jogaexp
Oefen

Joga – beter as wat jy dink!

Namaste! Vandag is wintersonstilstand en dié kortste dag het verbygevlieg. Het jy geweet dis ook die Verenigde Nasies se Internasionale Joga-dag? Of jy nou op jou kop kan staan of nie, as jy eers joga se gesondheidsvoordele verstaan, sal jy weet waarom so baie mense fans is van dié antieke vorm van oefening. Van Hollywood-sterre tot gewone mense.

Ons eerste Voorbladgesig-wenner, Alrie Velleman, is een van hulle. Sy het in Maart vanjaar joga begin beoefen nadat ’n vriendin dit aanbeveel het.

“Ek het baie gesukkel met angs en ’n vriendin het gesê sy dink ek moet joga probeer. Ek het dadelik ’n joga-ateljee se nommer gekry en was van die eerste dag af mal daaroor!”

20160620_165557

In ons haastige, haastige wêreld, met stres wat soos ’n plaag onder ons maai, is joga ’n doeltreffende manier om tot stilstand te kom. Sodat jou siel jou liggaam kan inhaal, om ’n ou Indiaanse gesegde te leen.

Alrie sê sy kon ’n verskil ná byna 4 maande voel. “Ek is meer bewus van hoe ek beweeg en voel, en selfs my drawwery het baie verbeter. Behalwe vir die fisieke voordele, het joga ’n baie positiewe uitwerking op my gemoed gehad. Ek voel meer connected en het geleer om na my liggaam te luister. Deesdae volg ek ook meestal ’n vegetariese dieet.”

20160620_165813

Joga is ’n reeks oefeninge so oud soos die Egiptiese sfinks – en dít is sowat 5 000 jaar. Die tydskrif Time het al geskryf joga kan die mediese wonderwerk van die toekoms wees. Of pure wensdenkery. Die navorsing wat gereeld in mediese joernale verskyn oor die gesondheidsvoordele daarvan, wys dis waarskynlik méér as net in jou kop.

Daar is ook verskillende tipes joga vir elke lyf en persoonlikheid.

Hatha, aan te beveel vir beginners, is stadig en fokus op strek en om die posisie te behou; Ashtanga is vinnig en daag jou fisiek uit; Kundalini, ’n meer spirituele ervaring, verwag meditasie en dreunsang; en Vinyasa gaan oor die sinchronisering van beweging en asemhaling. Met Bikram word die vertrek kunsmatig verhit (sowat 40 °C), en jy sweet soos nog nooit vantevore nie.

Binne vier maande het Alrie al baie oor haarself deur joga geleer.

“Die belangrikste goed wat ek geleer het, is om mooi met myself te werk, na my liggaam te luister en geduldig te wees. Ek kan byna op my kop staan! SARIE sal die eerste wees om te weet as ek die headstand vir ’n minuut kan hou!”

20160620_165413

Charis van den Heever, SARIE se skoonheidsredakteur, doen al byna agt jaar joga. Sy het afgeskop met Hatha en doen deesdae Ashtanga (’n kragtige vorm met ’n vasgestelde reeks bewegings waar jy van die een posisie na die ander vloei).

Die krygsmanposisie help om jou arms en bene sterker te maak. FOTO: Phyllis Green, geneem in die James and Ethel Gray Park, Johannesburg

Die krygsmanposisie help om jou arms en bene sterker te maak. FOTO Phyllis Green, geneem in die James and Ethel Gray Park, Johannesburg

“Daar is niks soos joga om jou spanningsvlakke onmiddellik te laat daal nie. Omdat jy diep moet  asemhaal én daarop moet konsentreer, dwing dit jou om in die oomblik te wees en kalm te raak. Wanneer ek gereeld joga doen, is ek in die algemeen rustiger en meer gefokus.

“My figuur was van jongs af nogal vorentoe geboë. En nou is ek kiertsregop. Ek kan dit self eintlik nie glo nie. En hoewel ek nie gewig verloor het nie, is ek fermer en my spiere beter gedefinieer. Ek het nog nooit so goed in my lyf gevoel nie. Ek voel sterker en baie meer soepel as in my tienerjare en vroeë twintigs.’’

Haar wenke

• Spring weg met ’n beginnerklas waar die instrukteur jou presies wys wat om te doen. Joga is tegnies en dis belangrik om uit die staanspoor te leer waar jou voete, hande en arms moet wees. En hoe om asem te haal terwyl jy die verskillende oefeninge doen.

• Beproef verskillende vorms van joga totdat jy ’n soort kry waarvan jy hou en waarmee jy sal kan volhou.

• Daar is wonderlike video’s op die internet waarop instrukteurs presies verduidelik hoe om sekere oefeninge te doen. Sien dit as ekstra hulp. “Sedert ek dit doen, het my joga drasties verbeter,” sê sy.

Lees meer oor joga HIER