FOTO Designed by Freepik

FOTO Designed by Freepik

Gesond

Oefen sonder om gim toe te gaan én verloor gewig

Jy weet jy moet, maar kom net nie aan die oefen nie? Nog minder is jy lus vir gim toe gaan, al is dit een van jou Nuwejaarsvoornemens. Maar al begin jy deur daagliks net ’n bietjie meer te beweeg, sal jy beslis ’n verskil sien. En sommer die kilo’s ook een vir een afskud.

Probeer hierdie oefening en bult jou spiere – sonder sweet:

Sit of staan en fokus. Trek al jou spiere saam. Byt op jou tande, druk jou arms styf teen jou lyf, trek jou boudspiere, maagspiere, bobeenspiere en kuite saam. Krul jou tone en maak jou hande kloue. Jy moet byna begin bewe en rooi in die gesig word. Doen dit sowat ’n minuut lank. Haal asem terwyl jy dit doen. Ontspan nou. Jy sal nie glo hoe goed dit jou laat voel nie.

Doen dit ’n paar keer per dag en help jou liggaam uit die bose kringloop kom van cravings, te veel eet en gewig aansit – alles deel van insulienweerstandigheid.

Hier is nog voorbeelde van hoe jy aan’t beweeg kan kom:

Mariza van Zyl, dieetkundige van die Paarl, sê: “Loop op en af as jy op jou selfoon praat. Doen dit elke dag 10 minute lank teen ’n matige pas, en jy kan tot 4 000 kilojoules per maand verbrand. Dis ’n rapsie meer as ’n kilogram per jaar.”

Simon Phillips, persoonlike afrigter en motiveringspreker van Pretoria, sê: “Terwyl jy skottelgoed was, doen 20 kuitoefeninge. Lig jou hakke stadig tot jy op die bal van jou voete staan, hou die posisie ’n paar sekondes en laat sak. Jy kan vir balans aan die wasbak se rand vashou. Wanneer jy met wasgoed van die wasmasjien na die waslyn toe stap, doen vorentoebeenstrek-oefeninge (forward lunges). Hou jou rug regop, tree vorentoe en buig jou voorste been sodat dit ’n 90°-hoek vorm terwyl die ander een reguit bly. Kom regop en tree vorentoe met die ander been. Terwyl jy vir die mikrogolfoond wag, stut jou rug teen die muur en sak af tot jou bene in ’n 90°-sittende posisie is.”

Nerdfitness, die fiksheidswebtuiste vir minder sportiewe mense, beveel die volgende aan: Moenie sit terwyl jy aantrek nie. Staan op een been en lig die ander een op om jou skoene en broek aan te trek.

Of sit jou gunsteling-musiek aan en begin net dans. Nie net sal jy goed voel en jou lyf ’n heerlike oefensessie gee nie, maar jy sal sommer ook gelukkiger voel.

Lees nou

Die gewildste rokke by die People’s Choice Awards: JA of NEE?

Hildegardt Whites en die orrelis van Leliefontein

Só bly 3 SA bekendes natuurlik mooi