FOTO Unsplash / Sokolof Lingerie

Dieet

Ons beantwoord jou 50 gewigsverlies-vrae (deel 2)

Twitter doen dit in 140 woorde. Ons dieetkundiges, Mariza, Suna, Martie en Suzelle, is nog meer kripties en beantwoord jou mees algemene vrae oor gewigsverlies in minder as 25 woorde.

Wêreldwyd is daar ’n debat oor koskeuses. Eers was vet die vyand. Nou suiker. Maar wag, sommige kenners sal steeds hand op die hart sweer dis als vet se skuld. En ons, die gewone ouens, voel dikwels soos ’n verkleurmannetjie op ’n Smartie-boks. Hier, in ’n neutedop, is ’n kort en kragtige antwoord op al jou gewigsverlies-kwellinge.

Vir deel 1 klik hier.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

26. Waar/onwaar: Sjokolade is gesond.

Suna Donkersjokolade (minstens 70%-kakao) het gesondheidsvoordele, maar bevat ook vet en suiker. Eet ’n paar blokkies af en toe.

27. Kan dieetkoeldrank my regtig vet maak?

Suzelle: As jy dikwels kunsmatige versoeters gebruik, kan dit jou lus vir koolhidrate prikkel, het navorsers bevind.

28. Wat is die beste manier om gesonde kos in ’n restaurant te bestel?

Suzelle: Vermy die broodmandjie en oliegebraaide kosse. Vra vir souse apart, aangesien dit gewoonlik baie vet bevat.

29. Hoe motiveer ek myself om gim toe te gaan?

Suzelle: Sit oefenklere in die motor en gaan direk ná werk. Doen iets wat jy geniet en kry ’n oefenmaat.

30. Wat is die beste bron van vesel?

Mariza: Kies ’n variasie. Meer oplosbaar (hawermout, lensies, bone), minder oplosbaar (koring) en “weerstandig” (uie, amandels, piesang, knoffel).

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

31. Is groente gesonder vars as gevries?

Mariza: Bevriesing bewaar sekere voedingstowwe, veral vitamiene. Dis ’n goeie keuse as vars produkte nie beskikbaar is nie.

32. Hoe vermy ek ’n gedagtelose gepeusel?

Mariza:  Eet bewustelik. Ruik/proe/voel/sien elke mond vol en waardeer dit.

33. Hoe eet ek ’n paar kJ minder per dag?

Mariza: Vermy verfynde en verwerkte kossoorte. Maak helfte van jou bord vol groente – veral rougroente-slaaie.

34. Melk moet mos vetvry wees, anders maak dit vet?

Mariza: Dit hang af van jou genetiese samestelling – of jy sensitief is vir versadigde vet.

35. Hoe spaar ek geld in ’n supermark?

Mariza: Loop net in die buitenste gange waar die vars produkte/suiwel/vleis/hoender/vis ens. gehou word. Bly weg as jy honger en moeg is.

36. Hoe kan ek my metabolisme ’n hupstoot gee?

Mariza: Flink oefening. Sowat 24 uur ná ’n halfuur lange oefensessie is jou metabolisme steeds vinniger, wys navorsing.

FOTO Unsplash

FOTO Unsplash

37. Watter hawermout moet ek eet?

Mariza: Heelkorrel- of sogenaamde steelcut-hawermout. Vermy die kitsproduk.

38. Wat is die gesondste geurmiddel?

Mosterd. As deel van die kruisdraende plantfamilie (soos broccoli, kool, blomkool, radyse) kan dit dalk jou risiko vir kanker verlaag. Bron: webmd.com

39. Wat is die een gewigsverliesaanvulling wat ek moet neem?

Mariza: So ’n wondermiddel bestaan nie. Anders was oorgewig nie ’n epidemie nie.

40. Wat is die grootste bedreiging vir my figuur?

Mariza: Onaktiwiteit en ’n swak postuur saam met ’n eetpatroon wat nie by jou lyf pas nie.

41. Wat is die een kossoort wat ek moet inkry, maar waarskynlik nie eet nie?

Mariza: Groente, al die kleure van die reënboog. Aartappel/pampoen/ patat/botterskorsie tel nie – dis styselgroentes.

42. Wat is die belangrikste kosvoorneme wat ek moet maak?

Martie Beplan jou maaltye en jou dag.

FOTO: Unsplash / London Scout

FOTO Unsplash

43. Sal kougom vir my koscraving help?

Martie: Studies weerspreek mekaar, dus is daar nie ’n klinkklare ja of nee nie. Fokus eerder op ’n gesonde leefstyl en eetgewoontes.

44. Is slaap inderdaad so belangrik vir gewigsverlies?

Martie: Ja, te min slaap verhoog jou kortisolvlakke, ’n hormoon wat onder meer aptyt reguleer.

45. Gaan dit my regtig help om gewig te verloor as ek stadiger eet?

Martie: Ja. Mense wat stadiger eet, eet meer bewustelik. Jou brein kry ook jou maag se boodskap dat jy versadig is.

46. Moet ek my pizza klad om die vet te absorbeer?

Martie:  Sit groente eerder as vetterige vleis en minder kaas daarop. Of eet ’n groot bak slaai en ’n skyfie pizza, geklad.

47. Hoe dikwels moet ek myself weeg?

Martie: Ken jouself. Help dit met gewigsverlies as jy dit elke dag doen of juis nie? Weeg jou dan net een keer per week.

48. Wat is die grootste gewigsverliesfout?

Martie: As jy jou uithonger, eet jy meer en minder slim wanneer jy wel eet.

49. Moet ek honger bed toe gaan vir gewigsverlies?

Martie:  Nee. Eet gereeld, aandete min of meer dieselfde tyd en dan nie te

veel nie.

50. Is alle koolhidrate sleg?

Martie: Daar is niks verkeerd met onverwerkte en onverfynde koolhidrate in klein hoeveelhede nie.

FOTO: Unsplash

FOTO Unsplash

KONTAK

Mariza van Zyl 021 872 8423, www.bettereat.net

Dr. Martie de Wet 011 215 7210, martie@nutri4life.co.za

Suzelle Viljoen 072 724 9458, zeljoen@gmail.com