ILLUSTRASIE Maresa Pretorius

ILLUSTRASIE Maresa Pretorius

Gesond

Muskiete-jag: daarom is muskiete agter jóú bloed aan

Jy kan in ’n skare wees en die enigste muskiet in ’n omtrek van tien kilometer sal soos ’n missiel op jou afpyl. Kolskoot, elke keer!

Jou “bloed is soet”, sê ons dan.

Dalk nie so vergesog soos dit klink nie. Muskiete hét sekere “landingsvoorkeure” – en een daarvan het hoeka met jou bloed te doen.

Is jou bloedgroep tipe O? Wel, jy en jou ander O-maters deel dalk ’n neiging om ’n sekere reuk af te skei waaroor dié mini-vampiere gek is. Dis nou volgens ’n studie in die Journal of Medical Entomology.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

Die klein rakkers gee ook blykbaar voorkeur aan mense wat pas bier gedrink het. Muskiet- pleks van leeu-plesier, soos die advertensie jare gelede verkondig het? Dit het net nie dieselfde trefslag nie, nè. Ieder geval, ’n studie in Wes-Afrika het gekyk na mans wat óf bier óf water moes drink. En bier het die vrywilligers keer op keer meer aantreklik vir die muskiete gemaak, volgens die navorsing in die joernaal PLOS ONE. 

FOTO Tetra Images / Getty Images / Gallo Images

FOTO Tetra Images / Getty Images / Gallo Images

Swanger? Reg geraai, jy is muskietkos en lok twee keer soveel muskiete as jou nie-swanger susters! Vroulike muskiete (die soort wat byt) “raak hoog” op koolsuurgas. Hulle het spesiale senuwee-reseptore wat hulle help om dit in die omgewing waar te neem. Wat het dit met jou baba-boep te doen? Vroue in die later fase van swangerskap asem 21% meer koolsuurgas as normaalweg uit, volgens navorsing in die joernaal The Lancet. Maar dis nie die enigste rede nie. As jy swanger is, stel jy meer “onstabiele” (volatile) reuke vry wat insekte aantrek, sê ’n entomoloog aan Cornell-universiteit in Amerika.  Dis nie so erg soos dit klink nie! Lees meer hier.

Vir meer redes hoekom muskiete jóú altyd uitsonder, klik hier.