Oefen

Aktrise Odelle de Wet blog: Bali toe vir joga-inspirasie! DEEL 2

Die aktrise Odelle de Wet (beter bekend as die bose Delia van Binnelanders) is vir 26 dae in Bali op ’n joga-kursus. Sy en haar ma, wat nog altyd baie graag Bali wou sien, bly vir dié tyd in die dorpie Ubud.

Odelle blog eksklusief vir SARIE.com oor dié ervaring.

Lees die eerste aflewering van haar blog HIER.

’n Propvol tweede week agter die rug van Bali verken, tradisionele gebruike beleef, koop-koop-koop en joga-joga-joga!

Aan die een kant beleef jy die spirituele aspek van die eiland so intens met beelde, gode, rituele en offerande wat regdeur die dag voorberei en uitgesit word. Die verkoopsdame vee die geld oor haar klere as ’n dankbaarheidsgebaar: for good luck soos hulle sal sê, in die hoop dat dit positiewe energie aanwakker en meer kliënte trek.

Aan die ander kant die materiële en die armoede. Hoewel die Balinese huise betreklik groot en asemrowend is, is die mense nie materieel welvarend nie en leef hulle baie simplisties.

Die meeste inwoners maak ’n bestaan deur ’n winkeltjie met klere, houtkerfwerk of ditjies en datjies eie aan Bali voor die huis te hê. Baie is ook taxi-bestuurders.

Glenn, ’n Amerikaner wat al sedert 1999 permanent in Bali woon en toevlugsoorde (retreat centres) besit, vertel die eienaar van die stuk grond waarop sy oorde gebou is, is sy tuinman. Nogal vreemd, as jy daaraan dink.

Glenn verwys ook nooit na homself as “eienaar” of “baas” nie. In Bali wil hy ’n goeie legende, ’n gesonde aarde en omgewing agterlaat. Hy glo ook in reïnkarnasie en sê dat ons nie net die aarde vir ons kinders agterlaat nie, maar ook moontlik vir onsself – sou ons nie in dié leeftyd die lesse leer waarvoor ons gekom het nie. Laasgenoemde strook met my eie geloof.

Maandagaand het ons my ma se skoolkêrel ontmoet vir aandete. Hy het ons met ’n drywer kom haal en vandaar na die restaurant geneem. Ma en Piet het mekaar ongeveer 27 jaar gelede gesien! En wat ’n reünie in Bali van alle plekke … Hoewel ek Piet nog nooit ontmoet het nie, het dit gevoel asof ek hom al jare ken.

Maandag, Dinsdag en Woensdag was propvol joga, meditasie, tegniek asook ’n voorsmakie van Gestalt-terapie wat Matthew studeer het. Dis ’n vorm van psigoanalise ontwerp deur Fritz Perls en sy vrou. Ek vind dit ongelooflik interessant – dit rym met my drama-opleiding en ek oorweeg om myself verder daardeur te verryk.

Oefeninge sluit in om in groepe van twee te werk. Een van die twee sê kortliks wat fisiek pla en hoe dit hom/haar laat voel, soos “My kakebeen is styf en dit frustreer my. Dit laat my gefrustreerd voel”. Die ander luister en oordeel deur eerlik te sê hoe dit wat die ander sê hom/haar laat voel of beïnvloed, byvoorbeeld “Dit wat jy sê, laat my angstig of kwaad of opgewonde voel”.

Daarna het ons ’n vertroulikheidsoefening gedoen waar jou maat jou rondlei terwyl jou oë toe is. Wanneer julle stop, sê die maat jy moet jou oë oop en toe maak en dan noem wat jy sien. Daarna sê jy wat jy voel. Die maat kan of ’n objek of ’n mens voor jou plaas.

Dit plaas jou “in die oomblik”. Jy voel verantwoordelik vir die ander mens, asook sy/haar reaksie en jy sal agterkom hoe jy altyd jouself betwyfel ná jou eerste reaksie en antwoord. Ons reageer bitter min op instink en uit ’n plek van totale eerlikheid.

Donderdag ná ons joga-sessie en ontbyt het die hele groep saam na die watertempel gegaan waar ons ons koppe omtrent so 15 keer onder die water gedompel het vir seëninge.

{—–}

Saterdagoggend vroeg het ek en my ma ’n huurmotor en drywer vir sowat 500 000 rupees (om en by R500) gekry en na die houtsneewerkmark, Sukawati, die Elephant Cave en rys-terrasse gegaan.

Die Elephant Cave is die enigste plek waar die Hindoe– en Boeddhiste-tempel op één perseel is en as ’n enigheid beskou en respekteer word. Daar is geen skeiding tussen die twee op ’n spirituele vlak nie.

In die Hindoe-tempel, waar Ganesh of die Olifantgod uit klip gekerf is, is daar aan die westekant die bekende Lingam-beeld/simbool (fallus) uit klip wat dui op die
begin van lewe en die vaderfiguur, in die middel die offerandes wat dui op die genesing en ons tyd op aarde tussen geboorte en dood, begin en einde. En in die ooste is die moederfiguur/Ganesh-simbool uit klip gekerf wat dui op die einde van die lewe en wysheid.

Daar is ook ’n verbinding met die Christelike drie-enigheid: Vader, Seun en Heilige Gees; geboorte, lewe en dood.

Die dag was absoluut verrykend. Dit was inspirerend om weer te sien hoe ons almal van verskillende kulture, agtergronde en gelowe streef na dieselfde sielsverrykende lewe en hiernamaals. Ons het almal ons eie storie, maar tog lei die pad na dieselfde uiteinde … of dalk weer terug om die lesse te leer wat ons nog moet leer.

Lees die eerste aflewering van haar blog HIER.