FOTO: Instagram (@bliisfully)

FOTO: Instagram (@bliisfully)

Intiem

Mans in SA het minder seks

Suid-Afrikaanse mans het omtrent 50% minder seks as mans in die res van die wêreld, het ’n onlangse studie bevind. Só skryf Beeld en Times Live.

Volgens dié studie, wat deur ’n farmaseutiese maatskappy gedoen is, het Suid-Afrikaanse mans gemiddeld 52 keer per jaar seks, maar in die wêreld is dié syfer vir mans gemiddeld 104. Dis egter nie waar die nuus ophou nie – 22% van Suid-Afrikaanse mans het minder as drie keer per maand seks terwyl 16% in verhoudings sonder enige seks is. 500 mans tussen die ouderdomme van 18 en 55 het in Mei en Junie vanjaar aan die betrokke aanlynopname oor seksuele gesondheid deelgeneem. Die redes vir dié lae syfers in Suid-Afrika is, volgens Times Live, onder meer die ekonomie wat verswak, toenemende druk by die werk, erektiele disfunksie en sosiale media. Terwyl baie paartjies so besig is dat hulle net oor naweke seksueel aktief is, het die helfte van die mans in die studie erken dat hulle én hul maats in die slaapkamer meer aandag gee aan sosiale media, slim toestelle en skootrekenaars. Bronne: Beeld & Times Live SARIE se gesondheidskrywer Lydia van der Merwe het in vanjaar se Junie-uitgawe ondersoek ingestel na erektiele disfunksie. Hier is wat sy gevind het.

As hy seks vermy …

Dr. Becker weet teen dié tyd daar is twee groepe mans: Dié wat hulle na haar haas as hulle een keer nie die mas opkom nie. En dié wat ontken daar is ’n probleem. Die gemiddelde man soek eers ná twee jaar hulp. In ’n onlangse studie in die Journal for Sexual Medicine het sowat die helfte van mans met ED (van alle ouderdomme) dit nie met ’n dokter bespreek nie. ‘‘Hulle dink dit sal regkom, dis net stres … Of dis normaal omdat hulle ouer raak. As hulle in ’n langtermyn-verhouding is, probeer hulle seksuele intimiteit vermy. Hulle soek verskonings: ‘Ek is net so moeg!’ Of gaan laat bed toe, wanneer hul vrou reeds slaap.’’ Is dit nie maar ’n normale deel van oudword nie? Nee, sê dr. Becker beslis. Dis meer algemeen by ouer mans, maar daar is geen rede waarom ’n man nie op honderd nog seksueel aktief kan wees nie. In ’n Amerikaanse opname met sowat 5 000 mense tussen 50 – 100 jaar het die meeste nog in seks belanggestel. Sowat 70% het nog seks gehad of gemasturbeer. Sy besoek nou die dag ’n 88-jarige tannie by ’n tehuis vir bejaardes. Klop aan die deur, hoor ’n geskuifel en ’n gegiggel. ’n Omie maak die deur oop: ‘‘Ons het net ons middagslapie gehad!’’ Dr. Becker se boodskap: Seksualiteit is deel van jou persoonlikheid. As jou maat dit vermy, moet daar ’n oorsaak wees. Sommige pare is heel tevrede sonder enige seks. Maar vir ander is dit ’n belangrike deel van ’n verhouding. Jy kan dalk verkeerdelik dink jy is nie meer vir hom as vrou aantreklik nie. Of daar is iemand anders. Groot moeilikheid! ED het ook ’n uitwerking op ’n man se verhouding met vriende en kollegas. Selfs produktiwiteit by die werk kan afneem weens ’n gebrek aan selfvertroue en eiewaarde, volgens medscape.com.

Mediese probleem

Die eerste stap om die probleem op te los is ’n deeglike mediese ondersoek. Mans met ED het dikwels hoë cholesterol, diabetes en ander onderliggende gesondheidsprobleme. ‘‘As dit eers behandel is, gaan alles weer klopdisselboom. ‘‘Ek het ’n pasiënt in sy vyftigs wat weens ED nie ’n nuwe verhouding verder kon voer nie. Toetse het gewys hy het diabetes. Ek het vir hom medikasie voorgeskryf en ook pille om sy ereksie aan te help. Net om hom weer selfvertroue op daardie gebied te gee.’’

Sy hart

ED kan ’n vroeë waarskuwing van kardiovaskulêre probleme wees en ’n hartaanval met ’n jaar of twee voorafgaan. Die klein slagare in die penis word eerste deur cholesterol verstop, baie vroeër as die groteres in die hart.

Medisynekas

Dit kan ook veroorsaak word deur medikasie vir onder meer hoë bloeddruk, cholesterol, vog-terughouding, kalmeermiddels, antidepressante en betablokkers. Bespreek ’n alternatiewe middel met jou dokter.

Behandeling

Dit kan so eenvoudig soos ’n leefstylverandering wees. As jou man rook, oorgewig is en nie oefen nie, kan dit ED veroorsaak. Moedig hom aan om daagliks 30 minute te stap. Hy skud dalk gewig af, voel en lyk beter en het dus meer selfvertroue. (Voor hy begin oefen, moet hy eers jul dokter besoek om die moontlikheid van hartprobleme uit te skakel.) Stadig ook met alkohol. As jou man saans 5 – 6 whiskys wegslaan en voor die TV aan die slaap raak, is dit nie bevorderlik vir jul sekslewe nie, sê dr. Becker. *Dié inligting kom uit die artikel “As hy nie kan byhou nie” in die Junie-uitgawe van SARIE. Dié uitgawe is nie meer op die rak beskikbaar nie, maar kan digitaal afgelaai word.

Nóg in SARIE se gesondheidsafdeling