FOTO: Minette de Villiers

FOTO: Minette de Villiers

Oefen

Van sofapokkel tot ystervrou – Venette de Wet se verhaal

Daar is nie nóg so ’n resies in die wêreld nie. En Venette de Wet, eens ’n gewigtige 92 kg, het dit voltooi.

Sy het haar naels spesiaal rooi geverf vir die okkasie. Maar kort voor sy moes wegspring, kou sy daai einste naels. En die trane loop. Toe bulder die kanon en sy storm saam met 1 799 ander atlete die see in. Dis voor sonopkoms op Hobiestrand in Port Elizabeth. Die 2013-Ysterman-kompetisie … nie ’n resies vir sissies nie. Jy swem 3,8 km in die see, gevolg deur 180,2 km se fietsry en ’n marathon oor 42,2 km.

En Venette de Wet (33), ma van twee en eens ’n sware 92 kg, is dáár.

Hier is haar storie.

“Ek was nog altyd ’n pokkel – ’n hokkiespeler eerder as ’n fyngeboude landloop-atleet. Ek onthou hoe mnr. Sharp in st. 4 [gr. 6] altyd die landloop-atlete om die rugbyveld laat hardloop het. Ek wou ook, maar my bors het ná 200 m so gebrand dat ek maar een keer skuifel-skuifel om die baan gekruie het.

Op kosskool aan die Hoërskool Brandwag op Uitenhage was die begeerte steeds daar, maar ek het my atletiekdroom weggebêre onder my Wilson-raket en Grays-hokkiestok. Ek was die ondersteuner, cheerleader, die een met die groot mond. Ek het probeer naam maak met diskusgooi en gewigstoot. Maar mnr. Jonck, die atletiekonnie, het my nie eens raakgesien nie.

By die Hugenote Kollege op Wellington, waar ek maatskaplike werk studeer het, is alle atletiese drome begrawe onder pizza-skywe, romerige pasta en straatkafee- specials. Die woord ‘oefening’ was in spinnerakke toegeweef.

Ná die geboorte van Isabella (3), my tweede kind, was k ’n gewigtige 92 kg. Jy is darem nou lekker dik, het ek in ’n stadium gedink. En summier gesonder begin eet en saam met ’n kollega begin stap. Ek het byna gesterf en na asem gehyg. Ek het nie eens drafskoene gehad nie! Soms moes ons stop sodat ek eers kon rus. Dit het ons byna twee uur geneem om 5 km te loop. Maar ek het 5 kg in vyf weke verloor.

Dis in dié stadium, drie jaar gelede, dat my baas my by die afrolmasjien kry. (Ek werk by ’n prokureursfirma in Bellville in die Kaap.) ‘So, wanneer gaan jy inskryf vir die Argus?’ vra hy. Hy het dit vanjaar die veertiende keer gery. Ek grinnik: ‘Hoe ver issit?’ Hy antwoord koeltjies: ‘109 km.’ ‘Is jy nou mal? Geen normale mens ry 100 km op ’n fiets nie!’

Daar is ’n ritseling in my gemoed, die
spinnerakke begin beweeg. Ek stap terug na
my lessenaar en google ‘Argus Cycle Tour’.
Skakel die nommer wat gegee word met
my poffertjie-vingers. ‘Pedal Power, good
morning,’ antwoord die vrou aan die ander
kant. Teen dié tyd klop my hart woes. ‘Ek moet inskryf
vir die Argus.’ ‘M’am, it’s the 6th of November, entries closed and we are sold out – I am sorry.’ Haar woorde skeel my min. ‘Nee dame, jy verstaan nie. Ek móét die Argus doen. Ek móét.’ Die girl besef daar is nie omdraai met dié robuuste Afrikaanse vrou nie. ‘Okay, I tell you what, fax me your details, send me proof of payment (R400!) and you have an entry.’ ’n Uur later stap ek by my baas se kantoor in. ‘Oukei, ek het nou vir die Argus ingeskryf – het jy dalk vir my ’n fiets?’ Sy oë lyk soos twee pierings. Die spinnerakke skeur oop en die stof spat. Dit is vyf maande voor die Argus.

Ek het niks van fietsry geweet nie. Maar ek het ’n sterk wil.

’n Maand later ry ek Die Burger se fietstoer, 44 km met ’n geleende bergfiets, nogal. Ek het nie ’n fietsrybroek gehad nie – nie geweet daar bestaan so iets nie – en kon daarna nie sit nie. Maar ek het dit klaargemaak.

Toe ek oor daai wenstreep ry, het ek soos ’n baba gehuil. Dit was ’n oorwinning.

Tóé eers het ek my eerste padfiets aangeskaf. Ek onthou die oom by wie ek dit gekoop het, het my só gekyk. Ek was nog lekker rond. Maar stap het intussen drafstap geword. Die kilogramme het bietjies-bietjies afgeval en ek het al hoe meer gehou van wat ek sien. En hoe ek voel.

My eerste Argus, awesome! Uit onkunde het ek ’n bietjie ontwater; ek het tydens die rit niks geëet of gedrink nie, nêrens gestop nie. Ek was op ’n missie. Ek ry die Argus! Daarna het my lyf van kop tot toon gepyn, maar dit was ’n lekker pyn. ’n Oorwinningspyn.

Abri, my man, ook ’n sofapokkel, het intussen saam met my begin fietsry. Hy het 20 kg afgeskud en vanjaar saam met my die Argus gery. Dit was heerlik. Sy hele lewensuitkyk het positief verander. Ons oefen graag saam. Alexander (6), my oudste, het vanjaar die junior Argus gery (5 km).

Ek maak ook ’n kopskuif met kos. Ek is lief vir lekker eet. Soesji, red velvet cupcakes. En soms bederf ek myself steeds. Maar ek probeer om myself nie met kos te beloon nie. Eerder ’n fliek, ’n mooi kledingstuk. Ek het ook geleer die regte dieet vul my oefenprogram aan.

Ek het nou drie keer die Argus voltooi, sewe half- marathonne, een marathon en twee keer ’n driekamp.

Twee dinge wat uitstaan: Ek is sowat ’n jaar gelede met aandagafleibaarheid gediagnoseer en neem nou medikasie daarvoor. Dit help my net soveel beter op doelwitte fokus. Nog ’n droom is om ’n motiveringspreker te wees. Met dit in gedagte het ek so ’n jaar gelede by Toastmasters aangesluit. As jy jou toesprake voorberei, help dit om jou gedagtes te orden, te fokus.

Die Ysterman – die voorbereiding daarvoor is ’n perd van ’n ander kleur. Jy volg vyf maande lank ’n oefenprogram, drie maande baie intensief. Januarie is jy nog vuur en vlam. Hier teen Maart, wanneer jy twee sportsoorte kombineer [soos draf en fietsry op een dag], begin jy wonder of dit alles die moeite werd is.

Ek lees boeke, swerf op die internet om te leer hoe om daarvoor voor te berei. Dit verg algehele toewyding. ‘Dis my droom, sien jy kans,’ sê ek in die begin vir Abri. ‘Ek moet weet jy is agter my. Ek sal probeer dat dit nie met ons gesinstyd inmeng nie.’

As die kinders soggens om halfsewe opstaan, is my
eerste oefensessie reeds agter die rug. Middagete oefen ek. En vanaand ná agt, wanneer die kinders slaap, oefen ek weer. Abri klim in die bed met ’n boek. Hardloop was die moeilikste. Omdat ek dit nog nie vantevore gedoen het nie, het ek nie die spiergeheue gehad nie. Maar
 dis ook die bevredigendste.

n Terugslag. Een Vrydagmiddag besoek ek die dokter vir ’n roetine-ondersoek. Ek babbel, totdat hy skielik vra of ek onlangs pyn op my bors gehad het. En ’n linkerarm wat lam was. Dit lyk asof ek onlangs ’n ligte hartaanval gehad het, moontlik terwyl ek geoefen het. Wát! Waar’s die Disprin? Ek moet Sondag die Skiereiland-marathon hardloop!

Vyf dae van geen oefen nie kruip verby en
dan is dit tyd vir my afspraak by die kardioloog. Hy vra meer vrae as Johan Stemmet op Noot vir Noot! Ons voel daarna byna soos familie. Die uitslag: ‘Mev. de Wet, jy is so reg soos ’n roer. Die EKG van vyf dae gelede en vandag s’n stem glad nie ooreen nie.’ Ek kan voortgaan met my maltrap-oefening!

‘Besef jy wat jy aan jou lyf doen?’ vra die kardioloog. ‘’n Halfmarathon is oukei, maar die Ysterman?’ Ek sê: ‘Dokter, ek sal my daaroor bekommer as ek met die Ysterman klaar is.’ ‘Sorg dat jou kop reg is,’ is sy laaste stukkie raad. En dit doen ek. Ek luister na opbouende musiek met ’n vinnige tempo wanneer ek oefen. Lees motiveringsboeke. Omring my met positiewe mense.

Die groot dag. Abri vertel later ek het soos ’n pieringoog- meerkat op die strand gestaan – gefokus, opgewonde …
en ongelooflik naar. Die volkslied speel en die trane loop vrylik: Hier is dit nou, Venette. Dit waaroor jy altyd gedroom het. Dit raak stil om my, die klein kanon bulder …

Sowat 300 m die see in skop iemand my swembril af. Dis ’n maalkolk en ek sukkel om my ritme te kry. Ná 1,9 km is die eerste lus voltooi, ek is terug op die strand. ‘What’s the time?’ skree ek vir ’n atleet langs my. ‘Forty minutes,’ kom die Amerikaanse aksent. Ek gly weer die see in, bereik die laaste baken en beweeg saam met die branders strand toe.

FOTO'S: Verskaf

FOTO’S: Verskaf

‘Time?’ gil ek weer. ‘One hour twenty three in total,’ kom die Franse aksent. Ek spring onder die stort in om die sout af te spoel.

Ek sien Abri in die skare. Hy tuur die verte in, op soek na sy vrou tussen die branders. ‘Hier’s ek, Liefie,’ skree ek. Sy gesig lyk soos dié van ’n trotse pa. ‘Wow! Pragtig! Go go!’ jil hy. Ek prop ’n energielekker in my mond en gaan gryp my fiets …

Die ondersteuning langs die pad is fenomenaal – oud, jonk, groot, klein skreeu jou naam en motiveer jou. Sewe uur later strompel ek by die oorgangstent in. My skouers voel vermink. Daar staan ’n vrou met ’n bottel olie. ‘I do massages – how can I help you?’ ‘Shoulders … help me, please,’ hyg ek. Sewe minute lank vryf die engel my seer spiere. Niemand praat nie, almal fokus op die foltering vorentoe.

Dis vyfuur die middag toe ek stadig begin draf. Ek
sien die ander atlete se gesigte … sommige skuifel, ander hardloop gefokus. Waar kry hulle die krag? Ná 10 km
sien ek vir André (een van my base). Sy resiesnommer
hang soos ’n slap noedel om sy heupe. Die blinde atleet en motiveringspreker, Hein Wagner, hardloop saam met sy gids verby. ’n Skoolpêl, Brendon, beland langs my. ‘Komaan, Netta, bly by my. Ons vat dit stadig.’ Daar
is nog 29 km oor … ‘Beer, ek kan nie meer hardloop nie. Ek gaan power walk – gaan jy maar.’ Ek wil huil, maar het nie trane nie.

Ek wil opgooi, maar my maag is leeg. As ek nog een glasie Coke drink, skiet ek katte!

Die son het al lankal gesak en dis bitter donker. Ek beland langs ’n man … ek sien nie sy gesig nie. ‘Hoe voel jy?’ vra hy. Ek sien sy nommer en naam, Ollie. Hallusineer ek nou of is dit Ollie le Roux, die oud-Springbok-rugbyspeler? ‘Ek kan nie meer nie,’ prewel ek. ‘Natuurlik kan jy! Komaan, kom loop saam met my.’ Ons skuifel stadig vorentoe. Ollie val terug en wens my voorspoed toe. Nog
10 km … Daar is niemand naby my nie. Is ek laaste? Dis dan nou eers twintig oor tien. Waar is almal? Ek huil.

Skielik is daar nog ’n moeë siel langs my. ‘Jy hoef nie met my te praat nie, maar ek gaan nou die laaste paar kilometer loop. Jy is welkom om dit saam met my te doen.’ Haar naam is Michelle en dis haar vyfde Ysterman. By die 38 km-merk sê sy sy wil die resies onder 16 uur voltooi. Sy stel voor ons druk onsself ’n bietjie harder. Ek het niks meer oor om te druk nie en groet haar.

Nog 200 m oor en ek hardloop tussen die skare in. Dit waaroor ek gedroom het, jare lank. Oorverdowende musiek, verblindende ligte en die groot rooi horlosie … 15h59 … Paul Kaye, sportkommentator en self ’n Ysterman, bulder
in sy bekende stem – ‘Venette, you are an Iron Man!’ Ek spring in die lug en wil gelyk huil en lag. Ek is oorstelp van vreugde en val duiselig in my man se arms. Blaas ’n soen in die lug op. ‘I love you, Lord!’ Die afsnypunt is 17 uur.

Dis twee maande ná die Ysterman-kompetisie. Ek sal dit weer doen. Want weet julle wat: Ek kan myself uiteindelik ’n atleet noem …”

*Die artikel het oorspronklik in die September 2013-uitgawe van SARIE verskyn.