FOTO Instagram / @karliekloss

Dieet

Ons beantwoord jou 50 gewigsverlies-vrae (deel 1)

Twitter doen dit in 140 woorde. Ons dieetkundiges, Mariza, Suna, Martie en Suzelle, is nog meer kripties en beantwoord jou mees algemene vrae oor gewigsverlies in minder as 25 woorde.

Wêreldwyd is daar ’n debat oor koskeuses. Eers was vet die vyand. Nou suiker. Maar wag, sommige kenners sal steeds hand op die hart sweer dis als vet se skuld. En ons, die gewone ouens, voel dikwels soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartie-boks. Hier, in ’n neutedop, is ’n kort en kragtige antwoord op al jou gewigsverlies-kwellinge.

 FOTO Instagram / @karliekloss

FOTO Instagram / @karliekloss

1. Wat moet ek eerste doen wanneer ek soggens opstaan?

Mariza: Strek soos ’n kat – dit het baie gesondheidsvoordele – en drink dan ’n glas water.

2. Ek is altyd ná ete lus vir nagereg. Moet ek?

Mariza: Geneties moet party mense daai soet knoppie druk om versadig te voel: eet ’n klein suiglekker, of vrugtegebaseerde nagereg, of teelepel heuning.

3. Ek hoor vrugte het baie suiker. Hoeveel moet ek eet?

Suna: Vrugte bevat natuurlike suiker, vesel, vitamiene en minerale. Probeer 2-4 per dag eet. Los die vrugtesap.

4. Wat is die belangrikste vir gewigsverlies? Die hoeveelheid of gehalte (soort) kilojoules (kJ)?

Mariza: Gehalte word toenemend beklemtoon. Só verander die soort voer ’n dier se vetsamestelling. Kies grasvoer- bo voerkraaldiere.

5. Ek gaan slaap vroeg maar is steeds te moeg om te oefen.

Mariza: Gaan vir toetse vir ’n gebrek aan yster of vitamien B12.

Suna: Doen kort sarsies oefening, klim byvoorbeeld trappe en los die hysbak.

FOTO Instagram @abikiniday

FOTO Instagram / @abikiniday

6. Is groentetjips gesond?

Suna: Net omdat dit groente is, beteken dit nie dis gesond nie. Dit kan baie vet en sout bevat, kyk op die etiket.

7. Is alle vis gesond?

Suna: Ja. Witvis (stokvis, koningklip) is laag in vet. Olierige soorte (tuna, salm, sardyne) is hoog in “goeie” vet, omega 3.

8. Is energiestafies goed vir my?

Mariza: Die meeste energiestafies bevat baie suiker. Eet liefs rou neute en ’n vrug of gekookte eier.

9. Wat van koffie?

Suna: Navorsing wys dit het gesondheidsvoordele. Drink 2-3 koppies per dag, verkieslik sonder melk en suiker.

10. Wanneer is bruinbrood gesonder as witbrood?

Suna: As al jou inkopies bo-op die brood in die trollie beland en dit duik nie in nie.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

11. Sop of slaai?

Suna: Albei is so gesond soos die bestanddele waarvan dit gemaak is.

12. Verdrink my geld in al daardie fensie water?

Mariza: Koop liefs ’n goeie waterfiltreerder en vul jou waterbottel – verkieslik van glas – met gefiltreerde kraanwater.

13. Botter of margarien?

Mariza: Botter in klein hoeveelhede. Maak sag met olyfolie.

14. Is heuning beter as suiker?

Mariza: Heuning proe soeter en jy gaan dus minder gebruik.

15. En die versoeter agave?

Suna: Dis soeter as suiker en dus gebruik jy minder, maar hoog in fruktose wat al aan gesondheidsprobleme gekoppel is.

CV

FOTO Unsplash / Brooke Cagle

16. Wat is die gesondste neut?

Suzelle: Rou amandels, ryk aan antioksidante en kalsium. Dis ook ’n goeie kombinasie van omega 3-vette, vesel en plantaardige proteïen.

17. Moet ek eiergeel eet?

Suzelle: Ja, dit bevat van die eier se voedingswaarde.

18. Pinto-, nier- en snyboontjies. Is alle bone dieselfde?

Mariza: Kleur in die natuur dui gewoonlik die antioksidant-inhoud aan. Kies donkerswart en pers bo wit.

19. Wat is die sleutel tot die eet van proteïen?

Suzelle: Versprei deur die dag om jou aptyt in toom te hou. Kies maerder opsies.

FOTO Unsplash / Brooke Cagle

FOTO Unsplash / Brooke Cagle

20. Wat is die beste drankie (nie-water) vir gewigsverlies?

Rooibostee, ook lekker koud. Dit verminder streshormone, ’n sneller vir honger en die stoor van vet. Bron: time.com

21. Wat is die storie met gluten?

Mariza: Meer mense is deesdae sensitief daarvoor weens die prosessering van meel wat ’n wanbalans van die dermflora kan veroorsaak. Vermy en kyk of dermongemak verbeter.

22. Is vas ’n goeie manier om gewig te verloor?

Mariza: Dit hang af hoe jy “vas”. Dit maak sin om byvoorbeeld geprosesseerde kosse te los en meer groente te eet en water te drink.

23. Wat beteken die woord “natuurlik” op ’n kos-etiket nou eintlik?

Suzelle: Geen kunsmatige bestanddele en preserveermiddels is bygevoeg nie en daar was die minimum verwerking.

24. Wat kan ek by my smoothie voeg om dit gesonder te maak?

Suzelle: 1-2 teelepels hawersemels. Dit verhoog die meer oplosbare vesel en hou jou langer versadig.

Mariza: Ook psilliumvesel of gemaalde vlassaad.

25. Moet ek organiese produkte koop?

Suzelle: Dit het nie noodwendig meer voedingswaarde nie. Maar minder plaagdoders.

Ons geregistreerde dieetkundiges

Mariza van Zyl van die Paarl en skrywer van Dik vir Dieet (Naledi)

Dr. Suna Kassier, Universiteit van KwaZulu-Natal

Dr. Martie de Wet, Randburg

Suzelle Viljoen, Sandton, Johannesburg

Lees nou

Tatoe nie meer taboe, vra vir Justin Bieber

SA vrou skitter in internasionale veldtog

Die 10 gelukkigste lande is …