FOTO Gallo Images / Getty Images

FOTO Gallo Images / Getty Images

Gesond

Kry witter tande só

Tande wat sprankel soos wit pêrels. Ja, glo dit of nie, ’n Hollywood-glimlag gee almal ’n ekstra hupstoot in die selfvertroue-afdeling. Wil jy jou glimlag witter maak? Dís wat jy moet weet.

Hoekom is my tande geel en gevlek?

- Rooiwyn, koffie, tee, rook en selfs yster-aanvullings kan jou tande vlek.

– Met die ouderdom verweer jou tande se harde wit emalje en meer van die sagte, geel dentien daaronder is sigbaar.

– Tandsteen, ’n harde, geel, bruin of swart stof vorm as te veel plaak naby jou tandvleis saampak.

– Sommige mense het vlekke binne ’n tand wat veroorsaak is deur sekere medisyne of toe die tand kleintyd ontwikkel het.

– Die doeltreffendste manier om dit te verwyder is om dit professioneel te laat skoonmaak. Dit kan ook help as ’n mondhigiënis dit skoonmaak en poleer.

Jy kry tandepasta wat jou tande witter maak. Maar kan dit my tande beskadig?

Nee, tensy dit ’n skuurmiddel bevat wat die emalje kan beskadig. Hou net in gedagte dat tande normaalweg nie spierwit is nie. Die natuurlike kleur kan wissel van wit tot grys of geel. Indien die natuurlike kleur van jou tande na grys of geel neig, sal sulke tandepasta nie veel help nie. Dit kan slegs eksterne verkleurings (vlekke) verwyder.

 

Eet jou tande witter

Onthou die groente: Krakerige vrugte en groente soos seldery, wortels en appels maak jou tande op ’n natuurlike manier wit. Jou mond skei meer speeksel af, wat kosdeeltjies weg was sodat dit nie jou tande vlek nie. Dis ook ryk aan vitamien C, wat tandbederf help voorkom.

Hoe rooier hoe witter: Aarbeie het ’n ensiem wat ‘n natuurlike bleikmiddel is.

Goed vir jou tande óók: Spruitkool het minerale wat ’n lagie op jou tande vorm sodat die pigment van ander kosse dit nie vlek nie.

Nie net vir muise: Kaas neutraliseer die suur in jou mond, wat jou tande laat verkleur. Jogurt en melk weer, bevat melksuur wat tandbederf verminder en jou tande beskerm.

Vars soos lemoenbloeisels: Vryf ’n lemoenskil se wit kant oor jou tande. Dis ‘n natuurlike hulpmiddel vir witter tande. Of vat droë, fyngemaakte lourierblare en gedroogte lemoenskil, maak klam met bietjie water en vryf versigtig oor jou tande. Dit sal jou mond vars laat voel en jy sal die verskil binne ‘n paar weke kan sien.

Tandbleiking – Sal dit vir my werk?

– Tandbleiking is onvoorspelbaar, want elke mens se emaljestruktuur verskil, sê dr. Pieter Müssmann van Durbanville. Sommige mense se tande word net 3 skakerings ligter en by sowat 6% sien jy glad nie ’n verskil nie.

Geler tande bleik beter as gryser tande, volgens dr. Zak Schabort, ’n kosmetiese tandarts van Kaapstad. Dis omdat gryser tande op verkleuring binne die tand self dui, teenoor geler tande wat deur dinge vanuit die omgewing veroorsaak word.

– As jy jou tande nie gereeld daarna opknap nie, lyk hulle net 2 tot 3 jaar goed, verduidelik Emma King, mondhigiënis van Kaapstad. Met die tandskermmetode kan jy dit maandeliks, elke drie maande of elke jaar opknap.

– As jou tande sensitief voel, gebruik jy te veel jel, sê sy. Spoel jou mond met soutwater uit en laat dit ’n dag of twee rus. Tandepasta vir sensitiewe tande sal help vir jou tande, maar nie vir die tandvleis nie.

– Besoek gereeld ’n mondhigiënis. Hoe skoner jou tande, hoe moeiliker klou onooglike vlekke.

– Krone en stopsels bleik nie.

Ander metodes:

– Met die LED-metode (Light Emitting Diode) word die bleikmiddel met ’n koue, blou lig geaktiveer. Dit word deur ’n tandarts gedoen en duur sowat ’n uur, sê Marcel Hartman van Zoom Whitening. ’n Wang-terugtrekker (cheek retractor) hou jou mond oop. Dis nie ongemaklik nie.

– Die lig word vir 20-minute-sessies (altesaam ’n uur lank) op jou tande (met die bleikjel op) geskyn. Ná elke 20 minute word die ou jel verwyder en kan die volgende sessie begin.

– Dis gou, veilig en doeltreffend, maar duurder. (Sowat R5 000.) Jou tande kan aanvanklik sensitief voel. Vermy dan die eerste dag baie warm of koue drankies.

– Tande kan tot 9 skakerings ligter word – en tot 3 jaar lank so bly, sê mondhigiënis Emma King. Besoek jou tandarts jaarliks of elke 18 maande vir opknapping (veral as jy rook en baie tee en koffie drink).

– Vir die opknappingsproses word Zoom-produkte gebruik. Vra jou tandarts daaroor, dis gewoonlik ingesluit in die Zoom-prosedure (LED-metode) se prys.

– ’n Goeie tandeborsel kan ook daarmee help, sê Marcel. Moenie te hard borsel nie en gebruik ’n tandepasta sonder skuurmiddel (non-abrasive), anders kan jy die emalje permanent beskadig.

– Waak teen “doen-dit-self”-bleikmiddels by apteke, waarsku dr. Zak Schabort. Die wêreldwye tendens is veilige, doeltreffende en professionele tandbleiking deur ’n tandarts.

– Dit is een van die beste beleggings as jy jou gesig wil ophelder.

Dele van hierdie artikel kom uit die nuutste SARIE Bruid nóú op die rakke of koop dit hier.

sarie bruid

Lees nou

The Huffington Post South Africa is hier!

Elma Smit se nuutste avontuur