FOTO: Phyllis Green

Intiem

12 Verrassende seksfeite (of dalk nie?)

Kan jou hoëhakskoene jou orgasme beïnvloed? En wat is die nuutste oor die G-kol?

Masters en Johnson sou stomgeslaan gewees het.William Masters and Virginia Johnson se baanbreker-seksnavors- ing in die jare 50 en 60 het hulle beroemd gemaak. Hul storie is nou, dekades later, in ’n dramareeks, Masters of Sex, omskep.

Hulle het die manier hoe ons oor seks dink, onderstebo gekeer, volgens die nuustydskrif Time se gesond- heidsblad, healthland.time.com. Hul studies het onder meer gewys vroue is in staat tot verskeie orgasmes. En dat hulle ’n orgasme, genade, geniet!

Maar ons weet deesdae soveel meer oor vroue en seks. Die webblad noem 12 sulke seksfeite. Dis na aanleiding van seksnavorsing deur dr. Eden Fromberg, ’n Amerikaanse gine- koloog, en Naomi Wolf se onlangse boek, Vagina: A New Biography. Maar hoeveel daarvan is waar? SARIE het ondersoek ingestel.

1: Jy kan swanger raak 5 – 7 dae ná seks

Baie spermselle gaan dood minute ná ejakulasie, binne of buite die vagina, verduidelik Elmari Mulder Craig, seksuoloog en verhoudings- terapeut van Pretoria. Die meeste gaan binne 1 – 2 dae ná ejakulasie dood, maar sommige kan wel tussen 3 – 5 dae oorleef. Volgens haar is dit hoogs onwaarskynlik dat sperms vir langer as 5 dae kan oorleef.

Ja, dis onwaarskynlik, hoewel teoreties moontlik, beaam dr. Elna Rudolph, mediese dokter en spesialis in seksuele gesondheid van Pretoria.

Sý sien dit egter gereeld by vroue wat die ritme-metode as voorbe- hoedmiddel gebruik, sê prof. Elna McIntosh, seksuoloog van Johan- nesburg. ( Jy vermy seks of gebruik kondome as jy op jou vrugbaarste is.) “Ek sê altyd vir sulke vroue hulle moenie met jong mans uitgaan nie, hul sperms leef langer!”

2: As jy goed gehidreer is, het jy beter orgasmes

As jy ontwater (gedehidreer) is, gaan jy nie lus wees vir seks nie. Maar hoeveel water jy ’n dag drink, gaan waarskynlik nie ’n impak op jou orgasme hê nie, reken Elmari. Dit kan wel ’n invloed hê op jou spysver- teringstelsel, gewig en energievlakke. ’n Gesonde leefstyl help jou om seksueel te funksioneer.

Dis seker ook teoreties moontlik dat jy sal sukkel met smering van jou vagina as jy baie ontwater is, sê dr. Rudolph. Seks kan dan seer wees en dit sal moeiliker wees om ’n orgasme te kry.

3: Hoëhakskoene kan jou orgasme kelder

Toe Christian Louboutin, ontwerper van luukse Franse skoene en handsakke, tydens ’n onderhoud beweer hoëhakskoene kan jou ’n orgasme gee, is hy uitgelag. Maar kan die teenoorgestelde waar wees?

Sekere vervaardigers van duur skoene ontwikkel die boog van hul hoëhak- skoene om die boog van ’n vrou se bekken, wanneer sy ’n orgasme het, so na moontlik na te boots. Dit kan ’n sametrekking van die bekkenvloer veroor- saak. Dis ’n probleem, want die bekkenvloer kan dan nie nog meer tydens orgasme saamtrek nie. “’n Orgasme is soos om van nul tot 60 te gaan,” ver- duidelik Fromberg op healthland.time.com. “As jy reeds by 55 trek (omdat jy hoëhakskoene dra), gaan jy nie die volle ervaring hê nie.”

Hoëhakskoene kan wel jou bekken vorentoe laat kantel, sê Elmari. Dit kan potensieel die bekkenvloer-spiere in ’n spasma laat gaan en verkort, wat dit dan moeiliker maak om saam te trek en te ontspan tydens die ritmiese sametrekking van ’n orgasme.

Inderdaad, sê dr. Rudolph. Dis ’n feit dat ’n hipertoniese bekkenvloer (stywe bekkenvloer-spiere) pyn tydens seks kan veroorsaak. Ook dat die manier hoe jy loop, staan en sit jou bekkenvloer kan beïnvloed. As jy egter sukkel om orgasmes te kry en jy hou net op hoëhakskoene dra, gaan dit niks help nie. Weet ook, as jy ’n bekkenvloer-disfunksie het, kan Kegel-oefeninge baie nadelig wees. (Simptome van die disfunksie: seks is dikwels ongemak- lik, jy is hardlywig en urineer dikwels.) Besoek ’n fisioterapeut wat daarin spesialiseer. As jy onseker is, raadpleeg ’n ginekoloog of spesialis in seksuele gesondheid, wat in die behandeling van pynlike seks belangstel. Sy/hy kan jou help om die oorsaak te vind en die regte behandeling voorstel.

4: As jy op ’n stoel sit, kan dit jou seksueel stimuleer …

Dit kan gebeur, aangesien dit die weefsel in die vagina, klitoris en anus kan stimuleer. Die meeste vroue sê egter dit het nog nooit met hulle gebeur nie, sê Elmari. “Jou brein is jou belangrikste seksorgaan. Om seksueel opgewek te word moet die meeste vroue ‘in die oomblik’ wees, erotiese gedagtes hê en sensories gestimuleer word.”

Dr. Rudolph sê dis meer algemeen dat drukking op die pudendale senu- wee (in die bekken) pynlik vir vroue (en mans!) is. Die ervaring is dus meer pynlik as genotvol!

5: … maar dit kan ook jou orgasme minder intens maak

Volgens dr. Rudolph kan ander akti- witeite, soos Pilates, ballet, gimnastiek, perdry en fietsry, dit ook veroorsaak.

Dit gaan oor balans, sê Elmari. Moenie langer as dertig minute sit sonder om op te staan nie. Dit hang ook af hóé jy sit. Moenie inmekaar, soos ’n lappop, sit nie. Maar sit regop met ’n klein inham in jou rug. Of jy nou sit, staan of lê, dit gaan oor jou gedagtes, hoe gemaklik jy met jou eie seksualiteit is. En ja, oefen jou bekkenvloer-spiere deur dit saam te trek en te laat ontspan (Kegel-oefeninge). Haal diep asem, ontspan, fokus op wat jy in jou lyf voel … en geniet dit.

6: Die Pil kan jou libido beïnvloed

Inderdaad, dis nie net in jou “kop” nie, sê dr. Christiane Northrup, Amerikaanse ginekoloog en skrywer van Women’s Bodies, Women’s Wisdom (Hay House, 2013). Orale hormo- nale voorbehoedmiddels verlaag jou testosteroonvlakke aansienlik. Dis die hormoon wat jou seksueel optimaal laat funksioneer. Jy stel dan minder in seks belang, raak moeiliker seksueel gestimuleer en dis ook vir jou minder lekker. (www.drnorthrup.com).

Volgens Elmari word ’n alternatiewe voorbehoedmiddel in so ’n geval aanbeveel. Daar is vandag baie middels (ook in pilvorm), wat dalk nie so ’n groot impak op jou seksuele funksionering het nie.

7: Orgasmes kan jou meer kreatief maak

Gereelde orgasmes stel goedvoel-hormone vry en kan dalk selfs ligte depressie verlig, sê Elmari. Dit kan ook jou selfvertroue ’n hupstoot gee. In daardie sin kan dit dalk ook jou kreatiwiteit verhoog.

8: Jy het 3 erotiese brandpunte: die klitoris, G-kol en opening van die serviks

Jou klitoris is die belangrikste orgaan vir seksuele bevrediging en orgasme, sê Elmari. Dit bestaan uit 8 000 senu- wee-eindpunte – en stimulasie daarvan gee jou ’n orgasme. Daar is nie ’n verskil tussen ’n sg. klitorale en vaginale orgasme nie. Die nuutste navorsing wys ook die sg. G-kol bestaan nie, is by die onlangse World Association for Sexual Health se internasionale kongres in Brasilië aangevoer. Jy het wel baie erotiese brandpunte op jou lyf – en dit wissel van vrou tot vrou, van dag tot dag en maand tot maand.

Baie vroue se nek, die agterkant van hul polse en knieë en hul borste is baie sensitief. Die opening van die serviks is ook sensitief, maar vroue kla dikwels dis pynlik as penetrasie te diep is, sê sy.

Volgens dr. Rudolph hoort jou tepels vir seker ook op die lysie. Sommige vroue kan ’n orgasme kry as jy aan hulle vat.

9: Die ritmiese sametrekkings wat jy tydens ’n orgasme voel, is jou baarmoeder wat probeer sperms versamel

Volgens Elmari is daar navorsing wat dit staaf. Dis bloot omdat dit vrugbaarheid kan verhoog. Tog raak baie vroue wat nie ’n orgasme kan kry nie, steeds swanger.

Dr. Jen Gunter, ’n Amerikaanse ginekoloog (drjengunter.wordpress.com), sê die meerderheid mediese studies wys vroue se orgasme het min met die vervoer van sperms te doen. Ja, beaam dr. Rudolph. “Sperms word chemies na die eierselle aangetrek – dit hoef dus nie ‘versamel’ te word nie.”

10: Senuwee-eindpunte is verskillend in elke vrou se vagina versprei

Elke vrou moet dus effens anders maniere gebruik om ’n orgasme te kry (healtland.time.com). Dit is so dat jy uniek is in terme van wat jy nodig het en wat vir jou werk om ’n orgasme te kry, sê Elmari. Weer eens gaan dit oor meer as senuwee- eindpunte, maar oor emosionele intimiteit, of jy veilig voel, ontspanne en in die oomblik is, gemaklik met jou lyf is, jou lyf ken en jouself toelaat om ’n orgasme te kry. As jy aan alles dink wat jy nog moet doen, vergeet maar van ’n orgasme.

Beslis, sê dr. Rudolph. “Dit gaan nie soseer oor die senuwee-eindpunte wat verskil nie. Dis bloot ’n saak van persoonlike voorkeur. Sommige vroue hou meer van ’n sekere soort stimulasie as ander.”

11: Ligsiklusse kan jou vrugbaarheid beïnvloed

Vroue het lank gelede met donkermaan gemenstrueer en wanneer dit volmaan is, geovuleer. Deesdae, met al die kunsmatige lig, is vroue nie meer in pas met die verbinding tussen hul lyf en die natuur nie. (healthland.time.com)

Die teorie dat vroue lank gelede tydens volmaan geovuleer het, word deur baie wetenskaplikes aanvaar, sê Elmari. Die konsep van tyd soos ons dit ken, het begin toe vroue besef het hulle het ’n menstruele siklus wat met die maan se gang gesinchroniseer is. Weens verskeie redes is dit nie meer vandag só nie. Ons weet baie meer en gebruik verskeie soorte voorbehoedmiddels. Die Mirena het bv. die voordeel dat jy glad nie meer menstrueer nie. “In ons moderne samelewing van geslagsgelykheid en waar gemak en praktiese denke die voortou neem, hoef vroue nie met die maan gepla te wees nie!”

As jy sukkel om swanger te raak, moenie die skuld op die maan pak nie, sê dr. Rudolph. Besoek jou dokter om seker te maak jy het geen infeksies nie en dat jou skildklier en volbloedtelling normaal is. Bespreek jou menstruele siklus met jou dokter en laat hy/sy jou help bepaal wanneer dit vir jou die beste tyd van die maand is om te probeer swanger raak. Indien jy vir meer as ’n jaar sukkel, gaan sien ’n vrugbaarheidspesialis.

12: Alle vroue kan ’n orgasme kry

Die meeste vroue het inderdaad die “masji- nerie” daarvoor, sê Elmari. “Ek sien egter baie vroue in my praktyk wat hul lewe lank, of skielik, anorgasmies is. Dit is dan belangrik om die oorsaak daarvan te bepaal. Dit kan biolo- gies, fisiologies of sielkundig wees. ’n Orgasme is nou eenmaal meer as net sametrekkings van die bekkenvloerspiere, dis ’n ervaring wat jou liggaam, siel en gees insluit.”

KONTAK:

Kry nog Kegel-oefeninge HIER.

  • Giel

    hallo
    wa kan ek n anoniem vraag vra