FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Gesond

Kanker, diabetes, oorgewig … ons giftige omgewing!

Hande was met antibakteriële seep is so algemeen, jy doen dit sonder om te dink. Maar so pas is meer as 12 chemikalieë in antibakteriële seep verbied deur die Amerikaanse regering se voedsel-en-medisyne-administrasie (FDA).

Daar is glo nie genoeg bewyse dat dit veilig is of selfs meer doeltreffend is as doodgewone seep nie. Inteendeel, dit help dalk super-kieme om hul spiere meer te bult.

Jy kan jou deesdae skaars draai of jy hoor van nog iets in die omgewing wat skadelik vir jou gesondheid is. Verminder blootstelling aan skadelike stowwe só, sê prof. Tiaan de Jager, adjunk-dekaan: navorsing by die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

– Vermy antibakteriese seep, tandepasta en ander produkte met triklosan (triclosan) en sy nefie triklobaran (triclobaran).

– Vermy vleis van diere wat groeihormone kry. ’n Hoë inname van dier-proteïen (vleis) by meisies van 3-7 word byvoorbeeld geassosieer met vroeë puberteit. Eet die vleis van vryloop-diere wat gras eet en drink organiese melk.

– Beperk die inname van kosse met soja as basis, want dit bevat natuurlike estrogene. Lees kos-etikette, soja is ’n bymiddel in baie verwerkte kosse.

– Vermy plastiek gemerk met die herwinningskode #3, want dit bevat PVC. (’n Driehoek met syfer daarbinne.) PVC-plastiek bevat die chemikalie ftalaat (phthalate), wat dit meer buigsaam maak. Dit kan voorkom in onder meer speelgoed, kos-verpakkings, stortgordyne, skoonmaakmiddels, sjampoe en reënjasse. Ftalaat word geassosieer met vroeë borsontwikkeling by meisies.

– Vermy plastiek gemerk met die herwinningskode #7. Dit kan potensieel Bisphenol A (BPA) bevat. BPA word onder meer gevind in plastiek, plastiek-waterbottels, houers waarin kos gestoor word en in blikkieskos se voering (die plastiekagtige lagie aan die binnekant). Dit kan veral tydens verhitting na die kos migreer. Dit word byvoorbeeld geassosieer met vroeë puberteit in meisies.

BPA is ’n bewese hormoon-ontwrigter en word geassosieer met ’n verhoogde voorkoms van sekere kankers, veral borskanker, maar ook prostaatkanker, diabetes, oorgewig, skildklier- en neurologiese probleme. Omdat veral jong kinders se liggame nog nie behoorlik kan ontgif nie, is die gebruik van BPA in bababottels in Suid-Afrika verban, volgens dieetkundige Mariza van Zyl in Dik vir Dieet (Naledi, 2015). Ander bronne van BPA sluit in die lug, die plastiek in jou brilraam en -lense sowel as kosmetiese produkte.

– Vermy die hergebruik van oud/gekrapte plastiekbottels, gebruik liefs glas.

– Moenie plastiekhouers in die mikrogolf gebruik nie.

– Drink skoon of gefiltreerde water waar moontlik.

– Volg ’n gebalanseerde dieet met baie natuurlike, onverwerkte kosse.

– Was vrugte en groente deeglik

Lees nou

Trouwenke: Kies ’n geur vir jou groot dag

Nataniël oor ontslape Mandoza

Ontbytpastei vir ’n gatskop-dag