoë beïnvloed.
  • Probleme om bekende take te verrig.
  • Vergeet woorde in alledaagse gesprekke.
  • Disoriëntasie van tyd en plek.
  • Toenemende slegte oordeels- en besluitnemingsvermoë.
  • Probleme om berekeninge te maak en syfers te herken.
  • Verlê dinge.
  • Verandering in bui en gedrag.
  • Persoonlikheidsverandering.
  • Gebrek aan inisiatief.

Bron: dementiaSA (021 421 0077/8 of

021 418 5888, www.dementiasa.org)

Oorsake

AS is kompleks: daar is nie net een oorsaak nie. Dis vermoedelik ’n wisselwerking tussen genetiese en omgewingsfaktore. Daar word tans gefokus op die amiloïed-voorloperproteïen as ’n moontlike oorsaak. Dit kom in die buitenste membrane van die senuselle voor. Pleks dat dit afgebreek word, vorm dit ’n skadelike stof, beta-amiloïed. Dit hoop op as plaak en maak die breinselle dood. En dís die teiken van die entstof wat nou getoets word: Dit verwyder die plaak, sê dr. Potocnik. Nuwe navorsing fokus op die tau-proteïene binne die senuselle. As iets daarmee verkeerd loop, kan dit alzheimersiekte veroorsaak, sê hy. Soms is AS geneties. Dit maak dan relatief vroeg sy verskyning (in jou 50’s, 40’s en selfs jou 30’s). Meestal speel oorerwing egter ’n klein rol. As jy ’n ouer of ’n ander familielid met AS het, is jou kanse net ’n bietjie groter om die siekte te kry as iemand met geen onmiddellike familie met die siekte nie. Die omgewingsfaktore wat daartoe kan bydra, moet nog geïdentifiseer word. Vrese dat aluminium dit kan veroorsaak, is grootliks verkeerd bewys, word op Alzheimer Suid-Afrika se webblad gesê.

 Verband met Hartsiektes

Daar is klaarblyklik ’n genetiese verband tussen demensie en hartsiektes, sê dr. Maritha Kotze, genetika-navorser aan die Universiteit Stellenbosch se mediese skool. Dieselfde risikofaktore wat kan lei tot die ontwikkeling van kardiovaskulêre hartsiektes in die middeljare, kan ook die risiko vir alzheimersiekte op jou oudag verhoog. En kardiovaskulêre siektes neem toe. (Een uit drie Suid-Afrikaanse mans en een uit vier vroue het kardiovaskulêre probleme voor hulle 60 is). Amerikaanse navorsing wys sowat ’n derde van mense met AS het ook in ’n mate vaskulêre probleme. Die behandeling van sekere risikofaktore vir kardiovaskulêre hartsiektes kan die risiko vir demensie met meer as 50% verminder. ’n Studie, met sowat 10 000 proefpersone en wat oor sowat 27 jaar gestrek het, wys as jy rook, en hoë cholesterol, diabetes en hoë bloeddruk in jou middeljare het, vergroot jou risiko vir demensie met sowat 20 tot 40%. Dit neem met sowat 35% toe as jy oorgewig is, en as jy vetsugtig is met sowat 70%, sê sy. Een teorie is dat kardiovaskulêre probleme die slagare kan verstop. Genoeg sleutelvoedingstowwe kan dan nie by die brein uitkom nie. ’n Bydraende faktor is dat kardiovaskulêre hartsiektes en alzheimersiekte deur dieselfde siekteproses veroorsaak kan word en inflammasie ’n rol speel. By kardiovaskulêre siektes ontsteek die slagare en word dit beskadig. By AS is ’n soortgelyke proses in die brein aan die gang, sê sy. Amerikaanse navorsing wys die risiko van bejaardes wat op lang termyn klein dosisse anti-inflammatoriese medikasie neem, is 45% minder om AS te kry. Jou moet dit begin neem voordat jy enige simptome van AS het, langer as twee jaar, vier keer per week.

* Internasionale Alzheimer-dag is op 21 September.

* Lees ook Still Alice (Pocket Books, 2009), ’n aangrypende verhaal oor die siekte geskryf deur Lisa Genova, ’n neurowetenskaplike aan die Harvard-universiteit.

Voorkom dit

Alzheimersiekte begin dalk reeds in jou 20’s tot 30’s.

Hoe vroeër jy met voorkomende stappe begin, hoe beter. Dié stappe sluit in:

  • Hormoonvervangingsterapie.
  • Neem vitamien E (sowat 400 IU p/d) en
    vitamien C (300 – 400 mg p/d).
  • As jy gereeld ’n anti-inflammatoriese middel soos ibuprofen moet neem, het jy ’n bykomende voordeel. Dit beskerm jou ook teen AS.
  • Drink sowat 250 – 500 ml rooiwyn p/d.
  • Stimuleer jou kop.
  • Doen oefening.
  • Beheer jou risikofaktore vir hartsiektes (rook, hoë
    cholesterol, bloeddruk, oorgewig).
  • Neem omega 3-vetsure in: Eet kouewatervis soos
    haring, makriel en salm 2 tot 3 keer per week.
    Of neem visolie as aanvulling: 1 000 mg p/d.
  • Drink 3 tot 5 koppies koffie p/d. (Nie kitskoffie of
    kafeïenvry nie.)
  • Eet 40 g 80%-donkersjokolade p/d.
  • Statiene (vir cholesterol) in hoër dosisse kan dalk
    ook help.

 

Bron: dr. Felix Potocnik

KONTAK

Alzheimer Suid-Afrika: 0860 102 681 (hulplyn);

www.alzheimers.org.za

Wilna se hoop, vrese en kennis

Ek hoop

dat ek ’n swart taal ook kan praat. As ek dit kon doen, sal ek op voetsoolvlak kan kontak maak en dít sal my verryk. Dis ’n voorreg om Afrikaans en Engels te kan praat.

dat ek ’n nag kan deurslaap sonder om wakker te word. Artritis laat jou met gelatenheid mompel: “Ja-nee, oud word is nie vir sissies nie.” Met my jaarlikse ondersoek het die onkoloog verklaar dat my organe mooi “skoon” is van kanker. “Maar kyk net hoe lyk jou ruggraat, skouers, nekwerwels en knieë! Jy het chirurgie nodig!” Ek het nie tyd daarvoor nie. Dus hoop ek dat die pynpil wat ek drink tog nog net vir die jare wat oorbly, beskikbaar sal wees.

dat my twee laatlam-kleinseuns nog Afrikaans sal praat teen die tyd dat hulle skoolgaan en dat hulle nie na Engelse byvoeglike naamwoorde soos awesome sal gryp nie.

dat hierdie land se mense onder die Suiderkruis sal leer om met verandering saam te leef. Dís deel van die Skepping en dit verryk jou. As ons ons harte oopmaak en leer om probleme te konfronteer, sal ons groot skatte vind. Ons het reeds ver gevorder.

Ek is bang …

vir somme, syfers en rekeningkunde. Ek het nie gedink ek sal matriek slaag nie, weens ’n minderwaardigheidskompleks oor my gebrek aan wiskundige vaardighede. Onsimpatieke onderwysers het dit vererger. Toe slaag ek matriek in die eerste klas met onderskeidings in Engels en musiek.

ek verloor my geheue. My ma het seniel geword. Dis hartseer om te beleef, want die mens vir wie jy lief is, word iemand anders. Is dit te veel gevra dat ek eendag die woorde van N.P. van Wyk Louw se “O, wye en droewe land“ en Psalm 23 sal kan onthou?

vir konflik en oorlog. Toe ek vyf jaar oud was, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek. Ek onthou die fluistergesprekke tuis . . . Ek kon die vrees aanvoel. Toe my twee seuns opgeroep is vir militêre diensplig in Angola, het my oudste seun met bittere ontnugtering vir my gevra wat ons daar soek. Ek het nie antwoorde gehad nie. Emily Hobhouse, wat haar oor die Boerevroue en -kinders in die konsentrasiekampe ontferm het, het dié waar woorde gesê: “Een van die ergste eienskappe van oorlog is die verrotting van die waarheid, regverdigheid en menslikheid.“

Wat ek nou weet

Toneelspel het my diep laat delf in my eie psige en fasette van myself gewys wat ek nie geweet het bestaan nie. Dit leer ’n mens veerkragtigheid. Jy vat die knocks soos ’n bokser.

Almal kom met ’n Goddelike Bloudruk aarde toe. Ons is hier om ’n rede. Om ’n mens te word, om vreugde, pyn, liefde, selfvervulling, al die emosies te ervaar. Dis ’n kringloop wat jy moet voltooi op reis na die ewigheid. Dis soms met verwondering dat jy terugkyk op die pad wat afgelê is, wat aanvanklik onverstaanbaar en soms bitter en pynlik is. En dan kyk jy skielik met nuwe begrip en deernis na alles.

My ma het deur haar voorbeeld vir my gewys hoe lyk ware liefde.

Ek is genees van borskanker, wat op 2 Mei 2002 by my gediagnoseer is. Sedertdien het my man, Jaap Smit, Parkinson se siekte gekry. Ek besef nou niks is seker in die lewe nie. Jy beplan een ding en die Bloudruk sê jy moet op ’n afdraaipaadjie gaan. Jy moet nóg ’n les leer. Alles kom op jou pad om jou na volkomenheid te lei.

My wêreld het klein geword, my behoeftes ook.

Moederskap louter ’n mens . . . die geboorteproses, daai kind waarin jy deeltjies van jou man, jouself, die heelal sien. Ma-wees is ’n voorreg.

Ek het geleer om kritiek nooit persoonlik op te neem nie, my aan kundiges te steur, selfondersoek te doen en altyd te bly leer. ’n Kritikus het my eenkeer “unseemly and too tall“ genoem. Ek het ’n karakteraktrise geword en onder meer twaalf koninginne in my loopbaan vertolk, waar my lengte my goed te staan gekom het!

Dis helend om te lag. Dis kenmerkend van Suid-Afrikaners. Ons lag dikwels ten spyte van rampe, verliese en teëspoed. Dis ons behoud.

*Onderhoud deur Marguerite van Wyk, SARIE – September 2008