Dr Eve-dilemma: Hoe gee ek seks-raad aan maagd voor haar troue?

SARIE - Desember 2009

Vraag: Ek het 'n vriendin wat vandeesmaand trou. Sy is 'n maagd en baie skrikkerig vir die seks...

 Sy het ook 'n probleem en ek weet nie hoe om haar daarmee te help nie. Sy was vroeër vanjaar by 'n ginekoloog wat haar vertel het sy het twee ''gate'' in haar vagina. Die manier hoe sy dit aan my verduidelik het: Die voorkant van haar vagina, waar die penis moet ingaan, is toe. Daar is geen manier hoe sy 'n tampon kan dra of seks kan hê nie. Omdat sy 'n maagd is, het die ginekoloog net 'n sonar ondersoek gedoen - sy het haar nie inwendig ondersoek nie. Die ginekoloog het gesê dit kan met 'n operasie reggestel word, maar eers ná haar troue. Ek is bang seks gaan seer wees en 'n emosionele 'n letsel los. Help my om haar die beste raad te gee.

Dr. Eve, seksterapeut van Kaapstad, antwoord:

Onkunde kan baie gevaarlik wees. Jou vriendin ken nie haar eie geslagsdele nie en sal enigiets glo wat 'n dokter of ''kenner'' vir haar sê. Kennis is noodsaaklik en bemagtig jou. Ek pak nie die skuld op enigeen nie. Ons besoek dikwels 'n gesondheidswerker en omdat ons angstig is en nie die mediese woorde ken nie, verstaan ons nie heeltemal wat hy/sy vir ons verduidelik nie. Byvoorbeeld: Vroue het nie twee gate ''daar onder'' nie: Jy het 'n vaginale opening en 'n anus. Jou vriendin is 'n maagd en daarom is haar vagina styf. Dis dus moeilik vir enigiets om dit te penetreer: hetsy 'n tampon, mediese instrument of penis. Sy is boonop bang -- wat dit stywer en penetrasie net nog moeiliker maak. Toe haar dokter 'n sonar gedoen het, is 'n instrument in haar vagina gesit - sy kán dus penetrasie verduur.

My voorstel: Jou vriendin moet 'n spieël vat en haar geslagsorgane ondersoek. Sy kan leer hoe in my boek PILLOWBOOK (Oshun, 2007). Sy kan dan self sien daar is nie twee gate nie, net 'n vaginale opening. Met dié boek as gids kan sy seksuele inligting en selfvertroue kry. Dan moet sy na 'n ander dokter toe gaan wat haar kan ondersoek, met haar praat en al haar vrae beantwoord. Chirurgie is nie die verkose behandeling vir vroue wat sukkel met penetrasie nie. As die dokter haar eers verseker het sy is ''normaal'' daar onder, moet sy 'n seksterapeut besoek. Sy kan seksueel ingelig raak en ook leer om te ontspan as sy seks het. Sy moet haar toekomstige man aanmoedig om 'n paar keer saam te gaan.

Besoek dr. Eve se webblad by www.dreve.co.za.

Verwante artikels

  • Maak jou libido wakker: 8 maniere hoe

    Maak jou libido wakker: 8 maniere hoe

    SARIE Augustus 2010 | Kommentaar: 2

    Jy voel net nooit meer die passie nie – temoeg, te ontevrede, te gestres . . . Die rede vir jou tanende seksdrang is dalk baie eenvoudig en makliker om op te kikker as wat jy dink.

  • The Great South African Sex Survey gee die feite

    The Great South African Sex Survey gee die feite

    SARIE - Februarie 2010

    Health24 het weer die resulte van hul jaarlikse Great South African Sex Survey bekendgemaak. Meer as 10 000 mense ouer as 20 wat meer as R2 500 per maand verdien met die minimum-kwalifikasie van matriek het deelgeneem. Dit verteenwoordig sowat 1.3 miljoen Suid-Afrikaners.

Kommentaar